Taalhelde 11 – Die helde van Bloedrivier en die rol van latere taalhelde

27/11/2025
| Deur Alana Bailey
Taalhelde 11 – Die helde van Bloedrivier en die rol van latere taalhelde

In aanloop tot die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838) het die Voortrekkers besef dat hulle teen ’n groot oormag ervare Zulukrygers te staan sou kom. As onderskeidelik die geestelike en militêre leiers van die Wenkommando (soos dit later sou bekendstaan) het Sarel Cilliers en Andries Pretorius gemeen dat die Here se hulp vir dié botsing op ’n besondere wyse gevra moes word. Hulle het besluit om dit deur middel van ’n gelofte te doen.

Die ontstaan van die Gelofte van 1838 is al aan ’n verskeidenheid bronne toegeskryf. Omdat die Voortrekkers parallelle tussen hulle situasie en dié van die volk Israel in die Ou Testament gevind het, was die aflegging van ’n gelofte vir hulle ’n aanvaarbare aksie.

Die skrywers van die Nadere Reformasie in Nederland het ook ’n belangrike rol in hulle geestelike lewens gespeel. Een van hulle was Wilhelmus à Brakel en baie Voortrekkers het sy boeke besit. In sy werk Redelijke Godsdienst het hy voorskrifte vir die aflegging van geloftes in fyn besonderhede uiteengesit. Die aanhalings uit die Bybel wat hy ingesluit het, is in 1838 deur Cilliers aangehaal.

Waar en wanneer die Gelofte die eerste keer afgelê is, is nie seker nie. Een moontlikheid is dat dit (volgens Cilliers se herinneringe) op 7 Desember 1838 by Danskraal plaasgevind het. Jan Bantjes, wat as sekretaris van die kommando dagboek gehou het, het weer na 9 Desember en Wasbank verwys. Dit is wel seker dat die Gelofte voor die slag saans afgelê is wanneer die kommando vir aandgodsdiens byeen was.

Cilliers het telkens die woord gevoer. Eers het almal Psalm 38, verse 12 tot 16 gesing, waarna hy vurig tot God gebid en die eerste 24 verse van Rigters 6 gelees het. Dié skrifgedeelte handel oor Gideon en sy manne wat teen ’n oormag Midianiete uitgetrek en laasgenoemde wonderbaarlik oorwin het. Cilliers het ook verwys na Jefta se gelofte in Rigters 11, verse 30 tot 40. In ’n nagebed het hy die Gelofte namens die kommando afgelê en hulle het met ’n gesamentlike “amen” hulle instemming hiermee betoon. Ten slotte is Psalm 38, verse 12 en 21, asook Psalm 134 gesing.

Die Gelofte van 1838 is óf nêrens woordeliks aangeteken nie, óf het nie in die oorspronklike vorm op skrif bewaar gebly nie. Wanneer ’n mens in ag neem dat dit in die vorm van ’n gebed afgelê is, maak dit sin dat niemand dit tydens die aflegging neergeskryf het nie. ’n Gebed word uit eerbied immers selde, indien ooit, genotuleer.

Verskeie weergawes daarvan is wel deur ooggetuies op skrif gestel. Die oudste hiervan word in Jan Bantjes se joernaal aangetref. Dit is moontlik op of pas na 9 Desember 1838 aangeteken. Hy het dit só beskryf:

Des Zondags morgens, voordat de Godsdienst begon, liet de Hoofd-Kommandant degenen die de Godsdienst zouden verrigten, by malkander komen, en verzocht hen, met de gemeente te spreken, dat zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogt bidden, om zyne hulp en bystand, in het slaan tegen den vyand; dat hy aan den Almagtigen een gelofte doen wilde, (indien allen wel willen), — ‘om zoo de Heere ons de overwinning geven mogt, een Huis tot zyns Grooten Naams gedachtenis te stichten, alwaar het Hem zal behagen,’ — en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy den dag der overwinning, in een boek zullen aanteekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdathe t teh [sic] Eere van God gevierd mag worden.

’n Weergawe van die Gelofte verskyn ook in ’n brief wat hoof-kommandant Andries Pretorius op 23 Desember 1838 aan die Volksraad gerig het. Dit lui:

Verder wensch ik UE. ook ter kennisse te brengen, dat wy alhier onder elkanderen besloten hebben, om den dag onzer overwinning, zynde Zondag, den 16 dezer maand December, onder ons gansche geslacht te doen bekend worden, en dat wy het aan den Heer willen toewyden, en vieren met Dankzeggingen, zoo als wy, voor dat wy tegen den vyand streden, in het openbaar gebed beloofd hebben, zoo ook, dat zoo wy de overwinning verkrygen mogen, wy den Heere tot zyns naams gedachtenis, een huis stichten zullen, alwaar Hy ons zulks aanwyzen zal; welke geloften wy nu ook hopen te betalen, met de hulp des Heeren, nu hy ons gezegend, en onze gebeden verhoord heeft.

Sarel Cilliers en sy familie het deur die jare na 1838 die Gelofte getrou herdenk. Sy weergawe dateer uit ongeveer 1870. Dit is langer as die vorige twee weergawes, wat die vermoede laat ontstaan dat Cilliers meer daarin geïnterpreteer het, as wat Bantjes en Pretorius gedoen het. Sy bewoording is ook nie in die vorm van ’n gebed nie, maar klink eerder na die wyse waarop hy die Gelofte aan die kommando of by later jare se herdenkings verduidelik het. Dit klink só:

Mijne Broeders en medelandgenoten, hier staan wij thans, op eene Ogenblik voor een Heilige God van Hemel en aarde, om een belofte aan Hem te beloven als Hij met zijne bescherming, met ons zal wezen en onze vijand in onze handen, zal geven dat wij die dag en datum, elk jaar als een verjaarsdag en een dankdag, zoo als een Sabbath en Zijne eere, dienen zal, doorbrengen en dat wij het ook aan onzen kinderen zal zeggen, dat zij met ons erin moeten deelen, tot gedachtenis, ook voor ons opkomende geslagten, en als iemand is die er onder bezwaard bevind, dat die dan van deze plaats weg moeten gaan, want de eere van Zijn naam daaroor zal verheerlijk worden dat de roem en eer van overwinning, aan Hem zal worden gegeven.

In 1919 het die teoloog en historikus G.B.A. Gerdener se biografie oor Cilliers verskyn. Daarin het hy Cilliers se weergawe uit ander primêre bronne aangevul en die teks so na as moontlik aan die oorspronklike probeer rekonstrueer. Hierdie weergawe is die een wat ons vandag ken, maar was aanvanklik nog in Nederlands. Eers teen 1962 is dit deur die letterkundige W.E.G. Louw in Afrikaans vertaal. Die FAK het ’n muurkaart met die Afrikaanse bewoording laat druk en dit is wyd versprei. Dit lui:

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat sal deurbring; en dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Wanneer bogenoemde vier weergawes vergelyk word, kan min verskille daartussen gevind word. Bantjes was die enigste persoon wat vermeld het dat die dag geboekstaaf moes word, ’n feit wat vir hom as sekretaris belangrik was, terwyl Cilliers nie die bou van ’n kerk genoem het nie (moontlik omdat die Voortrekkerkerk in Pietermaritzburg teen 1870 reeds voltooi was). Wat belangrik is, is dat al die weergawes spreek van dieselfde eerbied jeens God, noem dat die eer van die oorwinning aan Hom alleen moet gaan en dat dít is wat herdenk moet word. Hierdie sentiment het die hoeksteen gevorm waarop die meeste latere herdenkings van die Gelofte berus het.

Wanneer ons die Gelofte lees, dit saam met ander wat die dag herdenk herhaal, of na die lied Die Gelofte luister, is dit goed om ook te dink aan almal wat deel gehad het aan die skryf van die weergawe wat ons vandag ken – taalhelde in eie reg!

Deel op

Nuutste artikels