Kersfees 2020

09/12/2020
| Deur Pieter de Lange
kalender

’n Mooi helder, maar tog flou, amper halfhartige wintersonnetjie skyn buite. Maar ons hier in Engeland is maar te dankbaar vir elke ou sonstraaltjie dié tyd van die jaar. Ons is opgewonde oor die komende Kersfees; ons sien meer as ooit tevore uit na die familiefees, want die wêreld het ’n epog beleef met 65 miljoen koronavirusinfeksies en 1,5 miljoen sterftes. Hier in die Verenigde Koninkryk is die infeksiegetalle omtrent 1,7 miljoen met 60 000 sterftes. Dis die hoogste in Europa. Wêreldwyd het een uit elke 43 mense wat die infeksie gekry het, gesterf. In die VK het een uit elke 27 mense aan die infeksie gesterf. Die Verenigde Nasies se Ekonomiese en Maatskaplike Raad beskryf die effek van die pandemie soos volg: “We are facing a global health crisis unlike any in the 75-year history of the United Nations – one that is killing people, spreading human suffering, and upending people’s lives. But this is much more than a health crisis. It is a human, economic and social crisis.”

Ons eerste inperking is op 27 Maart 2020 ingestel en het geduur tot diep in Juniemaand. Dit het gepaard gegaan met ’n heerlike lente, die droogste en sonnigste in jare. Die skielike, gepaardgaande stilte en rustigheid in hierdie digbevolkte, besige land, was amper terapeuties. Die hele wêreld, met drie miljard mense ingeperk, het as ‘t ware skielik tot stilstand gekom. Geraas en besoedeling het amper in ’n oogwink verdwyn. Maar die afwesigheid van pendelaars en besoekers het Londen en ander stede skielik in spookdorpe verander. Weg van die groot stede het mense hulle tuine meer as ooit geniet en waardeer, en dié wat nie tuine het nie, kon darem een keer per dag na openbare parke toe gaan.

Maar die vreedsaamheid was bedrieglik, want oral het bejaarde en kwesbare mense in groot getalle gesterf. Die mediese dienste en hospitale in menige lande het gekreun onder die druk van die COVID-19-slagoffers. Veral in sommige Europese lande soos Italië en Spanje. Maar dis nie net COVID-19-slagoffers wat suurstofnood ondervind het nie; die toerisme- en vermaaklikheidsektor was ook besig om te versmoor en sal nog baie lank vat om te herstel.

Die koronavirus het die van-die-huis-af-werk-verskynsel verander van ’n voorreg na ‘n noodsaaklikheid. Time Magazine het dit só beskryf: “The Coronavirus outbreak has become the world’s largest work-from-home experiment. Thanks to the coronavirus outbreak, working from home is no longer a privilege, it’s a necessity. While factories, shops, hotels and restaurants are warning about plunging foot traffic that is transforming city centres into ghost towns, behind the closed doors of apartments and suburban homes, thousands of businesses are trying to figure out how to stay operational in a virtual world.”

Die tweede inperking hier was van 5 November tot 2 Desember 2020 en daarna is ons in tiers (vlakke of divisies) ingedeel. In die deel waar ons woon, is die maatreëls die strengste, en waar my dogter woon, is dit die ligste.

Hierdie virusjaar het ook ons gesin se werkslewe drasties verander. By die tandartspraktyk werk ek nou net deeltyds want ons deel ’n wagkamer en werk gevolglik om die beurt. Ons drie kinders het deel geword van die realiteit van werk van die huis af. Hulle is in drie heeltemal verskillende bedrywe: Rene doen tekstielontwerp vir Debenhams, ’n Britse kettingwinkelgroep; Christiaan is ’n geoktrooieerde rekenmeester; en Simon is ’n meganiese ingenieur in die verdedigingsbedryf.

Rene moes voorsiening maak vir Debenhams se waarskynlike ondergang en ná baie jare se droom het sy besluit dis die regte tyd om haar eie aanlyn winkel te begin. Sy het ook begin kunsklasse gee deur die University of the Arts London om jong mense te inspireer om hulle eie kreatiewe drome te verwesenlik. Hier is een van haar pragtige syserpe.

‘n Pragtige syserp.

Die viruskrisis het ons teruggedwing na basiese waardes: om jou familie en vriende te geniet, en jou onmiddellike omgewing te ontdek en te waardeer.

Omdat die regulasies ons inperk, moet ons as gesin tevrede wees met kort ontmoetings in parke. Die boonste foto is van Christiaan, Nicole en Mariaan in ’n groot park in die dorp Maidstone hier naby ons.

Ons vriendin en mede-Suid-Afrikaner, Suzette Datema, leef die emosies van hierdie tyd uit in haar skilderye. Hierdie een gaan oor wit towervoëls wat die maskers wegdra.

Die eerste Kerstradisie wat ons elke jaar geniet, is die heerlike Kerssangdiens, maar dié jaar was daar geen gewone diens van hartlik saamsing in die kerksaal of lekker gesellig saam eet in ’n intieme village hall nie. Al die Londense wyke het ingeskakel op ’n gesamentlike Kerssangdiens wat afgeskop het met Stille Nag, gespeel op ’n bekfluitjie deur iemand in die Bosveld, en daarna pragtige liedere soos Requiem: Pie Jesu Domine. Ons het die Kersboodskap en die gepaardgaande familiefees nog meer nodig as in ander, gewone jare. As Christene het ons die vertroosting dat ons weet wie in beheer is, maar ons het tog weer die versekering nodig.

Hier is Lizelle Clasen se pragtige toneel op ons Kerskalender; sy is ons predikant, Ferdie, se eggenote.


Lizelle Clasen se pragtige toneel op die Kerskalender.

Juis omdat ons mekaar so min kon sien hierdie afgelope paar maande, sien ons besonder baie uit na hierdie Kersfees saam met net ons gesin.

Groete uit Engeland
Pieter de Lange

 

Deel op

Nuutste artikels