Kersfees in Finland

10/12/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Kersfees in Finland

Deur Carine Pieters

Tradisies is belangrik in Finland. Hier is 24, 25 en 26 Desember almal vakansiedae, en Kersfees word hoofsaaklik op die 24ste gevier. Die oggend eet hulle ryspap (soortgelyk aan pap, maar met rys) saam met ’n vrugtesous – amper soos ’n dunner konfyt. Daarna gaan steek hulle kerse aan by begraafplase. Later die dag is dit tyd vir die tradisionele Kersfeessauna, want sauna is hier ’n groot deel van die kultuur. Daar is selfs meer saunas as motors in die land!

Kersaand se maaltyd sluit gewoonlik oondgebakte ham met mosterd in, sowel as vis – meestal salm (gerook, gaar, of met sout en suurlemoen “gaar gemaak”). Daar is ook verskeie oondkasserolle van groente soos pampoen, aartappels en kool. Ná die ete word geskenke uitgedeel.

Kersvader “kom” oorspronklik van Lapland in die Noorde van Finland, en op 23 Desember word sy reis regstreeks uitgesaai. Met middernag word die Vredesverklaring voorgelees uit Turku, Finland se oudste stad – ’n tradisie wat uit die Middeleeue dateer. Op die 25ste woon mense meestal vroeg soggens kerkdienste by en is dit verder ’n rustige dag by die huis; Winkels is ook gesluit. Die 26ste word gewoonlik saam met familie en vriende deurgebring.

Ons maak gewoonlik ’n kombinasie van Suid-Afrikaanse en Finse disse. Ons het al die salm probeer wat “gaargemaak” word in sout en suurlemoen – die vis word vir ’n paar dae in die yskas gelaat met sout, ’n bietjie suiker, suurlemoensap en kruie soos dille. Die sout en suur laat die vis as’t ware gaar word. Dit was verbasend lekker! Die ryspap is ook iets wat ons geniet.

Hulle is ook groot aanhangers van gemmerkoekies bak oor die feestyd. Jy kan klaargemaakte deeg én stensils vir gemmerbroodhuisies in die winkels koop.
Nog iets waarvoor hulle bekend is, is glogi – ’n warm drankie van rooiwyn, speserye en vrugte. Dis nie heeltemal een van ons gunstelinge nie!

Hier word liggies al van vroeg in Oktober aangesit. Dit word egter “winterliggies” genoem, omdat dit dan al baie vroeg donker word en laataand eers lig. Huise word volop versier, en in ons stad is daar selfs ’n ligtefees waar die liggies seremonieel aangeskakel word, met dansende fonteine as deel van die vertoning.

Ons hou grotendeels by ons eie tradisies – geskenke oopmaak op Oukersaand en saam kuier met vriende. Op Kersoggend kyk ons gewoonlik ’n Afrikaanse kerkdiens en geniet daarna ’n Kersete.

Ons maak hoofsaaklik video-oproepe. Hierdie jaar is ons egter baie bevoorreg: My man se ouers bring Kersfees saam met ons deur, iets waarvoor ons en die kinders besonder opgewonde is.

Kersfees in Suid-Afrika was meestal warm, en baie tyd is in die swembad deurgebring. Hier in Finland ervaar ons die sprokie van ’n wit Kersfees – net soos in die Boney M-liedjie. Ons beweeg wel steeds uit die huis, loop in die koue en geniet die skoon, vars lug. Die Finne sê immers: “Daar is nie slegte weer nie, net sleg toegeruste klere.”

Laastens wil ons as gesin net sê:
’n Geseënde Kersfees vir julle almal. Mag ons nooit vergeet waaroor hierdie dag werklik gaan nie.

Vriendelike groete
Die Steyn-gesin in Finland

Deel jou Kersfees oor grense!

Ons hoor graag jou verhaal. Het jy ’n unieke tradisie, ’n kosbare herinnering of ’n nuwe manier waarop jy Kersfees in jou nuwe land vier? Vertel ons daarvan!
Deel jou foto’s, stuur jou storie of deel net ’n kort ervaring.

Deel op

Nuutste artikels