Kersfees oor grense heen: Warm herinneringe en nuwe tradisies

27/11/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Kersfees oor grense heen: Warm herinneringe en nuwe tradisies

Deur Glicinda du Plessisִ

Kersfees in Nederland het sy eie, unieke bekoring, maar dis ook die tyd van die jaar wanneer ’n mens die huis die meeste mis. Verlede jaar was ons eerste Kersfees weg van familie in Suid-Afrika en dit was beslis die moeilikste deel van die jaar. Dis vreemd om nie die bekende geure van braaivleis, sonroom en tuinpartytjies te hê nie, maar koue lug en die reuk van glühwein en warm sjokolade het darem ’n ander soort sjarme.

In Nederland is Kersfees beslis ’n groot gebeurtenis. Die Kersmarkte is net so ongelooflik soos in Duitsland. Oral is daar stalletjies, musiekgroepe, liggies en warm sjokolade. Selfs by Intratuin, wat eintlik maar ’n groot tuin- en bouwinkel soortgelyk aan Leroy Merlin is, hou hulle ’n Kerstshow. Van gewone versierings tot ’n paar klein wonderwêrelde van sneeu, miniatuurdorpe en glinsterende liggies … Kinders se oë rek behoorlik van verwondering.

In Amsterdam is daar ook die Winter Festival met Ice Amsterdam. Dit is ’n groot skaatsbaan op die Museumplein (kyk gerus na winterfestivalamsterdam.com). Dit bring ’n bietjie van daardie klassiek Europese sprokiesgevoel na die stad.

Ons hou steeds vas aan ons Suid-Afrikaanse feesmaal. Verlede jaar het ons Kersfees saam met Suid-Afrikaanse vriende gevier en natuurlik ons gunstelinge gemaak: gammon, tuisgemaakte mosterd, kerrienoedelslaai, knoffelbrood en ’n Kersboomvormige sjokoladekoek. Dis ongelooflik hoe daardie geure jou sommer onmiddellik laat voel asof jy terug is in Suid-Afrika.

Die Nederlanders het egter ook lekkernye, en baie menseis beslis verslaaf aan oliebollen. Dis amper soos ’n vetkoek met rosyne wat net dié tyd van die jaar beskikbaar is. Sodra die eerste oliebolstandjes (stalletjies) opgaan, weet jy Kersfees is om die draai!

My Kersliggies en -versierings is gewoonlik al in November op. Ja, ek is daardie buurvrou! Die strate hier is ongelooflik mooi versier. Al daai liggies maak die grys wintertyd beter. En al die verskillende Kersversierings wat te koop is, is genoeg om enigiemand arm te maak. Hierdie tyd van die jaar kan ek nie vertrou word om alleen winkel toe te gaan nie, want ek kan dalk net met ’n sak vol Kersversierings uitloop, asof ek nie genoeg by die huis het nie.

Hoewel ons steeds by die Suid-Afrikaanse tradisies hou, is daar tog ’n paar verskille. Hier word 25 en 26 Desember, oftewel eerste en tweede kerstdag, gevier. Dis nie soos in Suid-Afrika waar 24 Desember ook gevier word nie – mense werk gewoonlik nog daardie dag. Nou vier ons ook twee dae lank fees – een dag saam met vriende en een net rustig by die huis.

’n Groot deel van die Nederlandse Kersfees is die sogenaamde Kerst Gourmet waar almal om die tafel sit met klein pannetjies en ’n warm plaat in die middel en dan maak hulle hul eie vleisie, groente en sousies gaar. Ons het dit nog nie self gedoen nie, maar sal dit ook nog ’n keer wil probeer.

Nog iets wat ek baie oulik vind, is dat mense hier steeds Kerskaarte per pos stuur. Die posbusse loop oor van kleurvolle koevertjies en dit gee vir my daardie ouwêreldse Kersgevoel wat jy nie sommer meer kry nie. Ek geniet dit vreeslik om daaraan deel te neem!

Om weg van familie te wees, bly moeilik. Ons maak gewoonlik op Kersdag video-oproepe. Ek dink die geheim is om aanlyn tradisies te begin, soos om saam tydens ’n oproep presentjies oop te maak. Dis nie dieselfde nie, maar dit help. Ons sal graag weer oor Kerstyd Suid-Afrika toe wil gaan, maar ons almal weet ook dat dit juis die tyd is wat vliegtuigkaartjies die duurste is.

In Suid-Afrika het ons altyd 24 Desember rustig gevier met peuselhappies en die voorbereiding van die groot feesmaal vir die 25ste. Op Kersdag self het ons gewoonlik tussen my en my man se families gereis, wat natuurlik beteken het dat ons dubbel geëet het! Van gammon en hoender tot skaapvleis en slaaie – ons het beslis elke jaar ’n paar kilo’s opgetel. Dit was altyd so ’n lekker tyd met kinders wat speel en swem en die reuk van braaivleis wat in die somerlug hang. Dit is alles herinneringe wat ongelooflik kosbaar is vir my.

Hier in Nederland is dinge natuurlik heeltemal anders. Dis koud, maar die warm liggies maak dit op hul eie manier besonders. En al is dit ver van huis af, het ons steeds ’n stukkie Suid-Afrika saamgebring – op ons bord, in ons harte, en in die lag om die tafel saam met nog Suid-Afrikaners.

Kersfees oorsee leer jou dat ‟huis” nie net ’n plek is nie – dit is ’n gevoel, ’n geur, ’n tradisie wat saam reis. Nederland bied ’n unieke Kersgevoel met wintermarkte, liggies, feesvieringe wat twee dae duur en die warmte van nuwe maniere van feesvier. Maar diep in jou leef steeds die Suid-Afrikaanse warmte wat elke feesmaal, elke oproep en elke herinnering besonders maak.

Hoe vier jy Kersfees?

Ons wil graag hoor van jou tradisies, resepte, mooiste liggies, snaaksste stories en warmste herinneringe. Deel dit met ons – jou verhaal kan iemand anders se Kersfees oorsee net ’n bietjie meer na huis laat voel.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels