Hoe om meer as een tuiste in jou hart te dra

16/10/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Hoe om meer as een tuiste in jou hart te dra

Ané Sieberhagen skryf: Ek het vir my uitstalling, genaamd Van Afrika tot Amsterdam – Waar stories grense oorsteek en harte aanraak, by Afrikaans is Lekker 2025 in die Amsterdam Theater, ’n hele reeks foto’s en stories saamgestel.

Hierdie uitstalling het ontstaan uit my verlange om twee wêrelde – Suid-Afrika en Nederland — bymekaar te bring in een storie. Dis nie net foto’s nie; dis gevoel, klank en herinnering wat saamvloei.

Ek wou hê mense moes dit beleef, nie net sien nie. Elke besoeker het met oorfone na ’n lied geluister wat met ’n foto verbind is. Terwyl die musiek speel, kyk jy … jy voel … jy raak deel van die oomblik. Wanneer die laaste noot wegsterf, ontvang jy die storie agter die beeld – die emosie, die betekenis, die stem daaragter.

Dis ’n reis wat jou laat proe aan Suid-Afrika, asemhaal in Nederland en voel hoe die grense tussen plekke en mense begin vervaag. Ek wou hê dat, terwyl mense kyk en luister, hulle vir ’n oomblik vasgevang sou word in daardie stil, lewende ruimte tussen twee wêrelde.

Hiermee die eerste foto en storie:

Luister na – Jou Huis – Elvis Blue en Theuns Jordaan
Nes net ’n Suid-Afrikaanse kind kan … 
kaalvoet in die hartjie van Utrecht.
Oumas in die verbygaan stop en sê, met ’n effense kwaai gesig:
“Pas op voor glas!”

Maar ons weet: dis nie nalatigheid nie,
dis nalatenskap.
Eelte op die voete, vryheid in die tone.

Agter hulle … is The Lekker Store.
’n Klein stukkie Suid-Afrika in ’n bekende Nederlandse straat.
Waar dit ruik na huis,
na boereworsrolle wat herinneringe braai,
vetkoek met “chutney” wat warm lê op die tong,
Fizzers wat tande trek,
en groen Cream Soda wat borrel soos kinderdae.

Koeksisters. Flings. Simba Chips.
Daardie geur wat net mense van die Suide sal herken.

Maar dis meer as net kos.
Dis troos vir ouers wat moes groet by ’n lughawe.
Dis stemme wat kraak deur trane: 
“My kind, onthou wie jy is.”

Dis die moed om elders oor te begin,
nie uit wil nie, maar uit nood.

En nou staan hulle hier,
kinders tussen wêrelde.
Springboktruie oor hul skouers, groot glimlagte op hul gesigte.
Hulle tel in Nederlands, maar droom in Afrikaans.
Hulle speel in die reën, maar verlang na die son.
Hulle leer floreer,
selfs al bly ’n deel van hulle altyd dáár.

Dis nie altyd maklik nie.
Nie vir die ma wat die aksent in haar kind se stem begin hoor nie.
Nie vir die ouma wat net deur ’n skerm kan groet nie.
Nie vir die hart wat in twee rigtings klop nie.

Maar dis ook mooi.

Want tussen hierdie twee wêrelde leer ons kinders
iets wat min mense ooit hoef te leer:
Hoe om meer as een tuiste in jou hart te dra.

Hierdie treffende oomblik, kaalvoetkinders in die hartjie van Utrecht, is vasgevang deur Picture Poetry Photography en gedeel op sosiale media saam met The Lekker Store.
Wat vir baie net ’n foto is, het vir duisende Suid-Afrikaners in die buiteland soos huis gevoel.

Want in daardie beeld is alles opgesluit, die herinnering aan wie ons is en die klein, bekende dinge wat ons verbind, selfs wanneer ons ver is.
Ons deel hierdie pragtige oomblik met hul toestemming en erkenning, as huldeblyk aan elke Suid-Afrikaanse gesin wat êrens tussen “hier” en “daar” leef.

Presies vir hierdie mense, vir hierdie stories, bestaan AfriForum Wêreldwyd.
Om vir Suid-Afrikaners in die buiteland ’n tuiskomplek te wees:
’n plek waar hulle in hul eie taal kan lees, lag en huil,
waar hulle mekaar se stories vind en mekaar onthou.

Of jy in Utrecht, Londen of Toronto woon, AfriForum Wêreldwyd bring ons mense bymekaar.

Ons deel verhale van verlange en hoop,
ons vier kultuur, taal en familie,
en ons herinner ons mense daaraan dat jy jou wortels nie hoef te verloor om elders te groei nie.

Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.

Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Deel op

Nuutste artikels