Deur Ilze Nieuwoudt
Dit is ’n welbekende feit dat die emigrasie van boere sedert die vroeë 1800’s uit die Kaapkolonie nie een, oorhoofsgekoördineerde, impulsiewe poging was nie. Die mense wat later as die Voortrekkers bekendgestaan het, het in groepies, oftewel trekgeselskappe, koers gekies noorde toe.
Die behoefte aan ’n beter heenkome was egter die samebindende faktor en nadat die Kommissie-trekke in 1834 onderneem is, is bevind dat die spreekwoordelike gras wel groener aan die anderkant is. Buiten vir die teleurstellende nuus van uiterse droogte van die een trek wat gaan ondersoek instel het in die gebied waar Namibië vandag is, was die verslag van die trekke uit die latere Natal en Transvaal positief. Daar is gerapporteer oor oorvloedige waterbronne en wild, genoegsame weiding en bowenal onbewoonde gebiede. Dié nuus het die vuur aan die brand gesteek en uiteindelik tot die Groot Trek gelei – ’n gebeurtenis wat oor etlike jare gestrek het.
Maar een vraag wat vir talle mense vandag nog hinder is: waarom trek? Waarom het gesinne – ma’s, pa’s, oumense, klein kinders – hul wortels in die Kaap uitgetrek en die vreemde, met sy talle gevare ingetrek?
In sy opspraakwekkende manifes wat op 2 Februarie 1837 in The Graham’s Town Journal gepubliseer is, verduidelik die latere prominente Voortrekkerleier Piet Retief wat die redes vir die trek was. Hier volg ’n kort opsomming van dié redes:
Geen vooruitsigte van vrede: Volgens Retief was daar “geen vooruitsigte van vrede of geluk” vir hul kinders nie aangesien die “oproerige” gedrag van leeglêers dié boere laat moed opgee het.
Vrystelling van slawe: Die trekkers het aangevoer dat die vrylating van hul slawe grootskaalse verliese ingehou het.
Voortdurende aanvalle: Die voortdurende aanvalle deur veral die Xhosa wat boere aan die Oosgrens van die kolonie ervaar het, het die boerderygemeenskappe geruïneer.
Strewe na vryheid: Die trekkers het na vryheid gestreef, ’n samelewing waar misdaad onderdruk sal word en waar ’n gesonde verhouding tussen werknemer en werkgewer sal heers.
Begeer rustigheid: In die manifes stel Retief dit duidelik dat die Trekkers graag ’n rustiger lewe wou lei as wat in die Kaapkolonie die geval was. Hy beklemtoon ook dat hoewel hulle nie daarop uitgaan om ander te “molesteer”, oftewel leed aan te doen nie, hulle hul lewens en besittings teen aanvalle sou beskerm.
Wet en orde: Retief verklaar dat wette deur die Trekkers opgestel en aan die kolonie gestuur sal word en dat ’n stelsel ingestel sal word om verraaiers in eie geledere te straf.
Vreedsame verhoudings: Volgens Retief se manifes was dit die Voortrekkers se voorneme om vreedsame verhoudings met die ander inwoners te kweek in die land waarheen hul trek en waarin hul hulself sal vestig.
Eie regering: Die Trekkers het hiermee hulself losgemaak van die Britse regering en Retief voer in die manifes aan dat die Britse regering niks verder van die Trekkers moet verwag nie en dat hulle graag voortaan hulself wil regeer.
Ten slotte skryf Retief die volgende treffende woorde in sy manifes wat nie net wys dat die Trekkers bewus was van die gevare wat op hulle wag nie, maar toon ook ’n vaste vertroue in God se beskerming. Hy skryf: “Ons verlaat nou die vrugbare land van ons geboorte, waar ons groot verliese en voortdurende ergenis moes ly, en betree ’n wilde en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ’n vaste vertroue op ’n alsiende, regverdige en barmhartige Wese, wie ons sal strewe om te vrees en nederig te gehoorsaam.”
Dié byna profetiese woorde van Retief sou in die komende maande en jare baie belangrik word vir die Trekkers, want nie net het hulle aansienlike teenstand, gevare en die dood in die oë gestaar nie, hulle het ook wel op God bly vertrou.
Lees ook: Oom Paul, sy soldate en die plein