Suid-Afrikaners maak ’n verskil vanuit Perth, Australië

13/11/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Suid-Afrikaners maak ’n verskil vanuit Perth, Australië

In Desember 2018 het die eerste Afrikaanse Kerssangfees in Perth, Australia, afgeskop toe nagenoeg 700 Suid-Afrikaners wat nou in Australië woon, hande gevat het en ’n nostalgiese Kerskonsert ondersteun het wat duisende rande vir Helpende Hand se #StopHonger-veldtog ingesamel het.

Die musikant en predikant Joe Vermeulen en sy vrou, Cecile, het vroeër daardie jaar tydens ’n besoek van Solidariteit Helpende Hand in Australië bewus geword van die #StopHonger-veldtog, wat poog om vir 8 000 behoeftige kleuters daagliks ’n gesonde bord kos te gee.

“Ons woon al amper 15 jaar in Perth en bedien ons plaaslike gemeente – Grace Christian Reformed Church. Oor die jare het ons nog altyd Kersgesange saamgestel en gelei, wat ons treffend en met ’n goeie dosis nostalgie aanbied. Op daardie stadium het ons dit op ’n klein skaal gedoen, maar ná Helpende Hand se besoek het ons besluit om groot te gaan om geld vir #StopHonger en ons geboorteland se mense in te samel. Met die hulp van die musiekvervaardiger Byron Keno, my vrou, my gemeente en selfs lede van die wyer Perth-gemeenskap, het ons eerste Afrikaanse Kersgesangekonsert in Desember 2018 die lig gesien,” vertel Joe vanuit Perth.

Die span het aanvanklik gehoop om Edith Cowan University se Joondalup-ouditorium vol Afrikaners te kry, maar die belangstelling was só groot dat drie vertonings gehou moes word. Later toe verneem ons Engelssprekende Suid-Afrikaners en ’n paar plaaslike Aussies wil ook die die vertoning bywoon want hul het gehoor hoe spesiaal dit is, wat toe na ’n 4de vertoning lei wat ’n Engelse weergawe van die produksie is  – South African Carols in Perth.

“Oor die jare bly die opkoms asemrowend. Die mense sing lekker saam uit volle bors en baie mense vertel hoe hul trane in die oë kry soos die liedjies kosbare herinneringe terugbring.”

Om die Kerssangfees by te woon is ’n fantastiese gevoel. Ons kry elke jaar talle boodskappe van mense wat vir ons sê hoe baie hulle dit geniet het en dat ons dit asseblief weer moet doen. Elke jaar samel ons ten minste R100 000 in vir die werk van Helpende Hande. En dis ’n voorreg.

Hierdie jaar is ons sewende jaar om die Kerssangfees in Perth, Australia aan te bied.

By dié groot naweek se Kerssangfees kan kaartjiehouers ook die lekker atmosfeer van die Suid-Afrikaanse Kosfees en Kersmark geniet wat deur Grace Reformed Church aangebied word.

“Ons kan Joe, Cecile, Byron en Grace Christian Reformed Church Perth nie genoeg bedank vir die inisiatief nie,” het René Roux, adjunkbestuurshoof van Solidariteit Helpende Hand, gesê. “Ons is trots om met sulke rolspelers in die buiteland hande te vat en so te help om Afrikaner-armoede te verlig, verbreek en te voorkom. Om te sorg dat 1,5 miljoen borde kos vir honger kleuters gegee word, is nie ’n maklike taak nie. Met sulke omgeemense, word die taak makliker gemaak.”

Deel op

Nuutste artikels