Hoekom swaarverdiende geld op boeke uitgee? En dit op ‘n storieboek?
deur Christien Neser
Hier is die rede: ‘n Storieboek maak die verskil!
- In Brittanje word gepraat van The home literacy event, wat ons slaaptydstories noem. Kinders vir wie voorgelees word van kleins af, uitpresteer hul maats vir wie nie voorgelees word nie. Studies van die London University bewys dat kinders wat tuis met hul ouers lees, beter luister, langer konsentreer en beter presteer. Storieboeke maak die verskil!
- Ouers wat vir hul kinders in die voorskoolse jare elke dag ‘n storie lees, stuur hul kind graad 1 toe met EEN MILJOEN meer woorde as diegene vir wie nooit stories gelees word nie (studie Univ Ohio, 2019). Woordeskat is een van die mees bepalende faktore vir akademiese sukses (prof Maryanne Wolf, Univ Tufts). Storieboeke maak die verskil.
- ‘n Slaaptydstorie is belangrik as die kind deur die dag voor ‘n skerm was, soos televisie, telefoon of rekenaar. Hoekom? Die skerms aktiveer die frontale lobbe van die brein. Voorlees kalmeer die frontale lobbe, wat ook die res van die brein gereed maak vir slaap. Die slaaphormone word dan afgeskei wat REM (droomslaap) vinniger laat inskop. Tydens slaap groei die kind en ontwikkel nuwe sinapse in die brein. Goeie kwaliteit slaap is noodsaaklik vir breinontwikkeling en algemene gesondheid. ‘n Voorgeleesde slaaptydstorie vir enige kind, van 3 tot 13, is dus soos ‘n natuurlike slaappil en breinaktiveerder. Dus: geen skerms voor slaaptyd nie! Dis storieboeke wat die verskil maak.
- ‘n Lekker boek is vir die ouer kind uiters noodsaaklik. Dit kan selfs die brein van skermverslawing red. Wanneer mens ‘n rekenaarspeletjie speel, word die linkerbrein volledig gestimuleer. Eintlik OORgestimuleer. Daar moet vinnige besluite geneem word, strategie uitgewerk word. Maar die regterbrein word afgeskeep. En dis hier waar luistervaardighede en empatie gesetel is. Die rugbyreël geld hier: Use it or lose it. As die regterbrein nie gebruik word nie, sterf die sinapse af. Maak dit dus ‘n reël: vir elke halfuur se rekenaarspeletjies, moet die kind ‘n bladsy lees en gou bietjie oefening doen. Dit sal die regterbrein weer aktiveer. ‘n Storieboek maak die verskil.
- ‘n Lekker boek kan ook jou wiskundepunte Hoe so? Die Ohio State University het in 2015 ‘n reusestudie gedoen oor leesbegrip en wiskundepunte. Daar is ‘n direkte verband! Hoe beter die kind lees en verstaan, hoe beter sy wiskundepunte. Dis weer eens ‘n storieboek wat die verskil maak.
- ‘n Lekker boek voordat jy gaan slaap, kan jou toetspunt die volgende dag verbeter. Dit is die bevinding van prof Gregory Burns en sy span van die Emory Universiteit, Atlanta. In ‘n groot studie is studente in twee groepe verdeel: Groep A het studeer totdat hulle gaan slaap het. Groep B moes ‘n lekkerlees boek lees voor slaaptyd. En tada! Groep B het deur die bank beter presteer. Redes: dieper slaap en minder stres laat die brein beter prosesseer, sodat die studiemateriaal makliker opgeroep word. En ja, dis weer ‘n storieboek wat die verskil maak.
- Laastens, ‘n storieboek is wonderlik vir ‘n kind se Die keuse van boeke is dus uiters belangrik. Die kind assosieer sterk met die held van ‘n storie. As hul held dan ‘n struikelblok oorwin, is dit so goed asof hulle self dit gedoen het. “Stories shape our lives and in some cases help define a person,”sê die psigiater, dr Christopher Bergland (Psychology Today, 2013-11-03). Kinders wat lees, is kinders wat hulle probleme so lees-lees self uitsorteer. Of ten minste groot troos vind dat daar ander kinders nes hulle is. Sorg dat jou kind ‘n groot dosis storieboeke inkry voordat die grootmenslewe aanbreek. Storieboeke kan die verskil maak.
- Onhou ook Antjie Krog se woorde:
Maak nie saak hoe arm nie, ‘n kind wat lees, is ‘n bevoorregte kind. Maak nie saak hoe verlate of verwaarloos nie, ‘n kind wat lees, is ‘n gekoesterde kind.
Niks is vir ‘n kind meer kosbaar as hul ouers se tyd nie. So lees ‘n boek saam! Dis ‘n belegging in jou kind se toekoms.
Christien Neser
Leesterapeut en skrywer van kinder-en jeugboeke en die niefiksieboek, Help, my kind is anders?