Taal tel 10 – Dr. Frederick Botha en die eerste internasionale taalkongres van die Sol Plaatje Universiteit

19/10/2023
| Deur Alana Bailey
SPU-Kongres-2023-Foto-deur-Vuyiswa-Mpata-2048x1365-1

Deur Alana Bailey

Van 6 tot 8 September 2023 het die Sol Plaatje Universiteit ’n internasionale taalkongres aangebied wat die eerste was van ’n nuwe tweejaarlikse tradisie wat hiermee gevestig is.

Dr. Frederick Botha, lektor in Afrikaanse letterkunde aan die Sol Plaatje Universiteit, was deel van die komitee wat die kongres georganiseer het. Ná afloop daarvan het Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, met hom daaroor gesels.

Jy is een van die organiseerders van die besonder suksesvolle en insiggewende kongres – wat was die tema en hoekom het julle daarop besluit?

Dankie vir die kompliment. Dr. Felix Awung (Senior Lektor: Engels) was die voorsitter van die komitee. Die komitee het uit lede van die Departement Tale en Kommunikasie bestaan.

Aangesien hierdie taalkongres die eerste een was wat ons aangebied het, wou ons graag erkenning aan Solomon T. Plaatje gee na wie die universiteit vernoem is. Daar is dus op die volgende tema besluit: “Servants of Africa – African Languages in the 21st Century”. Hierdie kongrestema is deur die nalatenskap van die veeltalige Plaatje en sy verskeie rolle as onderwyser, tolk, skrywer, vertaler en taalaktivis geïnspireer. Op Plaatje se grafsteen word hy as ’n “Dienaar van Afrika” gehuldig, daarom wou die kongres perspektiewe rondom inheemse tale verbreed, deur spesifiek erkenning te gee aan die rol wat hulle speel, nie net in Suid-Afrika en binne die Afrika-konteks nie, maar ook binne die breër globale konteks.

Is die program goed ondersteun?

Siende dat ons so ’n jong universiteit is wat hierdie jaar eers sy tiende bestaansjaar vier en dus nog besig is om onsself te vestig as ’n instansie wat belangrike navorsingswerk lewer, was ons onseker hoeveel belangstelling daar gaan wees. Boonop is dit alombekend dat kongresgangers verkies om die kongresse by te woon wat op “opwindende” plekke plaasvind waar daar ook geleentheid is om toeris te speel. Kimberley is nou nie juis bekend as ’n toeristebestemming waarheen mense stroom nie!

Die belangstelling wat ons egter ontvang het, het ons wildste drome oortref. Dit was ’n aanduiding van die passie wat daar vir ons inheemse tale bestaan, asook die erns waarmee daar met hierdie tale omgegaan word om hulle te bewaar en uit te brei. Oor die 60 referaatvoorstelle is ontvang vanuit Suid-Afrika, Namibië, Eswatini, Lesotho, Botswana, Zimbabwe, Nigerië, Ethiopië en selfs Japan! Byna al hierdie voorstelle is goedgekeur vir deelname aan die kongres. Uiteindelik was daar slegs 37 referate wat tydens die kongres gelewer is. Weens uitdagings met befondsing en logistieke probleme om na Suid-Afrika te reis, moes baie van die kongresgangers ongelukkig onttrek. Die referate wat tydens die kongres gelewer is, was vanaf Suid-Afrika, Eswatini en Lesotho.

Benewens akademici en nagraadse studente van Sol Plaatje Universiteit, is die volgende universiteite tydens die kongres verteenwoordig: Stellenbosch Universiteit (US), Universiteit van Johannesburg (UJ), Noordwes-Universiteit (NWU), Nelson Mandela Universiteit (NMU), Universiteit van Fort Hare (UFH), Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), Universiteit van Limpopo (UL), Universiteit van Eswatini (UNESWE) en die Nasionale Universiteit van Lesotho (NUL), asook die Durbanse en Sentrale Universiteite van Tegnologie (DUT en CUT). Dit was vir ons baie opwindend dat dit nie net akademici is wat deelgeneem het nie, maar ook instansies en belangeorganisasies soos SADiLaR en AfriForum.

Dit was vir my ook ’n groot voorreg om referate daar te kon aanbied! Wat was van die interessante aanbiedings?

Dit is onmoontlik om enige aanbiedings uit te sonder! Die referate het op verskeie aspekte van inheemse tale gefokus, soos letterkunde, sosiolinguistiek, vertaling, tolking, gebaretaal, asook taalonderrig, -beleide en -regte. Vir my was die hoofreferate beslis ’n hoogtepunt. Vyf hoofredes is deur vooraanstaande figure verteenwoordigend van elke vakgroep in die Departement Tale en Kommunikasie gelewer. Die hoofsprekers was soos volg: Anzil Kulsen (Afrikaans), Sindiswa Busuku (Kreatiewe Skryfkunde), dr. Eileen Pooe (Setswana), prof. Niklaas Fredericks (Nama) en prof. Henry Thipa (isiXhosa).

Die bekende Noord-Kaapse skrywer en taalaktivis, Anzil Kulsen, het op Afrikaans as inheemse taal gefokus, asook die verskillende variëteite van Afrikaans. Die fokus van prof. Niklaas Fredericks van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie was die huidige status van die Khoe- en San-tale, veral Khoekhoegowab/Nama/Damara. Taalaktivis, prof. Henry Thipa, het kongresgangers toegespreek oor sommige van die uitdagings wat Afrikatale in die gesig staar en die pogings wat aangewend is, of aangewend word, om hierdie uitdagings op te los. Dr. Eileen Pooe van die Noordwes-Universiteit se lesing het op Sol Plaatje as beide wêreldburger en dienaar van Afrika gefokus. Bekroonde skrywer Sindiswa Busuku van die Universiteit van Kaapstad het kongresgangers met ’n voorlesing uit haar komende eksperimentele manuskrip getiteld, And, In Those Honeyed Regions of Darkness, bederf.

Was daar enige gevolgtrekkings na afloop van die program?

Aan die hand van die referate wat aangebied is, asook die gesprekke wat daardeur ontketen is, was dit duidelik dat daar verskeie deurslaggewende kwessies is wat die inheemse tale beïnvloed, waarvan die publikasie van literatuur in spesifiek gemarginaliseerde taalvariasies die grootste is. Onder leiding van dr. Yusuf Feltman van die Universiteit van Johannesburg is daar besluit om ’n werkgroep te vorm om hierdie publikasiekwessie aan te spreek. Belangstellendes wat deel van hierdie projek wil vorm, is welkom om vir dr. Feltman te kontak by yfeltman@uj.ac.za.

Beplan julle soortgelyke byeenkomste in die toekoms?

Beslis! Die kongres was ’n groot sukses, en daarvoor sê ons dankie aan al die kongresgangers wat sulke belangrike, interessante en stimulerende referate gelewer het. Die visekanselier van Sol Plaatje Universiteit, prof. Andrew Crouch, was só beïndruk dat hy goedkeuring gegee het dat die kongres voortaan as een van die amptelike geleenthede op die universiteit se kalender sal dien. Die volgende kongres word vir 2025 beplan, en die uitdaging is nou om die sukses van die eerste een te oortref!

Ten slotte, oor SPU – as ’n voornemende student ’n liefde vir taal koester en daar wil studeer, watter tale word aangebied?

Die tale wat voorgraads aangebied word, is Afrikaans, Engels, Setswana, isiXhosa en Gebaretaal. Kreatiewe Skryfkunde word ook aangebied. Tans word slegs Afrikaans en Engels nagraads aangebied (honneurs en meestersgraad), met die PhD-programme vir hierdie twee tale wat hopelik in 2025 sal begin. In 2024 begin die honneursprogram vir Setswana, en in 2025 sal isiXhosa ook op honneursvlak aangebied word.

Waar kan mense meer inligting oor beide die kongres en studie-opsies bekom?

Inligting oor die volgende kongres van 2025 sal op LitNet verskyn, asook op die universiteit se webwerf: www.spu.ac.za.

Enige navrae oor studie-opsies in die Departement Tale en Kommunikasie kan aan die departementshoof, dr. Marga Stander, gerig word: marga.stander@spu.ac.za. Belangstellendes kan ook verdere inligting oor die Departement Tale en Kommunikasie en die Skool vir Geesteswetenskappe op die universiteit se webwerf vind: https://www.spu.ac.za/index.php/humanities-overview/.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels