Ons het beslis ’n koue winter agter die rug, maar vir alle belangstellende Suid-Afrikaners oorsee was die felste tornado die parlement se besluit om die mosie te aanvaar om grond sonder vergoeding te onteien. My wêreldwye opname toon dat een uit elke drie Suid-Afrikaners wat oorsee woon baie graag na ’n stabiele, veilige Suid-Afrika wil terugkeer – maar helaas! die groot held van die sakewêreld, president Cyril Ramaphosa, het maar net weer eens bevestig dat die ANC-beheerde regering eenvoudig nie in staat is om die beginsels van ’n markgedrewe ekonomie te snap nie. Hulle blyk ook nie op die gevoel van die gewone man op straat afgestem te wees nie, waarvan 70% werkloosheid as hul grootste bekommernis aangedui het en slegs 2% aandui dat boerdery hul doelwit is. Om die gerespekteerde Economist aan te haal (vertaling): “As die regering titelaktes opskeur, sal geen regdenkende in die Suid-Afrikaanse ekonomie investeer nie, en die ekonomie sal duik, soos Zimbabwe wys.”
Een van my gereelde pasiënte het die ekstreme gevolge beleef van ’n brutale leier wat nie twee keer geskroom het om titelaktes op te skeur nie: Josef Stalin. Dis haar aangrypende verhaal (vertaal deur AfriForum):
My Trans Siberiese Reis
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Rusland al die Baltiese State beset. Op 14 Junie 1941 is die eerste van vele groepe Litouers na Siberië gedeporteer. Dit was gesinne van staatsamptenare, militêre personeel, dokters, onderwysers en diesulkes. Dit was die wreedste deportasie van almal: Minder as 40% van gedeporteerdes het oorleef. Gesinne is geskei en vele het weens dié fel omstandighede gesterf.
Ná die oorlog was daar verskeie verdere deportasies, en my gesin is op 22 Mei 1948 gedeporteer. Die trein is uit tussen 40 en 50 veewaens van verskillende groottes bestaan; ons s’n was een van die groteres. Mense se besittings is op die vloere opgestapel met mense wat daarop gesit het. Daar was klein openinge aan die bokante van die waens en jong kinders het op die bagasie geklim om na buite te probeer loer. Daar was seker sowat 80 mense in ons wa. Aan die begin is daar geen kos aan ons gegee nie, maar later is kos wel voorsien, hoewel baie min. Die volledige treinreis van Litoue tot in Siberië het ’n maand geduur. Soms het die trein by stasies gestop sodat mense die toilette aan die kant van die treinspoor kon gebruik. Die haltes het soms ’n halfuur gehou, soms veel langer. Plaaslike mense het soms hul plaaslik verboude kos kom ruil vir die gedeporteerdes se besittings. Voorbeelde sluit ingelegde agurkies, kool of sampioene, maaskaas en melk. Die Litouers het met klerasie gesmous. Ons is natuurlik deurgaans deur gewapende wagte vergesel. Toe ons die Oeralgebergtes (by Jekaterinburg) bereik, is ons na ’n massiewe badhuis geneem waar mans en vroue geskei is, ons kaal uitgetrek het en toegelaat is om te was. Al ons klere is saam gestoom en toe terugbesorg, hoewel ek twyfel of almal hul eie klere teruggekry het. Ons reis het in Taishet in die suide van Siberië geëindig, twee dae se reis voordat ons die Baikalmeer bereik het. Ons is toe met trokke sowat 80 km in die taiga (ongerepte dennewoude) ingeneem. Hier is sommige gesinne deur die plaaslike inwoners gekies om op die plase en ander werksplekke te werk, maar omdat ons gesin soveel klein kinders gehad het, is ons en ander soortgelyke gesinne nie hier geplaas nie. Ons is verder in die wildernis ingeneem waar dinge heeltemal ongeorganiseerd was. Die behuising hier wa sin barakke wat voorheen vir Russiese gedeporteerdes in die 1930’s gebruik is. Ons gesin het ’n kamer van miskien 6 m2 gehad, met ’n steenstoof in die hoek van die vertrek. Daar was my ouers (beide 45 jaar oud) en ons vyf kinders, tussen vyf en 12 jaar oud (ek was vyfjarige). Kleiner gesinne moes dieselfde grootte vertrekke deel. Ons het vir ses jaar daar gewoon. In die winter is die vensters heeltemal toegeys en gereeld ook toegesneeu. Ons moes 2 km skool toe loop. Ons het meestal aartappels geëet, en ons het gereeld diere (’n varkie, kalf en hoenders) in ons enkel vertrek aangehou in die koudste deel van die winter toe hulle nog jonk was.
Die winters was uiteraard koud, maar ongelooflik mooi. Die lewe was moeilik vir ons ouers, maar ons jonger kinders, wat nie van beter geweet het nie, het dit gelate aanvaar. Almal van ons moes van ons dertiende jaar af in die drie maande van die somervakansie werk. Laerskooluse was tussen 8:00 en 12:00 en hoërskool tussen 8:00 en 13:00, miskien 14:00 – ses dae ’n week. Kort ná Stalin se dood is ons toegelaat om na Litoue terug te keer, maar nie na ons oorspronklike woongebiede nie. My pa het besluit dat ons in Siberië agterbly totdat ons skoolopleiding voltooi is. Ons is in 1954 toegelaat om na Sujetiha te trek, waar daar beter werksgeleenthede en skoolvooruitsigte was. My gesin het in 1965 na Litoue teruggekeer, hoewel my oudste broer agtergebly en later getroud is, en waar hy in 2016 dood is. My ander broers en susters leef nog.
Ná die Litouse onafhanklikheid in 1991 is ons oorspronklike huis en grond aan ons teruggegee. My ouers was teen daardie tyd reeds oorlede en my broers en susters wydverspreid. Ons houthuis was in ’n erge staat van verval. Dit was ’n lang hut, en ek het die ergste deel daarvan laat afbreek en herbou. Ons gebruik dit nou as ’n vakansiehuis (ek gaan binnekort soontoe). Die grond word aan ’n plaaslike boer verhuur.
Aldona Waterman
Die 1941-deportasies was die ergste, want die Russe wou van alle moontlike rebelle ontslae raak wat glo anti-Sowjet-sentimente gehad het – uitsluitlik weens hul sosiale stand, politiese affiliasies en geloofsoortuigings.
Ná die vernietigende oorlog moes mense in Siberië gaan werk, wat, die fel klimaat ten spyt, ryk is aan natuurlike hulpbronne. Stalin het dus as deel van die nasionaliseringsprogram op privaat eiendom beslag gelê en mense as gratis arbeiders na Siberië gestuur.
Daar word beraam dat 130 000 mense in totaal gedeporteer is, waarvan 70% vroue en kinders was. Dié syfer sluit egter nie die 150 000 politieke gevangenis in wat na die goelag-gevangenekampe gestuur is nie.
Aldona het my vertel dat sy eers op 11-jarige ouderdom elektriese ligte gesien het. Daar was geen dokters of hospitale nie, slegs ’n verpleegster aan die anderkant van die rivier. Hulle het hul eie groente verbou en het op hul eie vee staatgemaak. Sy sien hierdie tydperk egter vandag as ’n waardevolle lewensles, want sy was te jonk om al die weemoed te kon herken.
Pieter de Lange