’n Suid-Afrikaanse Kersfees in Korea: Tradisies, realiteite en verlange

10/12/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
’n Suid-Afrikaanse Kersfees in Korea: Tradisies, realiteite en verlange

Deur Francois Pieters

Kersfees is vir baie van ons ’n tyd van warmte, tradisies en familie – maar wanneer jy jouself duisende kilometers van Suid-Afrika af bevind, kry die seisoen ’n heel ander kleur. In Suid-Korea, waar Kersfees nie as ’n familieviering leef nie, moet ’n mens jou eie manier vind om betekenis, warmte en ’n gevoel van huis te skep. Hier is ’n kykie na hoe ’n Suid-Afrikaanse gesin hulle Kersfees beleef in ’n land waar sneeu meer voorkom as Kersliggies – en waar tuisgewoontes dikwels jou enigste anker bly.

Korea vier nie regtig Kersfees nie. Die meeste mense ken dit net uit Westerse media, en probeer dit oppervlakkig naboots. Daar is ’n paar Kersbome in winkels en groter handelsname soos Hyundai, KIA, McDonald’s en Costco sit soms liggies op, maar die algemene atmosfeer is eenvoudig nie ’n feesgevoel nie.

Vir die meeste Koreane is Kersfees eerder ’n “couples day”, waar daar amper druk is om ’n kêrel of meisie vir die dag te hê. Koeke is ook deel van die moderne tradisie, maar selfs dit is besig om uit te sterf. Winkels en restaurante bly oop, sommige skole hou selfs klas, en die 26ste is ’n heel gewone werksdag.

Ons gesin probeer Kersfees so na as moontlik aan tuis vier, maar die gevoel is anders. Die een ding wat wel spesiaal is, is die sneeu – dit laat alles knus en snoesig voel, veral as jy binne warm sit.

Niks klop Suid-Afrikaanse kookkos op Kersdag nie. Oondgebakte skaap, hoender en ware huisdisse bly vir ons die hart van die viering. Nuwe disse probeer ons nie regtig nie, Suid-Afrika se smake wen elke keer.

Kersliggies is skaars en beperk hoofsaaklik tot groot, internasionaal bekende winkels. In woonbuurte self is dit maar bleek en hartseer. Daar is eenvoudig nie ’n kultuur van Kersversiering soos in die Westerse wêreld of in Afrika nie.

Ons hou vas aan ons Afrikaanse tradisies, behalwe vir kerk toe gaan – daar is net nie Afrikaanse kerke hier nie. Oukersaand hou ons gesinsetetjies en deel geskenke. Op die 25ste geniet ons ’n groot familie-ete, en op die 26ste is dit weer werk.

WhatsApp is ons redding. Video-oproepe en gereelde boodskappe help ons om deel te bly van familie se vieringe en oomblikke, al is ons kontinente van mekaar af. Dis nie soos ’n drukkie nie – maar dit hou jou verbind.

Kersfees in Korea is anders – minder glans, minder tradisie, minder familiegerig. Maar juis daarom word ’n mens se eie tradisies meer kosbaar. Ons maak ons Suid-Afrikaanse Kersfees waar ons kan: met skaap in die oond, geskenke op Oukersaand, sneeu buite die venster en warm herinneringe aan tuis. En al voel die oosterse wêreld soms ver van ons feestyd af, bly Kersfees ’n herinnering dat tuisgewoontes, geloof en familie nie vasgevang is in ’n plek nie – maar in die mense en tradisies wat jy saam met jou dra.

Deel jou Kersfees oor grense!

Ons hoor graag jou verhaal. Het jy ’n unieke tradisie, ’n kosbare herinnering of ’n nuwe manier waarop jy Kersfees in jou nuwe land vier? Vertel ons daarvan!
Deel jou foto’s, stuur jou storie of deel net ’n kort ervaring.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels