Deur Pieter le Roux
Is daar interessante Kersgewoontes en -tradisies in Australië?
Hier in Australië is dit nie veel anders as in Suid-Afrika nie. Ons het ook ’n paar huise wat oor die feestyd ekstra versier word. Die lekker ding is dat Australië ook in die Suidelike Halfrond is, so ons het warm somers tydens Kersfees. Ham en pavlova is tradisionele feesseisoen-geregte hier. In die agterplase word daar gereeld krieket gespeel, veral gedurende die vakansie. Boxing Day (Welwillendheidsdag) is ’n groot dag vir ons. Ons ontspan, braai, en baie mense kyk die Boxing Day-krieketwedstryd.
Geniet julle steeds ’n tradisionele Suid-Afrikaanse feesmaal of probeer julle nuwe disse? Dalk is daar besondere disse eie aan die land waar julle woon. Deel asseblief daardie resepte!
In Suid-Afrika het ons gewoonlik gebraai vir Kersfees of lekker kouevleis voorberei in die aanloop na Kersfees. Ons volg ’n soortgelyke tradisie hier, maar Anzette (my vrou) het ’n paar lekker resepte vir ham en pavlova vir ons voorberei. Alhoewel dit baie dieselfde is, probeer ons ook ’n paar plaaslike disse. Sy het vir ons ’n heerlike stroop-geglaseerde ham en ’n pavlova met lekker vrugte gemaak.
Vir die ham is hierdie kombinasie nogals lekker:
100 g (½ koppie, ferm gepak) bruinsuiker
80 ml (⅓ koppie) esdoringstroop (maple syrup)
80 ml (⅓ koppie) heuning
1 eetlepel Dijon-mosterd
1 (ongeveer 8 kg) hele beenham
heel naeltjies, om te prik
Is daar die mooiste Kersliggies in jou buurt of ’n nuwe Kersfeesgier wat kop uitsteek in jou land?
Byna elke huis in die buurt het liggies, maar daar is ’n paar huise wat regtig ekstra moeite doen met hulle Kersfeesversierings! Dit lyk of hulle ’n kompetisie hou! Ons is mal daaroor om saam met die kinders te gaan kyk. Die hele buurt is daar en jy kan selfs springmielies, roomys en koffie koop. Toowoomba, ’n lekker dorpie omtrent 90 km van hier af, het ’n pragtige park wat ook baie mooi versier word (Queens Park). Dit is ’n lekker uitstappie.
Hou jy by die ou tradisionele vieringe of vier jy Kersfees op nuwe maniere?
Kersfees was nog altyd ’n tyd vir my om te ontspan en tyd saam met die familie deur te bring. By ons was dit altyd Oukersaand vir geskenke, maar my vrou verkies Kersdag. Nou doen ons ’n bietjie van albei, maar die belangrikste is om saam te wees.
Vanjaar is dit heel anders. Ons vier Kersfees saam met ons Aussie-vriende. Hulle het ons so warm ontvang dat ons voel soos deel van hulle familie. Die naweek het ons ook ’n daguitstappie na Applethorpe gehad en ’n regte denneboom gekies. Die kinders was so opgewonde dat ons nou ’n enorme Kersboom het wat amper die dak raak!
Ek dink ons het ’n nuwe tradisie begin. Elke jaar gaan ons nou saam ’n Kersboom haal. Dit voel lekker om ’n nuwe tradisie met mense na aan jou hart te begin. En om ’n reuse-Kersboom in die huis te hê, maak dit net nog meer spesiaal. Ek dink dit is belangrik om hierdie herinneringe met die kinders te maak. Dit help hulle om elke Kersfees te koester.
Hoe hou jy/julle kontak met familie wat ver is?
Die ergste van Kersfees ver van die huis af is dat jy jou familie mis, en met die tydsverskil van agt ure tussen hier en Suid-Afrika, is dit nie maklik om met hulle te gesels nie. Verlede jaar het ons ’n video-oproep gehad met almal daar, en dit was lekker om hulle almal te sien. As jy ook ver van jou familie is, beplan vroeg wanneer julle gaan gesels. As jy in Australië is, probeer om vroeg in die middag te bel, so omstreeks 16:00. Dan is dit nog oggend in Suid-Afrika en die kinders is nie so moeg nie.
Vertel ook sommer jou staaltjies van vorige Kersvieringe
Toe ons hier aangekom het, was dit net ons twee. Geen vriende, geen familie nie. Maar dis nou net wat ons gedoen het, ons het ons eie pret gemaak! Met die lekker warm weer het ons besluit om ’n bietjie van die area te gaan verken.
Verlede Kersfees het ons ’n piekniekmandjie gepak en na Bribie Island toe gegaan. Hier kan ons op die strand ry, so ons het gery tot op ’n lekker plek op die strand, ons handdoeke neergesit en die dag net geniet. Die kinders het ure lank in die water gespeel, sandkastele gebou en seesterre gesoek. Op pad huis toe het ons by ’n plaaslike restaurant gaan eet. Dit was ’n perfekte dag om te ontspan en te besef dat ons selfs sonder familie ’n lekker Kersfees kan hê.
Dan is hier natuurlik baie lekker markte wat ons geniet. Ons gunsteling bly die Eat Street, en alhoewel dit heeljaar oop is, kry dit ’n Kersfees-tema dié tyd van die jaar. Ons besoek dit graag en sal heel waarskynlik in die volgende paar naweke weer daar gaan draai.
Deel op
Nuutste artikels