Huldeblyk: Alice Elahi (1926-2020), geliefde Suid-Afrikaanse skilder
Die skilderye van Alice Elahi is regoor die wêreld in privaat wonings, ambassades, kunsmuseums en besighede se kantore te sien. Haar dood in Maart vanjaar was ’n groot verlies vir die Suid-Afrikaanse kunstoneel. Sy was veral bekend vir seetonele en woestynlandskappe van die Namib, enkele Bosveldtonele, asook helderkleurige blomstudies van onder meer irisse en amarillisse.
Alice is in Kaapstad gebore. Sy het by die Universiteit van Kaapstad in die natuurwetenskappe studeer, maar deur haar liefde vir kuns in haar vrye tyd as sekretaresse vir die universiteit se kunsvereniging opgetree. Nadat sy haar graad behaal het, het sy eers in Kaapstad en toe in Londen kuns studeer.
Uiteindelik het sy en haar man, Nasrollah Elahi, hulle in Pretoria gevestig.
In 1968 het sy die New Signatures-toekenning verower en so het haar bekendheid op die Suid-Afrikaanse kunstoneel begin.
In ongeveer 1984 het ek die eerste keer haar skilderye gesien. Dit was by ’n uitstalling van werke wat die Namibwoestyn uitbeeld. Baie daarvan was op die oog af net vlekke kleur en lyne, maar hoe langer ’n mens daarna kyk, hoe meer het jy gesien daarin.
Jare later het ek ’n uitstalling by die Pretoriase Kunsmuseum besoek en verlief geraak op ’n waterverf skildery van Möwebaai in Namibië. Ek het onthou van ’n klein erfporsie van my ouma “vir noodgevalle” en besluit dat die aankoop van die skildery as noodsituasie kwalifiseer. Dit hang sedertdien bo my bed en Möwebaai is die eerste toneel wat ek meeste oggende sien as my oë oopgaan. Elke dag lyk dit nuut en op verskillende tye van die dag lyk dit of die kleure daarvan verander. Die skep van hierdie illusie is wat my aanbetref die briljantheid van haar werk en die manier waarop dit tydloos sal bly.
Met die afhaal van die skildery, het ek haar die eerste keer persoonlik ontmoet en ek was, soos die Engelse sal sê, starstruck. Ek het nie geweet wat om vir haar te sê nie en my Engels het my ook nog in die steek gelaat. Sy het dit raakgesien en so mooi rustig met my begin gesels, dat ons kort voor lank lekker gekuier het. Sy was nie net met verfkwaste bedrewe nie, maar ‘n fyn waarnemer met groot deernis vir mense. Sy het vertel van die dag wat sy die skildery begin het – sy het alleen op die strand gesit en skilder en die son was besig om onder te gaan. Skielik was sy bewus van ’n strandwolf wat haar dophou en sy het vaagweg ongemaklik gevoel: het hy al ooit ander mense gesien? Sou hy haar aanval as hy honger genoeg was? Uiteindelik het sy haar werk gestaak en die skildery later afgerond.
Sy en haar man het in ’n huis met ’n reuse stoep om in Waterkloof gebly – nie ’n moderne argitektoniese eksperiment nie, maar ’n huis wat my aan my grootouers se plaashuis herinner het, met houtvloere en metaalplaatplafonne. Daar was baie groot, ou bome om die huis. Teen die einde van die jaar, wanneer die jakarandas blom, het sy by die einste huis haar uitstallings gehou en ’n mens is met ’n poskaart wat een van haar werke uitbeeld, daarheen genooi. Op die stoep het pynappelkoeldrank en koekies gewoonlik vir die gaste reggestaan. Van die skilderye het in die portaal en voorhuis gehang, ander op die stoep. Dit was ’n wolk van kleur, met een kant die skilderye en aan die ander, die bome en jakarandablomme. Sy kon mense ook baie goed onthou – waar jy werk, jou familie, watter skildery(e) jy tevore gekoop het. Of jy weer iets sou koop of nie, het nie vir haar saakgemaak nie. Groot versamelaars en kerkmuise soos ek is met ewe veel gasvryheid ontvang.
Die lekkerste van die geselsies op die stoep, was wanneer sy oor haar jaarlikse skildertogte vertel het. Soms is sy alleen die Namib in en hier het sy ook ongelooflike mooi foto’s geneem. Enkele kere het sy skyfievertonings aangebied en dan vir die gehoor meer oor die avonture vertel. Die kleure en teksture van die woestyn het haar betower en voortdurend uitgedaag om dit op ’n doek te probeer vasvang.
Die stoep was ook ’n versamelplek vir interessanthede soos ’n walviswerwel en klippe wat sy tydens die reise opgetel het.
Een dag wou sy graag gesels, maar moes eers ander gaste afsien. Sy het my met ’n bak sand en ’n vergrootglas op die stoeptrap laat sit sodat ek al die kleure en vorms van die korrels kon bewonder – ’n reënboog in die kleine!
Die laaste keer wat ons ontmoet het, het sy gepraat oor haar kommer oor armoede in die land en jongmense sonder toekomsvooruitsigte. Dit was weer ’n herinnering dat sy die natuur geskilder het, maar mense net soveel raakgesien het.
In totaal het ons mekaar seker minder as tien keer ontmoet, maar sy bly een van die mense wat ek die helderste sal onthou en wat die grootste invloed op my lewe gehad het. Sy het my geleer om kleur en tekstuur te waardeer en op die detail daarvan in groter beelde te let. Haar beskeidenheid en menslikheid sal ook ’n inspirasie bly.
Naas verskeie artikels in die media en kunspublikasies, het haar dogter Nushin in 2018 ’n boek met beperkte oplaag oor haar werk gepubliseer.
Almal wat die voorreg gehad het om haar te ken, word armer deur haar dood nagelaat, maar veral ook met die genot wat die vele werke wat sy geskep het, sal aanhou bied.
Crashing wave – Hondeklip baai – Mixed media