Hoe verskil die skoolstelsel in die buiteland van dié in Suid-Afrika?
Hoe Suid-Afrikaanse gesinne wêreldwyd onderwys ervaar
Onderwysstelsels oor die wêreld heen verskil. Afrikaanse gesinne wat in die buiteland woon, ervaar hierdie verskille op ’n persoonlike vlak. Die ervarings van Suid-Afrikaanse families in lande soos China, Nieu-Seeland, Noord-Ciprus, Australië, en vele ander, bied ’n fassinerende blik op hoe die wêreld se kinders opgelei word en hoe kulturele verskille die onderwys beïnvloed.
Ons Wêreldwyd-vriende het hul persoonlike ervarings gedeel oor hoe skole in hul nuwe lande werk, en hoe dit vergelyk met die onderwysstelsel waarmee hulle grootgeword het in Suid-Afrika.
China
China is ’n baie ambisieuse land wat baie meeding met Amerika. Hulle plaas onderrig heel bo aan hulle prioriteitslys omdat die land se jongmense hulle kan help om Amerika verby te steek. Die Chinese mense betaal duur om hulle kinders van so jonk as drie jaar oud in internasionale skole te sit om Engels te kan leer praat en te verstaan. Hulle laat hul kinders kurrikulums van Amerika, die Verenigde Koninkryk en Kanada volg sodat hulle ná skool oorsee kan gaan studeer. Daar is nie veel tyd vir buitemuurse aktiwiteite vir laer- en hoërskoolkinders nie, want die meeste van hulle gaan skool tot 22:00 saans en selfs ook gedurende naweke. – Francois Bodenstein
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit China – AfriForum Wêreldwyd
Nieu-Seeland
Dit is baie anders hier. Daar is baie minder druk op kinders om tonne huiswerk te doen ná skool en hulle is baie meer interaktief. Die kinders het al van sewejarige ouderdom af hul eie skootrekenaars en gebruik dit daagliks gedurende klas. Hulle doen baie meer praktiese oefeninge en daar word fokus geplaas op individue en persoonlike aandag.
Sport en aktiwiteite is ook anders hier en die fokus op atletiek byvoorbeeld nie so groot nie, alhoewel hulle baie ander sportsoorte hier het. Hulle hou ook baie van uitstappies en aktiwiteite buite in die natuur.
Daar is ook nie skoolgeld wat betaal moet word nie, hulle noem dit “donasies”. Die bedrag is ook redelik en ons betaal dit met ’n glimlag. – Henry Merrick wat in Nieu-Seeland woon.
Lees die artikel: Uit en tuis met Wêreldwyd: Henry Merrick – Die lewe in Nieu-Seeland – AfriForum Wêreldwyd
Die skoolstelsel verskil soos dag en nag. Dit het ons omtrent twee jaar geneem om aan die stelsel gewoond te raak. In kleuterskole fokus hulle meer op speelgebaseerde leer, en daar is geen werksvelle of assesserings nie. Daar is bitter min laer- en hoërskole wat skoolfonds hef – die meeste skole in Nieu-Seeland is gratis. Op laerskool het die leerders slegs drie vakke tot en met graad 5 (jaar 6) naamlik, lees, skryf en ondersoek (reading, writing en inquiry). Daar is assesserings op laerskool, maar kinders mag nie teruggehou word nie, tensy die ouers voel dat hulle die kinders wil terughou. In graad 6 en 7 kry die kinders tegnologie as ’n vak by, waar hulle leer om te kook, naaldwerk te doen, te kodeer en ook houtwerk te doen. Op hoërskool werk dit baie soos Suid-Afrika, maar daar is minder toetse en eksamens. Daar is ook geen detensies nie en bitter min nagevolge vir leerders se aksies. – Sené de Waal, wat in Nieu-Seeland woon
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland
Noord-Ciprus
Dis totaal en al anders. Die Europese sisteem is baie minder assesseringsgedrewe en daar word meer onderskei tussen elke student se individuele sterkpunte en fokusareas. Dit bied ’n minder admin-intensiewe werksplek in terme van papierwerk, maar daar is baie meer aktiewe betrokkenheid in elke kind se persoonlike ontwikkeling. Ek verkies dit, want daar word nie net geassesseer vir die doel om te assesseer nie, maar elke aktiwiteit het ’n doel. Met dit gesê, ervaar ek dat die kinders in die Suid-Afrikaanse skoolsisteem heelwat meer gevorderd is, moontlik omdat hulle alreeds hierdie assesseringsgedrewe sisteem gewoond is. Noem ’n toets vir die kinders hier en sewe van hulle kap om, drie bel hulle ouers en die res begin huil. – DM de Kock van Komatipoort wat tans skoolhou in Noord-Ciprus
Lees die artikel: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Noord-Ciprus – AfriForum Wêreldwyd
Australië
Die verskillende geboortedatums wat bepaal wanneer ’n kind skool toe gaan, was vir ons ’n nuwe konsep. In Suid-Afrika is die afsnydatum vir ’n graad gewoonlik Desember, terwyl dit hier in Junie is. Dit beteken dat ons kinders, wat in Februarie gebore is, hier ’n jaar voor is in vergelyking met hul Suid-Afrikaanse maatjies. Die gratis staatskole en die verminderde huiswerklas is beslis voordele van die Australiese onderwysstelsel. Die integrasie van tegnologie, soos iPads, in die klaskamer is ook ’n positiewe aspek wat ons waardeer. Hier word erken dat elke kind op ’n ander manier leer. Daarom word daar baie moeite gedoen om seker te maak dat elke kind die ondersteuning kry wat hulle nodig het. – Pieter le Roux, wat in Queensland, Australië, woon.
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Queensland, Australië
Swede
Die grootste verskille waaraan ek aan kan dink, is dat die dae langer is, dat buitemuurs gewoonlik laat in die middag of saans en selfs naweke plaasvind, selfs op Sondae, en dat dit meestal ekstra kostes meebring, want dit word nie deur die skole aangebied nie. Die grade (in Swede noem ons dit jare) word ook ’n bietjie anders opgedeel. Jare F-9 (graad R tot graad 9) is verpligtend en kan saam in ’n skoolgebou wees, waar dit in Suid-Afrika aparte skole sal wees. In Swede het ons förskola (voorskool/kleuterskool), lågstadiet (laerskool – jaar 1 tot 3), mellanstadiet (middelskool – jaar 4 tot 6) en högstadiet (hoërskool – jaar 7 tot 9). Gymnasium (jaar 10 tot 12) is opsioneel. Die fokus is ook baie meer op speel as hul jonger is en daar word baie aanpassings gemaak vir studente met leerprobleme, baie meer as waaraan ek gewoond was. – Lize-Mari Vermaak
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Swede – AfriForum Wêreldwyd
Duitsland
Die skoolsisteem verskil in die sin dat hier drie fases is: voorskool, middelskool en gimnasium.
Hier is internasionale skole, maar jy moet ’n nier daarvoor opoffer. Privaat skole is beskikbaar, maar die openbare skole is so goed dat die meeste kinders dit bywoon. Geen tuisonderrig word toegelaat nie. Jy is skoolpligtig tot op 16 wanneer jy ’n eksamen kan aflê om die skool te mag verlaat. Baie verlaat dan die skool vir “Berufsschule” (beroepskole) soos ons ambagskole en tegniese skole.
Ilke, ons dogter moes aanvanklik na ’n “Berufsschule” gaan om basiese Duits te leer. Gimnasiums aanvaar nie anderstalige ouer leerders nie, wat verstaanbaar is, want die onderrigtaal is Duits. Ons meisiekind leer fluks Duits, want sy wil deur die gewone skoolsisteem beweeg sodat sy gratis universiteit toe kan gaan. Die voorwaarde is egter dat jy in die Gimnasium drie tale moet neem. Hoe nou gemaak? Gelukkig kon die skoolhoof iemand in Bavaria opspoor deur wie sy Afrikaans as haar derde taal kan neem tot in matriek. – Jolene Harley wat in Erlangen in Bavaria, Duitsland woon
Lees die artikel: Uit en tuis: Boerekaskenades in Erlangen, Duitsland – AfriForum Wêreldwyd
Kyrgyzstan
In plaaslike skole roteer studente in blokke van 08:00–12:00 of 13:00–17:00 omdat daar nie genoeg skole bestaan om die studente te akkommodeer nie. Hierdie situasie word geblameer op die val van die Sowjetunie en die politieke onstabiliteit wat gelei het tot ’n tekort aan beplanning en belegging in die onderwysstruktuur.
Plaaslike skole is ook gratis alhoewel die ouers baie fondsinsamelingsverantwoordelikhede het om skole te help funksioneer. In internasionale en privaat skole gaan kinders skool van 08:00 tot 15:30 met addisionele buitemuurse geleenthede tot 18:00. Die sisteem is ook gebaseer op eksterne kurrikulums, en studente word volgens internasionale maatstawwe geassesseer. Die rede hiervoor is dat studente maklik oorgeplaas kan word na ’n soortgelyke skool in ’n ander land of aansoek doen vir universiteitstoelatings in enige land in die wêreld. – Carmen Prinsloo Ebersohn wat in Bishkek, Kyrgyzstan woon
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Bishkek, Kyrgyzstan – AfriForum Wêreldwyd
Switserland
In Switserland maak baie kinders op 15 klaar met skool en doen op 16 aansoek vir ’n internskap by maatskappye waar hulle graag wil werk. Ander kinders gaan Berufsschule (beroepskool) toe, of as hulle universiteit toe wil gaan, gaan hulle gimnasium toe. Als is in Duits, so dis ’n groot aanpassing vir ’n tiener. Dis heeltemal anders as wat ons tieners gewoond is. Soos ek reeds genoem het, is jy op 16 al ’n volwassene. – Dalene Berger
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Zürich, Switserland – AfriForum Wêreldwyd
Al Ain
Dit hang af waarna jy op soek is. Hier is ’n legio keuses. Hier is Britse, Amerikaanse, IB en nog vele ander kurrikulum skole. Die meeste skole is KG–gr.12. Dit is ’n ongelooflike ervaring om in so ’n multikulturele omgewing te werk. Ek sal dit vir enige persoon aanbeveel. Die papierwerk is nogal duur en neem lank, so begin lank voor die tyd daarmee as jy die skuif beplan. – Riëtte Schoeman, ’n onderwyser in Al Ain
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Al Ain – AfriForum Wêreldwyd
Kanada
Wanneer daar sneeustorms is, bly skole toe totdat die sneeustorm verby is, dit word dan ’n “snow day” genoem. Skole en meeste ander ondernemings en instansies is dan toe en almal is baie verheug om ’n “bonusrusdag” te kan hê. – Ladine Britz, wat in Newfoundland en Labrador, ’n eiland in Kanada woon
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Newfoundland en Labrador – AfriForum Wêreldwyd
Skotland
Hier is byvoorbeeld geen eksamens, toetsreekse of huiswerk nie. Alle assessering word in klastyd gedoen en is onvoorbereid, gebaseer op die werk wat in die vorige weke gedoen is. Kinders word in groepe geplaas vir wiskunde in lyn met hoe gevorderd hulle is, maar vir alles anders is hul in een klas.
Hul het nie spesifieke vakke soos Geskiedenis, Aardrykskunde, ensovoorts nie; die werk word eerder aan temas gekoppel en dan leer hulle so. Kinders word baie vryheid gegee (veral ten opsigte van hul denke en idees), maar daar is tog dissipline. Hulle is wel nie baie streng oor lang hare en naels nie. Die kinders lees oor die algemeen baie hier (seker oor die weer!) en het ’n baie goeie algemene kennis en bewustheid van wat in die wêreld aangaan. Daar is nie groot akademiese druk nie, dit kom slegs van die kind self of van die ouers eerder as die skool. Toppresteerders word nooit openlik aangekondig nie. – Irene-Marie Esser wat in Edinburgh, Skotland woon
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Edinburgh – AfriForum Wêreldwyd
Frankryk
Die grootste verskille in die skoolstelsel is die skoolure en die sport. Kinders gaan skool van 09:30 tot 17:30 met ’n lang etenstyd tussen 12:00 en 14:00. Daar word nie in skoolverband aan sport deelgeneem nie. Kinders word by klubs ingeskryf en betaal jaarlikse lisensies om te mag deelneem. Daar is ook geen skooluniforms nie. Daar is drie vlakke van skool: primêr (van 6- tot 10-jariges), collège (11- tot 15-jariges) en hoërskool (16- tot 18-jariges). Daar is ook elke ses tot agt weke ’n kort vakansie en dan een lang somervakansie wanneer die skooljaar aan die begin van Julie klaarmaak. – Melani Potgieter
Lees die artikel: Uit en tuis: ’n e-pos uit Frankryk
Alhoewel onderwysstelsels wêreldwyd verskil, bly die doelwit dieselfde – om jongmense toe te rus met kennis en vaardighede vir die toekoms. Dit is interessant om te sien hoe verskillende lande hierdie doel nastreef en hoe Suid-Afrikaanse gesinne aanpas by nuwe maniere van leer. Of dit nou ’n minder toetsgedrewe benadering, tegnologie-geïntegreerde klasse of streng akademiese programme is, elke ervaring is uniek en bied waardevolle insigte oor hoe opvoeding oor grense heen vorm aanneem.
Het jy ook al ’n onderwysstelsel in ’n ander land ervaar? Deel jou insigte en vergelykings met ons! Hoe het jy of jou kinders aangepas by ’n nuwe manier van leer? Ons hoor graag jou storie in die kommentaar!
Foto: Mikhail Nilov/ Pexels