Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Die waarde van kultuur en erfenis in die buiteland

26/08/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Die waarde van kultuur en erfenis in die buiteland

Vir baie Suid-Afrikaners wat oorsee woon, bly die behoud van hul taal, kultuur en tradisies ’n belangrike deel van hul identiteit. In hierdie artikel deel ons stories van Suid-Afrikaners regoor die wêreld wat hard werk om hul Afrikaanse wortels lewendig te hou, selfs al is hulle duisende kilometers van hul geboorteland af.

Pieter le Roux: Queensland, Australië  

Ons het ’n bewuste besluit geneem om Afrikaans as ons huistaal te behou, ten spyte van die feit dat ons kinders in ’n Engelsmediumskool is. Ons glo dat dit belangrik is vir hulle om hul kulturele identiteit te behou.

Ons speel gereeld ’n verskeidenheid Afrikaanse musiek, van die ou “classics” tot die nuwe treffers, om hulle met hul erfenis te verbind. Nog ’n tradisie wat ons steeds behou, is die tandemuis wat nog steeds by ons kinders kom kuier (nie die “tooth fairy” nie). Ongelukkig vir Mamma en Pappa betaal hy hier nie meer in rande nie, maar wel in dollar.

Carmen Prinsloo Ebersohn: Bishkek, Kyrgyzstan

Ja, ons praat nog Afrikaans by die huis en die skool met mekaar en ons kinders. Ons kinders is mal oor mieliepap en een liedjie van Carike Keuzenkamp – “Die Paddakonsert” (te danke aan hul oupa wat dit herhaaldelik gespeel het toe hulle gebore was).

Carlien van Aardt Kotzé: Nederland 

Ons praat nog Afrikaans by die huis en tussen ons Afrikaanse vriende hier. Ons is ’n groep van vyf Suid-Afrikaanse families in ons dorpie wat gereeld saam kuier.

Die skool het ons ook aangemoedig om Afrikaans met ons kinders te praat sodat hulle ’n goeie taalfondasie kan bou. Ons wil nie Nederlanders word nie; ons wil Afrikaners wees wat in Nederland woon. Gelukkig het ek my Kook en Geniet saamgebring uit Suid-Afrika, so beskuit bak en eie vetkoekdeeg maak is iets wat ek hier moes leer.

Marli van der Bijl: Melbourne, Australië

Ja, ek en my man praat Afrikaans in die huis. Selfs al praat ons van kleins af Engels en word ons ons lewe lank al aan Engels blootgestel, is dit steeds asof die siel in Afrikaans dink.

Ek wens soms my Australiese vriende kon my in Afrikaans ken; ek dink ek druk myself die maklikste uit in my moedertaal en daar is ’n stukkie van my wat dalk altyd vir hulle verborge sal bly.

Daar is ’n deel van my wat altyd Suid-Afrikaans sal bly. Dit is die land wat my gevorm het. Ek sien myself egter as ’n aanpasbare, groeiende wese en skop nie vas daarteen om verryk te word deur my nuwe omgewing en die uiteenlopende mense wat ek elke dag teëkom nie.

Deon du Plessis, Nederland

Natuurlik praat ons Afrikaans. Selfs my Engelse skoonseun probeer sy bes. Ek is ’n Afrikaanssprekende en sal altyd trots wees daarop. Selfs my Engelse/Nederlandse/Afrikaanse kleinkinders praat vlot Afrikaans!

Magdel Jansen van Vuuren, Kanada

My Afrikaanse herkoms is BAIE belangrik vir my, omdat ons nie eendag in Kanada wil aftree nie. Ons praat Afrikaans in die huis en my dogtertjie word aan Afrikaanse woorde, boeke en stories blootgestel.

Ons vier ook al die Suid-Afrikaanse vakansiedae, ons glo steeds in ons tradisies wat ons gedoen het, en vier dit ook sover moontlik. Ons eet regte boerekos op Sondae, en pannekoek as dit reën. Ons maak ons eie boerewors en braai elke naweek as dit moontlik is.

Ons kyk Afrikaanse flieks en kinderstories op AfriForumTV (baie dankie, julle!)

Ek het ’n paar Afrikaanse boekies oorgebring vir my dogtertjie wat ek gebruik om vir haar kleure, woorde, vorms, klanke en diere te leer.

Dorette Vermeulen, Londen:

Ek dink nie ek was al ooit so trots daarop om Afrikaans te wees soos nou nie. Christopher, my man, is Engelssprekend, maar ons het besluit om soveel as moontlik Afrikaans by die huis te praat om die taal te behou. Ons is lief daarvoor om Afrikaanse woorde vir ons Britse vriende te leer.

Afrikaanse digkuns en my Afrikaanse Bybel was nog nooit mooier nie. Ons het wel nog nie kinders nie, maar ons kinders gaan beslis by die huis Afrikaans praat.

Natasha Viljoen, Nederland:

Ja, natuurlik praat ons Afrikaans en ons probeer seker maak dat ons dogtertjie ook Afrikaans praat al is sy in ’n Hollandse skool. Ons dra nog graag ons Suid-Afrikaanse truie tydens groot rugby of op braaidag, en ons probeer altyd klem lê op Geloftedag. Ek dink die grootste tradisie is om te braai, en dit doen ons nog so gereeld as moontlik.

Deel op

Nuutste artikels