Deur Jaco Kleynhans
Die Suid-Afrikaanse verkiesing wat oor minder ’n week plaasvind, is van groot belang vir die toekoms van ons land. Hierdie verkiesing vind egter ook binne ʼn internasionale konteks plaas in ʼn jaar met deurslaggewende verkiesings wêreldwyd en die demokrasie wat op elke vasteland op die agtervoet verkeer. Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, ontleed die groter prentjie en plaas die Suid-Afrikaanse verkiesing binne hierdie globale konteks.
Nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het kiesers in 76 lande, met ʼn gesamentlike bevolking van 4,2 miljard, meer as die helfte van die wêreld se totale bevolking, in een jaar na die stembus gegaan nie. Op die oog af mag dit lyk na ʼn viering van die demokrasie, maar inderwaarheid is 2024 en hierdie wye reeks verkiesings ʼn reusetoets vir die stand van die demokrasie wêreldwyd.
Kiesers in Indië is tans in die middel van ʼn 44 dae lange nasionale verkiesing met byna een miljard stemgeregtigdes wat aan die grootste demokratiese verkiesing in die wêreld se geskiedenis deelneem.
Kiesers het sedert Januarie in uiteenlopende lande reeds na die stembus gegaan. In sommige gevalle is die demokrasie versterk; in ander het skynverkiesings plaasgevind waardeur diktators hulle magsposisie bevestig het. Die belangrikste en mees gevolgryke verkiesings, wat ʼn reuse-invloed op lande, streke, vastelande en die wêreld kan hê, lê egter nog voor.
Kiesers in ʼn uiteenlopende aantal lande, insluitend Turkye (plaaslik), Engeland (plaaslik), Portugal (parlementêr), El Salvador (parlementêr), Taiwan (presidensieel en parlementêr), Finland (presidensieel) en Senegal (presidensieel) het die kragdadigheid van die demokrasie in hierdie lande bevestig. In Rusland, Iran, Azerbaidjan, Belarus en Koeweit het skynverkiesings plaasgevind, maar dit het die posisie van outoritêre regerings versterk.
Daar is verskeie redes waarom die verkiesings in 2024 internasionaal van groot belang is. Die wêreld ervaar ʼn hernude globale magstryd en hoe bevolkings polities hierop reageer, is belangrik. Tweedens heers daar tans konflik in verskeie wêreldstreke en kan verkiesingsuitslae ʼn invloed daarop hê. Derdens is daar volgens Freedom House, die voorste ontleder van die stand van demokrasie in die wêreld, tans wêreldwyd ʼn agteruitgang in die gesondheid van demokrasieë. Vanjaar se verkiesings gaan sonder twyfel hierdie tendens bevestig, of aandui dat die teendeel steeds moontlik is. Vierdens bied vanjaar se verkiesings in baie gevalle ʼn geleentheid vir kiesers om op globale tendense te reageer wat direk op hulle inspeel soos massa-immigrasie, die rol van multinasionale organisasies soos die Europese Unie (EU), Navo en die Verenigde Nasies (VN) en kwessies soos klimaatsverandering en globale handel.
Wêreldwyd sien ons in ʼn meerderheid van die 76 lande waar daar vanjaar gestem word, dat kiesers onrustig oor en selfs ontevrede is met die status quo. Daar is veral in ontwikkelde lande ook toenemende vrees en angs oor die toekoms. Dit skep ʼn uiters vloeibare politieke omgewing.
Die ontwikkelde wêreld (Die Weste en bondgenote in die Ooste)
Die grootste deel van die ontwikkelde wêreld sal vanjaar na die stembus gaan. Sekerlik die belangrikste verkiesing is die Amerikaanse presidensiële verkiesing op 5 November. Dit is tans ʼn kop-aan-kop-stryd tussen Joe Biden en Donald Trump en dit is onmoontlik om die uitkoms te voorspel, hoewel Trump volgens peilings ʼn klein voorsprong het.
Die Amerikaanse presidentsverkiesing is van enorme belang vir die VSA as die sterkste wêreldmoondheid, maar ook vir die hele wêreld. Biden en Trump verskil op byna elke terrein ten opsigte van binnelandse en buitelandse beleid. Biden verteenwoordig ʼn behoud van die status quo. Trump verteenwoordig radikale hervorming in binnelandse en buitelandse beleid na ʼn meer selfgeldende Amerika wat eerste na sy eie belange, dan na dié van sy bondgenote en dan na die res van die wêreld se belange kan omsien.
Reusevraagstukke oor die toekoms van Amerika is op die spel in die Amerikaanse verkiesing. Interne verdeeldheid neem toe, terwyl die rol van ʼn groter wordende immigrantebevolking ook nie misgekyk kan word nie. Sou een van die twee partye weier om die uitslag te aanvaar, kan dit tot geweld lei. Die verkiesing van duisende lede van wetgewers nasionaal en in die vyftig deelstate, asook politieke verteenwoordigers in distrikte en dorpe is ook belangrik. Dit gaan ‘n reuse verkiesingsveldtog wees.
In Europa is daar ook groeiende onrustigheid onder ʼn meerderheid van die burgers. Dit is veral massa-immigrasie, ekonomiese stagnasie en vrese vir oorlog weens die oorlog in Oekraïne en Europa se gespanne verhouding met Rusland, wat die politiek daar raak. Van 6 tot 9 Junie sal kiesers in al 27 EU-lidlande na die stembus gaan om lede vir die Europese Parlement te verkies. ʼn Verskuiwing na regs word verwag, hoewel die huidige sentrumregse en sentrumlinkse blokke waarskynlik steeds die grootste gaan bly.
Dit is egter die verkiesings in Europese lande soos België (veral die Vlaamse deel), Oostenryk en drie oostelike Duitse deelstate wat waarskynlik reuse-oorwinnings vir regse anti-immigrasie-partye gaan besorg. In die onlangse Portugese verkiesing was daar ʼn verskuiwing na regs. In Spanje is steun vir onafhanklikheidspartye in Katalonië en in die Baskiese streek ook reeds in streeksverkiesings bevestig.
In Suid-Korea en Taiwan, twee ontwikkelde lande in Asië, is die krag van die demokrasie met twee kragdadige verkiesings, wat ʼn sterk politieke boodskap aan die hele streek gestuur het, bevestig.
In die Verenigde Koninkryk sal ʼn algemene verkiesing waarskynlik voor die einde van die jaar plaasvind. Die Arbeidersparty gaan waarskynlik ʼn reuseoorwinning behaal en die Konserwatiewe Party gaan sy grootste nederlaag in meer as ’n eeu ly. Die Tories regeer die Verenigde Koninkryk reeds vir langer as 10 jaar en kiesers is uiters teleurgesteld in hoe die party post-Brexit-geleenthede verspeel het en uiteindelik meer probleme as oplossings geskep het.
Die onlangse plaaslike verkiesing in Engeland het bevestig dat die Tories op ʼn baie slegte plek is en dat die situasie waarskynlik nie teen die einde van die jaar gaan verander nie. Dit maak die VK een van slegs enkele lande in Europa wat in 2024 polities na links gaan verskuif.
In Kanada moet ʼn verkiesing ook later vanjaar plaasvind en die kanse op ʼn verskuiwing na regs lyk toenemend goed met die huidige premier Justin Trudeau wie se gewildheid steeds afneem.
Latyns-Amerika
Verkiesings reg oor Latyns-Amerika sal vanjaar die krag van die demokrasie in dié streek moet bevestig. Kiesers in Mexiko, Brasilië, Chili, Costa Rica, die Dominikaanse Republiek, Jamaika, Panama, Uruguay en Venezuela gaan almal nog vanjaar na die stembus moet gaan.
Die groot vraag is of die opposisie in Venezuela ‘n einde sal kan maak aan die outoritêre regime van Nicolás Muduro. Die hoofopposisieleier loop in alle peilings vir die presidentsverkiesing voor, maar die afgelope paar jaar het dit duidelik geraak dat Maduro en sy outoritêre regering nie sommer sal toelaat dat die opposisie ʼn verkiesing wen nie.
In die res van Latyns-Amerika is die jare lange stryd tussen links en regs steeds aan die voortwoed, wat ook groot verdeelheid in die streek veroorsaak. Die spanning tussen byvoorbeeld Argentinië en Brasilië het die afgelope paar maande toegeneem. Hierdie spanning en verdelingslyne gaan regdeur Latyns-Amerika in verkiesings vanjaar sigbaar wees. Hoewel die meeste verkiesings, soos in Chili en Brasilië, plaaslike en streeksverkiesings is, sal dit ʼn aanduiding gee van die politieke tendense in dié twee belangrike lande.
Die Midde-Ooste
Die Midde-Ooste is die mees outoritêre streek ter wêreld. Die verkiesing in Pakistan vroeër vanjaar was van groot belang omdat dié land gedurig dreig om in groter interne konflik te verval. Ná maande se betogings en geweld het die verkiesing egter wel plaasgevind en is ʼn stabiele regering gevorm. Die wyse waarop die voormalige premier Imran Khan uit die politiek geknikker is, spreek van niks minder as politieke onderduimsheid nie, maar vir die huidige lyk dinge egter weer rustiger in Pakistan.
Hoe die huidige regering streekskonflik, onder meer met Indië en met die Taliban in Afganistan gaan hanteer, sowel as verhoudinge tussen Pakistan en globale magte soos China, Rusland en die VSA is tans van groot belang. Pakistan het een van die snel groeiendste bevolkings ter wêreld, ʼn groot, radikale Islamitiese beweging, maar ook een van die grootste Christenminderhede in die Midde-Ooste, ondervind enorme armoede en het ook ʼn reuseweermag met ʼn kernwapenarsenaal. Dit maak van Pakistan ʼn land wat altyd dopgehou moet word.
Die groot vraag is of Israel se huidige ongewilde regering ná die afhandeling van die militêre operasie in die Gasa-strook staande sal kan bly. Die kanse op ʼn vroeë verkiesing, die soveelste die afgelope paar jaar, neem tans toe. Dit kan ʼn wesenlike invloed op langtermynvrede tussen Israel en die Palestyne hê.
Ontwikkelende Asië
Die belangrikste verkiesing in Asië vanjaar is die Indiese verkiesing wat tans aan die gang is. Indië is ʼn opkomende supermoondheid en die veerkragtige Indiese demokrasie, met al sy gebreke, staan in skrille kontras met die outoritêre, kommunistiese regime in China. Dit is duidelik dat ʼn nasionale gevoel van optimisme oor die toekoms van Indië in hierdie verkiesing bepalend gaan wees. Dit beteken waarskynlik nog ʼn Modi-regering, wat nog meer selfgeldend, ook op internasionale verhoë, sal wees.
Indië as opkomende supermoondheid verteenwoordig ʼn nuwe era van ʼn meer komplekse multi-belyningsbenadering in globale verhoudinge. Hierdeur kan Indië deur die huidige harde verdelingslyne tussen die Globale Noorde en die Globale Suide breek en ʼn omgewing help skep wat werklik beter is vir globale magsverhoudinge.
Ook die verkiesing in Indonesië vroeër vanjaar was van groot belang. Ten spyte van verskeie bewerings van bedrog en inmenging in die verkiesing, was dit steeds grootliks ʼn vry en regverdige verkiesing. Indonesië gaan oor die volgende paar jaar ʼn groter wordende ekonomiese en politieke rol in Asië speel en dié land kan nie buite rekening gelaat word nie.
ʼn Ander belangrike verkiesing in Asië, veral wat die toets oor die gesondheid van die demokrasie betref, is die verkiesing in Sri Lanka, waar heelwat politieke onstabiliteit die afgelope paar jaar geheers het. Die stryd in invloed tussen China en Indië, wat ook onlangs in verkiesings die Maldive-eilande afgespeel het, gaan ook hier ‘n rol speel.
Afrika
Kiesers gaan vanjaar in 18 Afrikalande na die stembus. Ná talle staatsgrepe, burgeroorloë en ander uitdagings op die vasteland die afgelope paar jaar, sal die krag van die demokrasie op dié vasteland vanjaar deeglik getoets word.
Die eerste sodanige toets was vroeër vanjaar in Senegal, ʼn stabiele Wes-Afrikaland met noue bande met die Weste. Ná protesaksie in reaksie op die president se besluit om die verkiesing uit te stel, het die verkiesing wel in Maart plaasgevind en het ʼn opposisieleier die verkiesing gewen. Die politieke oorgang was uiteindelik vinnig geslaagd. Hoewel dit ʼn belangrike oorwinning vir die demokrasie in Senegal en Afrika is, sal die nuwe, jong en radikaal-linkse president van Senegal se verbintenis tot demokratiese beginsels oor die volgende maande getoets word.
Rwanda is ʼn stabiele land, maar met ʼn toenemend outoritêre regering en ʼn swak en ondermynde opposisie. Die vraag is of enige opposisie in vanjaar se verkiesing in dié land sterker na vore sal kan tree.
Suidelike Afrika is steeds die mees stabiele en demokratiese streek op die vasteland. Kiesers in Namibië, Botswana en Suid-Afrika sal sekerlik die huidige geloofwaardige demokratiese prosesse in stand hou, terwyl kiesers in Mosambiek voor ernstige vraagstukke oor hulle land se toekoms te staan kom. ʼn Versterking van die demokrasie in Mosambiek kan wesenlik tot die stabiliteit van die streek bydra.
ʼn Presidentsverkiesing sal ook later vanjaar in nog ʼn redelike gesonde en stabiele demokrasie, Ghana, plaasvind. Die groot vraag is egter of lande in Afrika wat die afgelope paar jaar staatsgrepe gehad het weer na die demokrasie sal kan terugkeer. Die eerste toets is in Tsjad. Dit is sterk te betwyfel of Mali, Niger en Burkina Faso egter vanjaar nog verkiesings gaan hou.
Verkiesings in ʼn veranderende wêreld
Globale magsverhoudinge is tans ernstig versteur en dit gaan oor die volgende paar jaar herbedink moet word. Dit gaan waarskynlik ontwrigtend wees. Konflik is selfs moontlik.
Daarmee tesame word internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies en die Veiligheidsraad deur die globale magstryd lamgelê en verloor hulle hul invloed. Vrae word gevra oor die toekoms van Navo, veral met oorlog in Oos-Europa. In Europa neem die druk toe vir ʼn beter omlynde mandaat aan die Europese Unie (EU) en groter soewereiniteit vir EU-lidlande.
Daar is tans ʼn globale bevolkingsverskuiwing aan die gang. Honderde miljoene mense in Afrika, die Midde-Ooste, arm Asiatiese lande en armer lande in Latyns-Amerika probeer toenemend om na die VSA, Kanada en Europa te emigreer, dikwels onwettig. Ook die ryker lande in Asië soos Japan en Suid-Korea kan oor die volgende paar jaar hierdeur geraak word. Australië en Nieu-Seeland word ook ernstig geraak deur onwettige immigrasie.
China se toenemend onbillike handelspraktyke, waardeur plaaslike vervaardigers deur subsidies die geleentheid kry om makliker globaal mee te ding, gaan meer vyande as vriende vir dié land maak. Verwag meer proteksionistiese wetgewing regoor die wêreld om plaaslike bedrywe teen Chinese invoere te beskerm.
Ná die verkiesing in Indië sal die Weste sy bande met dié land moet versterk in ʼn poging om China se invloed teen te werk. Indië se versigtige balans in verhoudinge tussen die Weste en Rusland gaan getoets word.
Daar is min rede om te glo dat Afrika se probleme oor die volgende paar jaar minder gaan word. Juis daarom is dit belangrik dat Suid-Afrika die toon moet aangee met sterk demokratiese instellings wat geloofwaardige verkiesings, vrye media, ʼn sterk burgerlike beweging en veerkragtige internasionale kontakte insluit.
Die verkiesing in Suid-Afrika sal sonder twyfel internasionaal dopgehou word. Enersyds omdat kommer toeneem oor Suid-Afrika se toenemend nouer bande met Rusland, Iran en China, maar ook weens groeiende vrees oor die land se politieke stabiliteit. Opposisiepartye en burgerlike instellings het ʼn plig om van hulself te laat hoor en om ʼn alternatiewe boodskap aan die res van die wêreld oor die Suid-Afrika van die toekoms oor te dra.
Lees ook: Terugkeer na Suid-Afrika: Gebruik Werknet om ’n werk te vind
Werkfasilitering
As ‘n gemeenskap moet ons mekaar help om werk te kry en moet ons mekaar se vaardighede benut. Elkeen wat wil werk, moet kan werk, vry van inmenging deur die staat. Solidariteit is dié bymekaarkomplek vir elkeen wat poste wil plaas of vir poste wil aansoek doen. Dit is werkfasilitering vir ons gemeenskap – Solidariteit skep ʼn plek met integriteit vir ernstige mense wat regtig wil werk.
Besoek Werknet vandag nog by www.werknet.co.za.