So gooi ons die Rooitaal

30/07/2020
| Deur Marisa Haasbroek
clem-sim-nN0fH9A-1a8-unsplash-scaled

Amerikaners hou meestal nie hulle lyf taalpolisie nie. Hulle sal jou nie sommer reghelp oor ʼn “is” wat ʼn “are” moes gewees het nie. Vir my as tweedetaalspreker met ʼn aksent is dit goeie nuus. Danksy hierdie gesindheid oefen ek vrymoedig aan my Engels en praat dit na vyf jaar in Amerika baie vlotter.

Soms vang ʼn uitdrukking my egter steeds onkant. Soos: “That’s not in my wheelhouse.” Dit kom van bofbal. Ek moes geweet het! Dit beteken iets maak nie deel uit van my kundigheid nie.

Nou die dag vertel ek vir ʼn Amerikaanse vriendin iemand het nie opgedaag vir ʼn afspraak nie. “She didn’t pitch,” sê ek. My vriendin frons. “She didn’t show up,” bied ek aan. Toe ek dit later gaan naslaan, sien ek “someone didn’t pitch up” is ʼn Britse uitdrukking. Die Britse Empaaier se skaduwee is lank.

Ja, ek weet die Amerikaners was lank, lank gelede ook deel van die Britse wêreld, maar hulle is nou al amper 250 jaar ʼn aparte nasie. En dit wys.

Op ʼn groot Facebook-groep vir ekspats vra iemand nou die dag in watter land Suid-Afrikaners die graagste wil bly. Australië wen loshande. Die klimaat, die lekker buitelewe, die Suidelike halfrond (wat beteken die seisoene is soos jy daaraan gewoond is) rugby en krieket was van die pluspunte wat genoem is. My sus, wat in Australië woon, sê hulle is aan die begin gereeld reggehelp as hulle Engels verkeerd praat. Sy is ʼn onderwyseres en ʼn leerder vra eendag vir haar waarvandaan sy kom. Was hy verbaas toe sy Suid-Afrika sê! Hy het gedink sy kom van Rusland af. Aai, daardie rollende r’e.

Suid-Afrikaners wat in Kanada woon, het hulle keuse moedig op die groep probeer verdedig, maar die konsensus was: Te koud daar. Kanadese help jou ook graag reg oor jou taal, het ons agtergekom. Die kernkragsentrale waaraan my man werk, is in baie opsigte perfek vir Kanada. Hulle is baie “groen” en op soek na skoon energie. Daarom het die maatskappy nou ʼn kantoor in Kanada geopen. Saam met my man werk ʼn stuk of ses Afrikaanse ingenieurs. My man spot hy het in die Vrystaat grootgeword en jy kan dit aan sy Engels hoor. ʼn Kollega sê altyd hulle klomp Boere praat Engels net uit selfverdediging. Jy kan jou goed voorstel hierdie spannetjie se geskrewe Engels is nou nie juis op Cambridge- of Oxford-standaard nie. Tot dusver was hulle Amerikaanse kollegas min gespin daaroor. As die ontwerptekeninge sin maak en die somme uitwerk, is hulle tevrede. Nie die Kanadese nie. Nie honderd jaar na die nuwe kantoor oopgemaak het nie stel hulle ʼn taalversorger aan om die Boere se Ingels in tegniese verslae reg te ruk. Onthou dis Kanadese, dus word meer kere “sorry” en “excuse me” in die e-posse gesê as wat daar yshokkie spelers in die land is. Nietemin, hulle mag beleefd wees, maar hulle is beslis – die taal moet reg wees.

Ja, ons Afrikaners pas aan in die vreemde. Ons gooi die Rooitaal as dit moet. Maar baie van ons se harte is steeds brandend om in Afrikaans te mag leef en werk en dink. Te mag skoolgaan en grootword en liefkry. Te mag bid en oudword en selfs sterf.

Deel op

Nuutste artikels