Trots Afrikaans- In Nederland

20/09/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Trots Afrikaans- In Nederland

Nederland kan uitsien na ’n groot bederf met Bok van Blerk, Riaan Benadé en Lianie May wat op Saterdag 19 Oktober by De Basiliek-venue in Veenendaal (Utrecht-omgewing) in aksie is. Organiseerders het ook onlangs aangekondig dat die bekende Dewald Wasserfall, wat deesdae in Nederland woonagtig is, en die jong opkomende ster Alba Vorster tot dié vertoning bygevoeg is. Wat ’n bederf – vyf kunstenaars op een verhoog vir ’n hele aand se musiek- en dansgenot! 

Konsertgangers gaan hierdie gunsteling- Afrikaanse sangers kan beleef wanneer die kunstenaars hul beste voetjie voorsit in Nederland – en boonop sal hulle ook heerlik kan sokkie tydens ’n eg Suid-Afrikaanse skoffeldans.

Hierdie vertoning word aangebied deur The Marketing Zoo wat reeds sedert Desember 2022 die grootste name in die musiekbedryf na Nederland gebring het. Kunstenaars soos onder andere Demi Lee Moore, Nataniël, Jo Black, Bobby van Jaarsveld en Karen Zoid is van die kunstenaars wat ook al vir volgepakte sale in Nederland gesorg het.

“Ek dink een ding wat ons almal gemeen het is dat ons ’n lekker kuier kan geniet, veral as ons met mekaar in Afrikaans kan praat. Gooi nog ’n sokkie daarby en dis ’n ervaring wat nie gou vergeet sal word nie,” sê Wian Smith-Venter, internasionale uitvoerende hoof van The Marketing Zoo.

Volgens hom kan konsertgangers juis gedurende dié konsert ook lekker sokkie en dans, wat ’n eerste sal wees vir The Marketing Zoo se konserte in Nederland.

“Afrikaners is mos plesierig, selfs al bevind hulle hulself elders in die wêreld!” 

Veenendaal kry hierdie keer ’n beurt om Afrikaners te huisves juis omdat dié dorp lekker sentraal geleë is in Nederland.

Smith-Venter raai diegene wat nog kaartjies wil koop aan om dit blitsvinnig te doen, want hulle verwag dat dit binnekort uitverkoop sal wees.

Die koorgedeeltes van “Bietjie Benoni”, “Dis raak!” en “Spontaan” sal deur Nederland weerklink, en die kunstenaars sien self ook baie uit na dié konsert.

Vir Bok van Blerk is dit altyd ’n voorreg om vir ons mense in die buiteland te gaan sing.

“Daar heers gewoonlik ’n ander tipe gees by so ’n konsert, want die samehorigheid wat ons as Afrikaners onder mekaar voel en wat die musiek skep, is altyd tasbaar – maak nie saak waar ons is nie,” verduidelik hy.

“Afrikaanse musiekgehore is uiters lojaal en dit is so lekker as ’n mens terugvoer van die gehoor kry wat jou motiveer om aan te hou jou beste lewer,” vertel Lianie May.

Riaan Benade voel hulle is die ondersteuners in die buiteland ’n lekker sokkie verskuldig.

Hierdie vertoning is ook ’n vertoning met ’n goeie doel, ten bate van AfriForum.

“Die Trots Afrikaans-vertoning in Amsterdam bied ’n unieke geleentheid om jou kultuur te vier, maar terselfdertyd ook ’n geleentheid om ’n wesenlike verskil te maak in die lewens van jou geliefdes in Suid-Afrika,” sê Sue-Ann de Wet, hoof van AfriForum Wêreldwyd.

“Afrikaans is die polsende hart van ons gemeenskap, ongeag waar jy woon. As ’n internasionale ondersteuner van AfriForum kan jy help om hierdie kosbare erfenis te beskerm en te bevorder vir toekomende geslagte.

AfriForum se aktiwiteite strek egter verder as net kultuur- en taalkwessies. AfriForum werk onverpoosd om veiligheidstrukture regoor Suid-Afrika te versterk, misdaad te beveg, en ons gemeenskappe in dorpe, stede en op plase te beskerm. Ons traumaeenheid bied unieke ondersteuning aan slagoffers van geweldsmisdaad, insluitende plaasaanvalle. Ons kan dit nie doen sonder die gemeenskap se hulp nie.”

WEN 1 van 3 GROOT PRYSE

  • Hollywood-glimlagopknapping ter waarde van €8 000 by Untouched Clinic, Pretoria, Suid-Afrika
  • Topgehaltesuite vir vyf dae ter waarde van €1 500 by Baobab Bush Lodge in Hoedspruit, Suid-Afrika
  • Steel Stallion Marengo-braai ter waarde van €579 van Steel Stallion, Nederland

Die Hollywood glimlagopknapping van Untouched sluit volledige tandinplantings, tandbleiking, en alles wat nodig is vir ’n Hollywood-glimlag in. Jy sal ’n pasgemaakte benadering, met toegang tot ’n gevorderde reeks behandelingsopsies ontvang. 

Die topgehaltesuite by Baobab Bush Lodge het ’n privaat badtuin met ’n buitebad en -stort waar die kameelperde na die swembad toe kom. Ook ingesluit is ontbyt, oggendstapsafari, wildritte wat ’n skemerkelkie insluit en bergfietssafari.

Die Steel Stallion Marengo-braai is meduimgrootte en sluit vurke vir die spit, ’n roterende rooster, ’n plat rooster, ’n steenkoolskinkbord, ’n verwyderbare asbak, ’n ratkas, ’n litium-ioonbatterymotor en drie vleispenne in.

*Elke lootjiekaartjie is ’n inskrywing; jy kan soveel keer inskryf as wat jy wil.
*Bepalings en voorwaardes geld.

Alle opbrengs is ten bate van AfriForum Wêreldwyd en die wonderlike werk wat hulle doen.

Alle kaartjies (algemeen of BBP) sluit die sokkie in, terwyl diegene met BBP-toegang ook ’n spesiale geskenksak, aparte sneltoegang, voorste sitplekke en ’n “meet & greet” kan verwag.

Wikkel, vertel jou vriende en kry jou kaartjies hier: https://www.eventbrite.nl/e/trots-afrikaans-2024-tickets-884879186467

Deel op

Nuutste artikels