Dit was Saterdag 4 November toe ek en Mariaan by die Plaasmoordprotes buite die Suid-Afrikaanse ambassade op Trafalgar-plein aangesluit het. Dit was grys en somber, tipiese November-atmosfeer en ons het nie geweet wat om te verwag nie, want ons is nie regtig politieke aktiviste van enige soort nie. Maar Mariaan se niggie Tilla en haar man Piet van Zyl is in Augustus op ‘n plaas in Limpopo vermoor – dit was die tweede plaasmoord in haar familie – en ons het genoop gevoel om een of ander vorm van protes aan te teken.
Toe ons in Februarie in Kaapstad was, is Danie Kilian – ‘n pensioenaris – dae voordat ons my stiefma daar moes besoek en net twee strate van ons huis af in Leeupoort in sy huis doodgeskiet. Dit was nóg ‘n wrede skok. By die protes was ons aanvanklik ‘n klein en stil groepie, maar dit het geleidelik gegroei op die sypaadjie voor die ambassade tot ‘n aansienlike skare. Die gevoel was ‘n mengsel van rou, hartseer en woede: Rou oor die verlies van geliefdes, wat vererger word deur die wrede manier waarop hulle vermoor is; hartseer oor die sinneloosheid van hierdie dade; en woede oor die onverskillige, nuttelose ANC-regering.
Soos mens op die foto kan sien, was ons meestal wit, maar verskeie swart sprekers het ook hul frustrasie geopper en een swart dame was oortuig dat die mense in die regering geweet het wie hierdie oortreders is en niks sal doen om hulle te keer nie. Die oorweldigende gevoel is uitgespreek in die dreunsang wat ons ‘n paar keer herhaal het. Dit kom daarop neer dat ons Suid-Afrika en al sy mense liefhet; dat ons misdadigers en wat hulle aan ons doen, haat; dat ons ’n afkeer het aan rassehaatslagspreuke (Kill the Boer, kill the farmer, wat deur Malema en ander gepropageer word); en dat ons verenig is in ons strewe na ’n beter land vir almal. Ons het eintlik beter gevoel omdat ons vertrou het dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners dieselfde voel.
Toe AfriForum ons gevra het om die plaasmoordinligtingsblad te versprei, het ek die Suid-Afrikaanse Hoëkommissaris gekontak en gevra vir die geleentheid om dit te oorhandig aan die waarnemende hoëkommissaris, mnr. Golden Neswiswi, maar het geen reaksie gekry nie. Ná ‘n paar oproepe het ‘n behulpsame me. Lyn de Jong, minister van korporatiewe dienste, aangebied om toe te sien dat die kantoor van die Hoëkommissaris die navorsingsdokument ontvang wat ek per e-pos gestuur het, asook die versoek om dit persoonlik te oorhandig, maar helaas – mnr. Neswiswi het geantwoord dat daar ‘kennis geneem is van’ die memorandum, maar my versoek om dit persoonlik te oorhandig, is geïgnoreer.
In teenstelling hiermee was ons plaaslike LP, mnr. Gordon Henderson, baie behulpsaam en vol begrip.