Paul Kruger deur die oë van sy skoonkleindogter

10/10/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
joanna-kosinska-B6yDtYs2IgY-unsplash-scaled

Deur Alana Bailey

Talle biografieë is al oor Paul Kruger (Oom Paul) en sy vrou (Tant Gezina), geskryf, maar jaarliks op 10 Oktober wanneer ons sy geboortedag herdenk, wonder ek dikwels hoe ’n soort mens hy werklik was.

In die boekie, Die President en ek, wat in 1971 verskyn het, vertel Magdalena Elisabeth Eloff, gebore Güttmann (1881–1967), die eggenote van sy kleinseun Frikkie Eloff, meer oor die ou president soos sy hom leer ken het. Sy het haar herinneringe neergepen toe sy al oor die sewentig jaar oud was en haar dogter het gesorg dat dit na haar dood gepubliseer is.

Haar herinneringe strek van 1896 voor haar troue met Frikkie tot hulle verblyf saam met Oom Paul in Europa tot sy dood in 1904. Veral haar herinneringe aan die tyd saam met die Krugers in Pretoria voor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) bied ’n kosbare skat van inligting oor dié besondere man.

Magdalena, of Madge soos sy genoem is, het Oom Paul aanvanklik deur die oë van Frikkie leer ken. Frikkie en sy neef Piet Grobler, het beide van jongs af by sy oupa en ouma ingewoon sodat hulle in Pretoria kon skoolgaan. Hulle ouers het in die omgewing van Rustenburg geboer, maar daar sou hulle nie sulke goeie onderrig as in Pretoria ontvang nie. Frikkie het vertel dat hulle versigtig vir hulle streng oupa was, maar dat hy hulle altyd regverdig behandel het. As hulle gehoorsaam was, het Frikkie en Piet elke maand goue ponde as sakgeld by hom gekry. Ouma Gesina het hulle in die geheim egter ekstra geldjies in die hand gestop. 

Madge se eerste ontmoeting met Kruger was dramaties. Sy en Frikkie was lank verlief op mekaar, maar telkens het gebeure hulle weë laat skei. Na sy hom lank nie gesien het nie, het sy aanvaar dat Frikkie haar vergeet het. Op ’n dag het die president se koets egter onverwags voor haar huis stilgehou en een van Frikkie se neefs het haar kom vertel dat Frikkie dodelik siek was. In sy koorsdrome het hy na haar bly roep.  Oom Paul het gevolglik besluit sy moes die pasiënt dringend kom besoek. Met haar aankoms by die Krugers se huis, het Oom Paul vir die familie wat om Frikkie se bed waak, gesê: “Hier is Aurora nou, … nou sal Freedrik seker tevrede wees.” Oom Paul het Madge skynbaar soms Aurora of Lenie genoem – waarom het niemand geweet nie.

Sy beskryf hom so: “… hy was baie saggeaard en vriendelik. Tog het hy my aan ’n leeu laat dink met sy massiewe kop en harde stem, en daarby was hy ’n groot man! Sy oë was donkerbruin, amper swart, en hulle het ’n mens deurdringend aangekyk, nogtans met ’n vonkeling in hulle dieptes. Dit het my gerusgestel, en ek het later uitgevind dat hy ook werklik ’n sin vir humor gehad het. Hy was seker maar ’n platjie in sy jong dae.”

Frikkie het herstel en sy is op vyftienjarige ouderdom met hom getroud. Hy was toe twintig. Hulle het aanvanklik by Oom Paul en Tant Gezina ingewoon. In dié tyd ervaar sy Oom Paul as ’n man van min woorde, altyd met sy pyp in sy mond en die Bybel langs hom. Hy het dikwels Bybel gelees ten spyte daarvan dat hy baie las van sy oë gehad het.  

Dr. Heymans het na sy oogprobleme omgesien. Op ’n keer het die dokter gevra dat Oom Paul tog ter wille van sy sig minder moes rook. Net een pyp per dag, het die dokter aanbeveel. Oom Paul het Frikkie gestuur om vir hom ’n reuse kalbaspyp te gaan koop, dit vol tabak gestop en heeldag daaraan gerook. Die arme dr. Heymans moes maar net sy kop skud!

Soggens om vyfuur, wanneer Oom Paul en Tant Gesina al hulle tweede koppies koffie drink, is die res van die huishouding wakkergemaak vir oggendgodsdiens. Saans is daar ook aandgodsdiens gehou, waarby die dames in die huis hulle hoofde moes bedek.

Oom Paul het van eenvoudige Boerekos gehou. Sy gunsteling nagereg was ’n kommetjie met brood in melk ingekrummel – ’n gewoonte waarmee hy selfs in Europa volgehou het.

Tydens hulle tyd saam in die huis in Kerkstraat, Pretoria, wat ons vandag as die Krugerhuismuseum ken, besef Madge dat Oom Paul ’n man met ’n oneindige liefde vir sy vrou en kinders was, koersvas in sy geloof en iemand wat leuens nie kon verdra nie.

Nog ’n mooi staaltjie uit die tyd is dat Oom Paul ’n brief van ’n dame uit Engeland ontvang het. Sy het sy hulp ingeroep om haar seun te vind wat as masjinis in die ZAR kom werk het. Sy het maande laas van die seun verneem en was baie bekommerd oor hom.  Oom Paul het dadelik na die seun, Harry Leach, laat soek. Hy is op Pretoriastasie gevind en na Oom Paul se huis gebring. Na hy ernstig berispe is omdat hy sy moeder so verwaarloos het, het Oom Paul Leach na Tant Gezina gestuur om op koffie en beskuit getrakteer te word. Leach het  dadelik aan sy moeder geskryf en Oom Paul het ook ’n briefie ingesluit om die dame gerus te stel.

Hierdie gesellige samesyn van die Krugers, hulle kinders en kleinkinders het met die aanvang van die Anglo-Boereoorlog ten einde geloop. Op 19 Oktober 1900 het Oom Paul na Europa vertrek en Tant Gezina het in Pretoria agtergebly. Hulle sou mekaar nooit weer sien nie. Sy is op 20 Julie 1901 alhier oorlede en hy op 14 Julie 1904 in Clarens, Switserland. Hulle is langs mekaar in die Heldeakker in Pretoria begrawe.

Foto:joanna-kosinska-unsplash

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels