Uit en tuis: Die Braxton-gesin se Kanadese verhaal

12/09/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: Die Braxton-gesin se Kanadese verhaal

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Annette Braxton wat in Ontario, Kanada woon.

Hallo, Annette! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Kanada te gaan woon?

Ek en my man, Christoph, kom beide van Pretoria, Gauteng. Ons het in 2022 begin dink ons moet dalk oorsee trek vir beter werksgeleenthede vir Christoph. Hy het aktief in Julie van daardie jaar werk oorsee begin soek. Hy was toe gelukkig om na verskeie onderhoude ’n pos te kry in Toronto, Kanada. Alhoewel hy wêreldwyd gesoek het, was dit die pos in Kanada wat hy gekry het.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ons is in September 2007 getroud en het vir jare in La Montagne en Faerie Glen gewoon. Ons het ses dierekinders wat almal by verskillende dierewelsynsorganisasies in Gauteng aangeneem is. Ons is groot voorstanders van die aanneming en red van diere. Christoph is ’n rekenmeester wat vir PwC asook Ducharme Consulting gewerk het en as voorsitter van die Accounting Standards Board gedien het. Alhoewel ek gaan studeer het ná skool was ek geseënd om ’n huisvrou te kon word. Ons albei is lief vir die natuur en het ’n passie vir die Laeveld. Ons het ook ’n liefde vir fotografie.

Hoe het jy die emigrasieproses na Kanada ervaar?

Ons emigrasieproses was maar ’n stresvolle ervaring, nie omdat ons bang was vir die trek self nie, maar omdat ons dierekinders vir ure in kratte moes wees vir die verskillende vlugte vanuit Suid-Afrika na Kanada. Dit het die swaarste op ons gemoedere geweeg. Ons was gelukkig dat die instansie by wie Christoph aangesluit het ons ’n subsidie gegee het om van ons persoonlike items te kon oorbring asook die koste vir die diere se vervoer te dek.

Maar dis oor die algemeen nie maklik nie. Om jou meubels te verkoop, jou kamptoerusting weg te gee vir familie en vriende, om jou afbetaalde kar te laat gaan vir “peanuts”, om totsiens te sê vir lewenslange vriende en familie, om “bye” te sê aan alles wat jy ken en vertroud is mee. Ek dink dis soms moeiliker as mens op ’n latere ouderdom, soos ons, besluit om te emigreer. Mens is eintlik al so gevestig, so besig om te spaar vir aftrede, net gemaklik te wees met alles rondom jou. Ons was nooit van plan om te trek nie, maar die regering se SEB-implementering het dit al hoe moeiliker vir Christoph gemaak om werk te kry, om dalk ’n bevordering te kan kry, enigiets soos dit. Dus was ons keuses maar min.

Was dit moeilik om aan te pas, of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

In party opsigte, ja. In ander, nee.

Hierdie is sover maar net my eie ondervinding van die mense en area waar ons woon in Oakville, naby Toronto in Ontario, Kanada:

Vir my is die Kanadese mense koud en onpersoonlik. Daar is hier en daar ’n vriendelike gesig wat belangstel in jou storie, maar oor die algemeen is mense, veral in die groot stede, onplesierig, teenoor Pretoria waar jy skaars intrek dan kom maak die bure kennis en nooi jou vir koffie of ’n bier.

Die vriendeliker mense in Kanada is dié wat in die winkels werk, die kelners, die tellers, sulke tipe mense. Moenie dink jy gaan genooi word vir koffie deur jou Kanadese buurman/vrou nie. Jy staan buite by die voordeur en gesels, jy word nie eens in hul huise genooi nie. Ons in Suid-Afrika is net anders; ons is oop, warm, vriendelike mense oor die algemeen. Al gaan dinge woes is ons nog steeds daar vir mekaar, al ken jy nie die persoon van ’n kant af nie. Die mense wat die strate vee, die ouens wat die asblikke kom optel, die outjie wat koerante op die hoek verkoop, die tannie met haar gebraaide mielies langs die pad, hulle is vriendelik; het meeste van die tyd ’n glimlag op hul gesigte. Hier kyk mense jou snaaks aan wanneer jy glimlag of groet.

Wat ons agtergekom het dat immigrante almal maar saamkuier by hul eie mense. Wanneer dit kom by die Suid-Afrikaners, is ons dankbaar vir hulle wat ons hier ontmoet het. Die ondersteuning wat die mense persoonlik en via sosiale media bied is onbeskryflik. Ons het wel nog nie by ’n kerk aangesluit nie, maar die Afrikaners is net wonderlike mense. Daar is drie of vier paartjies wat min of meer dieselfde tyd as ons hier geland het. Deur God se genade het ons aanklank bymekaar gevind. Ons trap nie mekaar se drumpel deur nie, maar ons kan op mekaar leun, mekaar ondersteun, ’n skouer bied vir daai dae wat ons verlange na ons mense en land te veel word.

Dis nie dat ons nie met “locals” meng nie. Dis hulle wat hul skaars hou, en dis vreemd, om die waarheid te sê.

Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir jul kinders? Van watter Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?

Ons is so Afrikaans soos wat jy kan kry. Ek soek selfs Afrikaanssprekende mense wat na ons dierekinders kan omsien, as dit moet, want ons dierekinders verstaan nie Engelse opdragte nie. Hulle is dan Afrikaans grootgemaak.

Ons is darem bly ons is verwys na ’n slaghuis wat regte boerewors maak, hul maak selfs biltong wat nie te sleg is nie. En verlede jaar Desember het daar ’n Hyperama oopgemaak in die dorp so entjie van ons af. Hulle verkoop Woolworths-produkte, swartpotjies vir potjiekos, hulle verkoop Simba-skyfies, ProNutro, kitskoffie (want Noord-Amerikaners drink nie regtig kitskoffie nie), Suid-Afrikaanse produkte en ’n hele winkel vol daarvan! En wat lekker is, hul het hul eie klein restaurant waar jy regte egte slap “chips” en Weense worsies kry, bunny chows, ens. Dit is so lekker maar dis nie altyd moontlik om goed te koop nie want dis maar duur. Kanada is duur!

Ons braai baie naweke ons boerewors en braaibroodjies. Christoph maak pannekoek wanneer dit bewolkte, nat weer buite is. Ons luister Jo Black en Die Heuwels Fantasties kliphard. Ons is trots Suid-Afrikaans!

Ons het ons stemmerkie gaan maak op 18 Mei.

Was Kanada se klimaat ’n groot aanpassing? Hoe hanteer julle die hitte/koue?

Glo dit of nie maar hier waar ons bly in Oakville is daar nogal erge humiditeit. Dis amper soos Durban-weer gedurende die somermaande. Ander dae is dit net vrek warm. En dan die winters – ai tog! Ons is ons eerste winter deur en blykbaar was dit nie eens koud nie. Hier sneeu dit gedurende die maande van Desember tot partykeer middel April. Die ergste maande is blykbaar Februarie en Maart. Ons twee woewe, Niscka en Lucy, was nie eens regtig gepla met die sneeu nie. Die weer is nogal iets om aan gewoond te raak. Dis verseker nie Pretoria se matige winters nie. Ek mis net regte donderstorms, weerlig, blitse, daai diep donderweerklanke wat tot in jou siel bewe. Hier is selfs tornado’s in Ontario. Ons val tegnies gesproke in “Tornado Alley”, die strook uit die Verenigde State van Amerika waar die meeste tornado’s voorkom.

Ons eerste winter het ons oorleef. En hierdie is nog min sneeu!

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan/reis?

’n Tipiese dag. Wel, Christoph werk drie dae in Toronto se middestad en twee vanaf die huis. Hier is darem goeie publieke vervoer en die treine is baie gemaklik om mee stad toe te gaan.

Hier stap ons baie meer met ons woefies as in Suid-Afrika. Ons bly naby ’n paar klein woude met baie paadjies en die woefies geniet dit só. Hier is meer sypaadjies ook wat dit veiliger maak om te stap. Hier is groot parke wat in die somermaande vol gepak is met mense, maar dit bied ook lekker paadjies vir wandel met die hondekinders. Verder vir ’n tipiese dag is dit maar huisskoonmaak, klere was, die normale huisvroudinge.

Ons ry rond om te verken as ons geld het. Ek noem maar net weer, Kanada is duur. Mense besef dit nie. Ons probeer so een keer ’n maand iets besoek of iewers heen ry. Die beste tye word eintlik saam met vriende spandeer by die braaivleisvuur en rondom die kostafel.

Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Ek is trots om Afrikaans te wees. Ons het deursettingsvermoë, ons het ’n aanhouer-wen-houding, ons gaan lê nie net en laat dit oor aan die lot nie. Ons Afrikaners is anders aanmekaargesit. Ons ondersteun mekaar op ’n vlak wat min buitelanders verstaan. Ek dink dis omdat ons erfenisgebonde is aan ’n belofte aan God.

Verdere tradisies? Ons braai. Ons luister Afrikaanse musiek. Ons is nie skaam om te skree wanneer die Springbokke speel, of wanneer ons atlete iewers deelneem nie. Ons praat trots Afrikaans al dink mense ons is Sweeds of selfs Oekraïns (Ukrainian).

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika?

Ons verlang na ons mense! Dis die mense in jou lewe wat die grootste leemte los. Die verlange na ons peetkinders, na ouers wat in jare aanstap, vriende waarmee jy tot in die oggendure gekuier het, familie.

Ek wil getuig van die liefde en ondersteuning wat ons ondervind en ontvang van familie en vriende in Suid-Afrika en ander gedeeltes van die wêreld. Ons gaan tans deur ’n ongemaklike, onsekere tyd en ons weet nie hoe, wat, waar, ons pad vorentoe is en lyk nie. Ons ervaar soveel ondersteuning, liefde en gebede dat ons nie anders kan as om te glo dinge gaan reg uitwerk nie. Liefde ken geen perke nie, dit ken geen grense nie. God het mense in ons lewens geplaas wat ons dra, ons ondersteun en dit gaan my verstand te bowe hoe groot en goed Hy is vir ons in hierdie tyd. Ja, ek mis my sussie en ma se drukkies, ek mis my peetkinders, my beste vriendinne. Ek is eerlik wanneer ek sê dis nie elke dag maklik nie. Daar is dae wat ek huil en na alles en almal verlang. Wens ons kon terugtrek Suid-Afrika toe, maar God het die pad Kanada toegemaak. Ons moet vertrou dat ons ’n lewe sal maak hier en dat dinge sal beter gaan.

Suid-Afrika is in ons bloed. Ons is Suid-Afrikaans. Vandag. Altyd. Elke sonsondergang, elke grasdakhuis, elke kampvuur, elke Kaapse storm, elke plaasgrondpad is in ons siel.

Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

As dit nie was vir die internet en sosiale media het ons nooit persoonlike gesprekke met familie en vriende gehad nie. Ons is nog nie in so finansiële posisie waar ons kan gaan kuier in Suid-Afrika nie. En dis ook maar duur vir hulle om na ons toe te kom. Ons praat gereeld via WhatsApp, of Facetime met mekaar wanneer die tydsones dit toelaat.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Kanada. Kom julle soms bymekaar?

Soos ek vroeër genoem het, is ons gelukkig om al ’n vriendekring te kon skep. Ons probeer mekaar gereeld sien, al is dit net vir ’n koffie, maar die lekkerste is wanneer ons sit en kuier by ’n braaivleisvuur. Daar is ’n groot Suid-Afrikaanse gemeenskap in Kanada en met Facebook kan mense kommunikeer, produkte smous, ens.

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Kanada met die van Suid-Afrika?

Huur is wat meeste mense vir die eerste paar jaar kan doen. Huis koop is selfs vir Kanadese onbekostigbaar. Hier is nie regtig meenthuiskomplekse soos in Suid-Afrika nie. Hier is los-staande huise, en dan “row”-huise, die huise deel mure maar is nie deeltitel nie. Hier is tans ’n groot behuisingstekort regdeur Kanada en dit veroorsaak dat huispryse en dan ook huurpryse ongelooflik hoog is. Hier is baie woonstelblokke wat orals verskyn, maar dit is nog steeds erg duur. Ons sal graag eendag net ’n klein huisie wil hê met ’n lekker tuin waar ons woefies kan rondhardloop en ontspan in die somerson. Dit sal Godsgenade wees!

Bestuur van motors en bestuurderslisensies – hoe verskil dit van Suid-Afrika? Besit julle jul eie motor of maak julle gebruik van alternatiewe vervoer?

Bestuurderslisensies! Sjoe. Daar is verskillende vorms en dokumentasie wat jy moet hê en saambring. Jy kan nie net jou Suid-Afrikaanse lisensie omruil vir ’n Kanadese een nie. Die toetse om jou bestuurderslisensie hier te kan kry, bestaan uit verskillende vlakke. Dit hang alles af hoe lank jy al bestuur, ens., dan kan jy ’n sekere vlak oorslaan. Elke provinsie het ander reëls en regulasie en hul eie bestuurderslisensies. Dit is ’n vreemde ding maar, ja.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Kanada het provinsies nes Suid-Afrika.

Ons het vir die eerste paar maande wat ons hier was ’n fiets gebruik om mee rond te beweeg en die diere veearts toe te vat vir hul besoeke. Die res van die tyd het ons of busse of treine gebruik. Ons was wel geseënd om in Oktober verlede jaar ’n tweedehandse kar te kon bekostig. Dit was vir ons maklik om hier te bestuur want ons albei hou van karre en bestuur. Dit was eintlik heel maklik om aan die ander kant van die pad te bestuur met die stuurwiel aan die linkerkant van die kar. Mens moenie bang wees om agter die stuurwiel te klim en begin bestuur nie anders gaan jy sukkel.

Ter opsomming

Sal ek dit aanbeveel om te emigreer? Alles hang af wat jy wil doen in die lewe. Waar jy jouself bevind. Wat jy graag wil doen in die toekoms. Of jy kinders het wie se toekoms jy moet na omsien. Almal van ons het stories en redes hoekom ons oorsee beweeg het. Party van die stories klink soos ’n droom, asof dit seepglad verloop het. Ander se stories is weer meer van ’n gesukkel, moeilike tye. Almal verskil. Almal se redes verskil. Hoe ons die nuwe land en sy mense ervaar verskil ook.

Hier waar ek en Christoph (en al ons dierekinders) onsself tans bevind, is ’n onsekere tyd. Ons moet net glo en vertrou dat God ons hier geplaas het vir ’n rede. En dat Hy teen die einde van hierdie sy plan vir Christoph sal bekendmaak. God het soveel asemrowende mense oor ons pad gebring dat ons weet, sou ons in nood verval, dat ons hulp het uit verskillende oorde.

Is dit maklik om te emigreer? Vir party mense, ja. Is die aanpassing in die “nuwe” maklik? Ja; vir ander, nie noodwendig nie. As dit nie was vir die politiek in Suid-Afrika nie, sou ek nog steeds in my huisie in Pretoria gebly het, by Woolies, Checkers, Pep en Crazy Store gaan koop het en “window-shopping” gedoen by The Grove, ’n koffie en stuk koek by Mugg & Bean saam met vriendinne gaan geniet het, en saam met my sussie na ons peetkind se eerste rugbywedstryd gaan kyk het. Maar, ongelukkig bevind ons onsself nou in vreemde nuwe land saam met honderde ander Suid-Afrikaners wat ook terug verlang na hul mense en ’n land wat min mense verstaan. Vir die dinge wat verkeerd is in Suid-Afrika is daar soveel goeie dinge wat reg is en werk en jy kom dit eers agter wanneer jy oorsee is. Dis my ondervinding. Dis wat ek beleef.

My bloed, my hart, my siel klop Suid-Afrikaans, dit klop AFRIKAANS.

Daar is positiewe dinge hier in Kanada, een daarvan is meer werksgeleenthede vir Christoph. Dit is dan juis hoekom ons hiernatoe getrek het. Ons moet net eenvoudig God se plan vir ons lewens vorentoe vertrou. Ons moet mekaar ondersteun, in die goeie tye, op die moeilike tye. Ons moet vir mekaar bid. Want dit oorgrens alle verstand en grense. Op die ou end sal hierdie Braxton-gesinnetjie dit maak, met die genade en seën van God, met die liefde en ondersteuning van familie, vriende in Suid-Afrika en die Suid-Afrikaans vriende en gemeenskap hier.

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Auckland, Nieu-Seeland

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels