Lekker pryse wag op wenners van tweede “Leen uit het Afrikaans”-taalspel
Bron: vectislingua.org
VECTIS, ’n organisasie wat nouer bande tussen die Lae Lande en Suid-Afrika bevorder, het in 2025 ’n taalspel of -kompetisie met die naam “Leen uit het Afrikaans” bekendgestel. Die vele entoesiastiese deelnemers het die organiseerders oortuig om dit vanjaar weer aan te bied.
Die doel daarmee is om mense van die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands bewus te maak, maar ook die uniekheid van die twee tale te beklemtoon. Dit kan mense selfs oortuig dat Afrikaans ’n bron van inspirasie vir Nederlands kan wees.
Die kompetisie behels dat jy ’n Afrikaans woord moet nomineer wat jy as mooier, meer beeldend of verstaanbaarder as die huidige Nederlandse woord met dieselfde betekenis beskou. Dit moet ’n woord wees wat jy dink ook deel van die Nederlandse woordeskat behoort te word. Jy moet verder in veertig woorde of minder verduidelik waarom jou keuse op hierdie woord geval het. Dit is belangrik dat die woord heeltemal anders as die Nederlandse ekwivalent moet lyk – dit kan nie net ’n vertaling van die Nederlandse woord wees nie. Voorbeelde is die Afrikaanse woord “vuurhoutjie” as alternatief vir die Nederlandse woord “lucifer”, “hybak” in plaas van “lift”, of “stort” in plaas van “douche”. Inligting oor die wenners van 2025 wat hier beskikbaar is, maak dit ook mooi duidelik.
Inskrywings sal op grond van oorspronklikheid, die herkenbaarheid van die woord, die redelike kans dat ’n Nederlander dit sal wil gebruik, en die gehalte van die motivering vir die nominasie beoordeel word.
Enigeen is welkom om aan die kompetisie deel te neem: Nederlandstaliges, Afrikaanstaliges of sprekers van enige ander tale en van enige ouderdom. Slegs een woord mag per deelnemer genomineer word. Woorde wat in 2025 ingestuur is, maar nie gewen het nie, mag weer voorgelê word.
Veral skole wat VECTIS se gratis digitale lesbrief Afrikaans en varianten van het Nederlands buiten Europa gebruik, word aangemoedig om deel te neem. Skole wat dit nog nie gebruik nie, is welkom om VECTIS vir meer inligting hieroor by info@vectislingua.org te kontak.
Inskrywings moet met die e-posonderwerp “Taalspel ‘Leen uit Afrikaans’” gestuur word aan info@vectislingua.org. Die sluitingsdatum is 30 Junie 2025.
Deelnemers wat nie by die spelreëls hou nie sal gediskwalifiseer word en die beoordelaars se beslissing sal as finaal beskou word. Deelnemers moet ook bereid wees dat hulle name in die media bekendgemaak mag word as hulle as wenners aangewys word.
Vanjaar se beoordelaars is Stef Bos (sanger/kunstenaar) en Yves T’sjoen (hoogleraar verbonde aan die Universiteit van Gent). Die wenner sal 150 Euro in die sak kan steek en die naaswenner 75 Euro. Nog ’n prys is beskikbaar, naamlik 75 Euro vir die beste inskrywing deur ’n persoon van 18 jaar of jonger, wat ook noem watter skool hulle bywoon.
Na die sukses van 2025, sien VECTIS uit na vanjaar se inskrywings en na die idees wat hieruit gaan voortspruit oor hoe Afrikaans en Nederlands ook in die toekoms mekaar oor en weer kan verryk!
Deel op
Nuutste artikels



















