Uit en tuis: ’n e-pos uit Bahrein

12/04/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Cappadocia-Turkiye-2-scaled

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Gerda Fourie wat in Bahrein woon.

Hallo Gerda, van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om in Bahrein te gaan woon?

Ek is gebore en getoë in Vereeniging, het in die 90’s in Pretoria studeer, en het vir ’n kort tydjie in Viljoenskroon skoolgehou voordat ek weer in 2001 teruggekeer het Vereeniging toe. Daar het ek gewoon en gewerk voordat ek in 2018 besluit het om na Bahrein te verhuis nadat ’n petrochemiese maatskappy in Bahrein my ’n pos aangebied het wat ek nie kon weier nie. Ek het geen man, kind of kraai nie, so ek het met ’n paar tasse besittings op my eie die vreemde ingevaar.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan/reis?

Ek is ’n “instructional designer” by ’n petrochemiese maatskappy in Bahrein. Dit behels die omskepping van ’n wye verskeidenheid akademiese materiaal na elektroniese kursusse. Ek ontwerp ook opvoedkundige toepassings met die hulp van virtuele realiteit en toegevoegdewerklikheidtegnologie.

My tipiese dag op kantoor begin om 07:00 die oggend waar ek my kreatiwiteit kan loslaat en opleidingsmateriaal ontwikkel wat slegs beperk word deur my verbeelding. Tegnies werk ons tot 15:30, maar die aard van my werk veroorsaak dat ek nie altyd ’n normale werksdag kan hê nie, aangesien dit nie altyd moontlik is om in die middel van ’n taak te stop en die volgende dag aan te gaan nie. Dus werk ek soms oortyd, maar aangesien ek my werk so baie geniet en ek ’n  self-erkende werkverslawing het, gee ek glad nie om nie aangesien ek weet dat my produkte waarde toevoeg tot my maatskappy.

My lewe is aansienlik rustiger vandat ek in Bahrein is. Ons kry meer as genoeg verlof, en ek kon vir die eerste keer in my lewe bekostig om te begin reis. Buiten jaarlikse kuiers in Suid-Afrika om my ouers te besoek, het ek al Noorweë, Nederland, Türkiye, Saudi-Arabië en Egipte verken in die vier jaar vandat ek in Bahrein is, pandemie-beperkings ingesluit. Ek beplan om in Oktober óf Ysland óf weer Noorweë toe te reis – iets waarna ek baie uitsien.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in Bahrein?

Aan die begin was ek baie bewus van Bahreini’s wat abayas, hijabs, niqabs of thawbs dra, en was ek te bang om oogkontak te maak. Ons lees so baie in die Westerse en Suid-Afrikaanse media van die stereotipiese Arabier, dat ek amper bekommerd was oor wat om te verwag. Maar binne die eerste paar dae het daardie stereotipe verbrokkel tot ’n stof fyner as die woestynsand.

Dit was aanvanklik vreemd om die “call for prayer” te hoor wat vyf keer ’n dag uit die moskees uitbasuin, veral tydens die pandemie toe ’n mens meer attent was op elke hoesie en kuggie wat oor daardie luidspreker kom, maar later dra jy nie meer horlosie nie, want die moskee word jou horlosie.

Die verkeersirkels en om aan die “verkeerde kant” van die pad te ry was ’n ander groot aanpassing. Ek kan nie onthou hoeveel keer ek vinnig moes uitswenk ander kant toe nie. Die verkeer is meestal ’n nagmerrie, en ons spot gereeld dat ’n tweedehandse voertuig altyd ongebruikte flikkerligte sal hê. Mense gebruik hul toeters baie meer as flikkerligte, so jy leer vinnig om te sien waarheen iemand mik. ’n Mens kan ook rustig op jou foon wees terwyl jy by ’n rooi lig wag – die getoet van die mense agter jou twee sekondes voor die lig groen word is genoeg waarskuwing.

Nog ’n groot aanpassing was egter die grootte van die eiland, asook die kleur van die land – alles is ’n beige skakering van sand. Op ’n kaart is die eiland piepklein, maar in realiteit is daar so ongelooflik baie geboue en winkelsentrums dat ek nou nog nie als verken het nie. Wanneer ’n mens uiteindelik in ’n land soos Suid-Afrika kom waar daar baie groen is, voel dit asof jou oë ook met vakansie gaan.

Was dit vir jou ’n kultuurskok en was die werkskultuur ’n aanpassing?

As Christen sal ek erken dat ek bekommerd was oor hoe ek my geloof sou kon uitleef. Ek was egter aangenaam verras oor die hoeveelheid kerke vir alle gelowe. Sheikh Hamad bin Khalifa al Khalifa het selfs onlangs die grootste katedraal in die Midde-Ooste gebou en Pous Franciscus het dit verlede jaar besoek. Ek het vinnig geleer dat, ten spyte van alles wat die media vir ons vertel, die deursnee-Moslem iemand is wat ongelooflik vrygewig en tegemoetkomend is. Ons word geleer dat vrouens hijabs moet dra, maar die realiteit is dat dit nie in Bahrein die geval is nie. Hier word dit as tradisionele drag gesien, amper soos ’n  boer in sy “two-tone”-hemp. Hulle is ongelooflik hulpvaardig, en het die grootste respek vir ander. ’n Mens leer ook baie vinnig dat hulle nie oor dieselfde kam geskeer moet word as ekstremiste nie. Om die waarheid te sê, Bahrein het ’n baie openlike antiterrorismebeleid. Ek het hier geleer van ware diversiteit en verdraagsaamheid. Ek beleef eerstehands dat die feit dat jy anders lyk of anders glo nie ’n bepalende faktor moet wees nie. Ons as Suid-Afrikaners dink maklik ons is die kenners van verdraagsaamheid, maar ons besef nie regtig hoe bevooroordeeld ons is nie. As iemand anders lyk of dink, glo ons dis verkeerd, en dis so ver van die waarheid af.

Die grootste aanpassing in terme van werkskultuur kan opgesom word in die woord “inshallah”. Niemand is haastig nie. Soos in glad nie haastig nie. Alles gebeur op sy tyd, en vir ’n Suid-Afrikaner wat als gister gedoen wil hê, kan dit nogal ’n groot skok wees. Maar met tyd pas jy aan, en “inshallah” is ook nou deel van my woordeskat.

Was Bahrein se klimaat ’n groot aanpassing? Hoe hanteer jy die hitte?

Oe, die hitte!! Die eerste ding wat jy hier leer oor die hitte, is om nooit ’n toepassing te glo wat weer voorspel nie. Die aanvoelbare temperatuur is altyd baie meer! Die warmste wat ek eerstehands hier beleef het, was ’n aanvoelbare temperatuur van 58˚ Celcius in 2019. Van April tot einde Oktober styg die kwik gereeld in die 50’s. Hoe voel dit? Dis soos om ’n oond vooraf te verhit, en dan die deur oop te maak en daardie brandende lug in te asem. Gelukkig is daar orals lugversorging en water beskikbaar. Daar word ook somerwerksreëls toegepas wat bepaal dat mense wat buite werk nie tussen 11:00 en 16:00 in die son mag wees nie. Ons winkelsentrums is aangepas en het interessante binnenshuise speelparke sodat kinders in die somer daar oefening kan kry terwyl die ouers inkopies doen. Winter in Bahrein is baie soos ’n Suid-Afrikaanse somer. Ons kry ook bitter min reën, so wanneer dit wel reën vier ons dit behoorlik.

Wat is jou gunstelinggereg wat jy al geëet het in Bahrein?

Definitief khanfaroosh! Dit herinner baie aan ‘n “doughnut” met saffraan, kardamom en rooswater. Vir ontbyt kan mens nie lekkerder kry as balaleet nie – ’n omelet met fyn noedels met kardamom, saffraan, rooswater en allerlei droë vrugte en heuning.

Enige lesse wat jy geleer het?

Daar is geen beter gevoel as veiligheid nie. Ons woon nie in tronke nie, en ek kan as vrou alleen enige tyd van die dag of nag alleen stap – ek geniet dieselfde vryheid as enigiemand anders. Ek sluit nooit my huis of motor nie, en op ’n warm dag sal ek my luierende motor buite ’n winkel los sodat die lugversorger aan bly en ek ’n yskoue motor kan terugklim. As ek inkopies doen kan ek ontspan en na my gunstelingpodsend luister met oorfone in my ore en ek hoef nie die heeltyd paraat te wees teen gevaar nie. Ek kan my handsak op my trollie los en weet ek gaan dit weer daar kry. Ná ’n reis na Suid-Afrika waardeer ek elke keer weer opnuut hoe waardevol waarlike vryheid en veiligheid is.

Ek werk ook saam met mense van reg oor die wêreld. Ek het hier aangekom en was baie bewus oor herkoms en kleur, want dit word so baie in ons kele afgedruk in die media. Vier jaar later neem ek nie eers meer notisie van watter herkoms of geloof die mense is nie, want hier maak dit nie saak wie of wat jy is nie – jy is net ’n mens soos enige ander. Almal kan met reg trots wees op waar hulle vandaan kom. Die Bahreini’s is ’n baie patriotiese nasie, en geniet dit wanneer ons ook trots Suid-Afrikaans die suksesse van die Springbokke vier.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?

Die lewenskoste is definitief baie hoër. Bahrein is ’n klein eiland en die meeste produkte word ingevoer. Maar die Bahreinse dinar is die tweede sterkste geldeenheid in die wêreld, so dit is spotgoedkoop om te reis. Die meerderheid Bahreini’s verdien ’n groot inkomste, en ’n mens kan dit sien aan die voertuie op die pad. Dis nie vreemd om iemand te sien wat ’n  Lamborghini of Porsche as tweede werksvoertuig gebruik nie. Daar word baie aandag gegee aan hoe dinge lyk, winkelsentrums is byvoorbeeld blink en spoggerig, en almal kan deur ’n ring getrek word. Tog, bo al die tasbare mooiheid en moderniteit heers ’n gees van mededeelsaamheid en vrygewigheid. Dis kenmerkend om tydens Ramadan of Eid te sien hoe mense kos uitdeel aan enigeen en elkeen, selfs op straathoeke. Daar is ’n magdom welwillendheidsorganisasies wat groot werk doen. Bahreini’s sorg vir hul oumense, en ’n mens sien kwalik ’n ouer persoon wat nie versorg word in ’n huishouding nie.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat jy graag ondersteun?

Hezron Louw, een van die deelnemers van Top Chef SA het ’n restaurant in Bahrein genaamd Popinas waar ons lekker Suid-Afrikaanse disse kan geniet. Daar is heelwat Suid-Afrikaners wat tuisgebak maak en JC Lock is ’n Kapenaar wat Boere Biltong in Bahrein met groot sukses bestuur. Ons kry baie uitvoerprodukte van Suid-Afrika op ons winkelrakke, en veral druiwe en wyne is baie gewild.

Watter interessanthede het jy ontdek van Bahrein wat jy nie voorheen geweet het nie?

Die koninkryk van Bahrein bestaan uit 33 klein eilande met ’n totale oppervlak van ongeveer 760 vierkante kilometer, wat tydens die Bronstydperk die tuiste was van die Dilmun-mense. Die Christengeloof was ongeveer drie eeue ná Christus al prominent, nog voor die vroeë jare van Islam. Vroueregte in Bahrein is al op die voorgrond van die vroeë 2000’s af, anders as in baie ander Midde-Oosterse lande. Die eerste Formule 1 Grand Prix skop elke jaar in Bahrein af en lok derduisende toeskouers van oral oor die wêreld. Die interessantste feit is die Boom van lewe. Daar word beweer dat die boom in die 1500’s in die suidelike woestyn van Bahrein geplant is. Die boom staan nog steeds in al sy glorie en is lowergroen, sonder ’n enkele sigbare bron van water. Dit word as een van Bahrein  se grootste geheimenisse beskou.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Hoewel dit ’n baie emosionele besluit was om Suid-Afrika te verlaat, is ek dankbaar vir die geleentheid om in Bahrein te kan woon. Geleenthede kom nou op my pad wat ek nooit in Suid-Afrika kon ervaar nie. Ek kan die wêreld plat reis en dinge sien wat ek in my wildste drome nooit sou kon droom nie. Hoeveel mense kan sê hulle was binne 48 uur van ’n snikhete warm woestyn na die yskoue sneeubedekte skoonheid van ’n Noorweegse fjord, terwyl die Noorderligte bo jou kop dans? Ek mis my mense, ek mis my land, maar ek sal hierdie ervaring vir niks verruil nie. Dit vat baie tyd om aan te pas, so my raad aan enigiemand wat wil emigreer is om jouself toe te laat om te verlang en aan te pas, want dis een van die moeilikste, dog vervullendste dinge wat jy kan aanpak.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels