Kersfees het net ’n manier om nostalgie in al sy vorme in jou te roer. Die reuke, die klanke, die liggies, die musiek – en natuurlik die lekkernye en snoeperye waarmee Ina Paarman én Betty Crocker ewe trots sou spog. Al hierdie herinneringe wat Desember bring, het my weer laat besef hoe elke land sy eie tradisies leef, maar dat daar tog een groot ooreenkoms is: daardie soeke na lig.
In Londen was Kersfees iets magies – so reg uit ’n feëverhaal. Ek is ’n vrou van oor die dertig, maar die klein dogtertjie in my het letterlik gejuig die eerste keer toe ons na Oxfordstraat se liggies gaan kyk het. Omdat die son sommer al teen drie-uur die middag sak, gooi die liggies vroeg-vroeg ’n glans oor die stad. Die snerpende koue pla niemand genoeg om tuis te bly nie. Straatstalletjies vul die lug met die reuk van warm karamelneute, en die pubs se dowwerige, opgewasemde vensters wink jou nader vir ’n tikkie warmte voor jy weer aanstap. Kersmarkte spring op in elke voorstad – ’n ware winterwonderland. En natuurlik staan ’n beker warm glühwein byna gelyk aan ’n oorlewingshulpmiddel. Maar bowenal slaan die oorvloedige liggies en die moeite met die versierings my telkens stom.
Toe ons ons eerste Kersfees in Australië aanpak, was dit op ’n manier dieselfde, maar tog totaal anders. Die son gaan hier eers baie, baie laat onder, en in Queensland waar die 30 tot 40+ grade jou soos ’n kombers omvou, wens almal heimlik vir ’n kouefront. Maar sodra dit donker word, oorval die buurt se liggie-opstelle jou van alle kante. Die voorstede het dalk nie die uitspattige Londense produksies nie, maar dis steeds pragtig en vol karakter.
Kersmarkte het ook ’n eie Aussie-karakter: somermarkte met geroosterde kos, kinders wat met yskoue draairoomyse ronddrentel, en die sekerheid dat die drankies beslis yskoud moet wees. Dis warm, dis vrolik, dis lawaaierig – maar dis eg.

En tog, in albei lande sien ek dieselfde ding: Desember is ’n tyd van lig. Liggies in huise, in strate, in bome en op dakke. Maar ook ’n tyd waarin mense hul eie harte ’n bietjie ligter probeer maak ná alles wat die jaar gebring het. ’n Tyd om te reflekteer, terug te kyk, asem te skep – en te vra of jóú lig hierdie jaar geskyn het.
Kersfees het my geleer dat lig nie net iets is wat ons ophang nie; dis iets wat ons uitdra. Of jy nou tussen sneeuvlokkies stap of wegsmelt in die Australiese son, ons soek almal dieselfde: ’n bietjie warmte, ’n bietjie gemeenskap, ’n bietjie nostalgie (ons verlang tog almal na ouma se skaapboud). Hopelik kan ons hierdie Desember nie net na die liggies kyk nie, maar ook onthou om self te skyn, al is dit net in een ander mens se donker hoekie.
Groete
Charné
Deel jou Kersfees oor grense!
Ons hoor graag jou verhaal. Het jy ’n unieke tradisie, ’n kosbare herinnering of ’n nuwe manier waarop jy Kersfees in jou nuwe land vier? Vertel ons daarvan!
Deel jou foto’s, stuur jou storie of deel net ’n kort ervaring.
Lees ook: Kersfees in Nieu-Seeland: ’n Gesin se eie ritme, herinneringe en nuwe tradisies





















