Uit en tuis: ’n e-pos uit Duitsland

07/11/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Duitsland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Carla van der Meulen wat in Duitsland woon.

Hallo, Carla! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik?

Ek is deur en deur ’n Kapenaar. Ek het terwyl ek in Duitsland woon, besef hoe pragtig die Kaap is en hoe bevoorreg ek was dat ek daar grootgeword het.

Jy het genoem dat jy oorspronklik in 2022 Duitsland toe gegaan het om te au pair vir ’n jaar. Vertel ons asseblief bietjie meer daarvan. Het jy dit geniet? Na hoeveel kinders het jy omgesien? Watter lesse het jy geleer?

Ja, ek het besluit om ná my studies ’n bietjie “af” te vat en omdat ek Duits studeer het, en die taal kan praat, besluit ek toe om au pair-werk in Duitsland te gaan doen. Ek het dit baie geniet. Ek kan eintlik nie glo dat ek die moed gehad het om by ’n vreemde familie in ’n vreemde land te kom bly nie, maar gelukkig vir my het dit alles baie goed uitgewerk. Ek moes na vier dogters kyk tussen die ouderdom van vier en sewentien. Dit was ’n groot aanpassing omdat hulle op ’n baie klein plaasdorpie bly en ek die gedruis van die Kaap gewoond is. Ek was bang dat ek nie van die platteland gaan hou nie. Nou kan ek my lewe nie anders voorstel nie. Dit is so rustig op die plaas en mens sien die natuur ten volle. Dit is die absolute teenoorgestelde van die stad, maar ek is baie gelukkig.

Watter lesse het ek geleer; dit is nogal ’n moeilike vraag om te beantwoord. Mens groei baie deur alleen na ’n vreemde land toe te gaan en alle probleme wat op jou pad kom alleen te moet oplos en dan nog in ’n vreemde taal. Ek het baie van myself geleer en moes uit my gemaksone (comfort zone) uit vir baie situasies, maar so kan ’n mens groei. Ek het ook baie van kinderopvoeding geleer en hoe mens kinders moet opbou en ondersteun.

Was dit moeilik om aan te pas, of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Omdat ek op ’n klein plaasdorpie woon, is vriende maak nie die maklikste ding nie, maar terselfdertyd ook baie maklik. Almal het hulle groepies en mens kan nie net eintlik sommer daarby aansluit nie. Aan die ander kant is die mense ongelooflik vriendelik en hulpvaardig (iets wat ek op skool geleer het wat Duitsers glad nie is nie).

Hoe het jy die emigrasieproses na Duitsland ervaar?

Hierdie antwoord verander op ’n daaglikse basis. Gelukkig ken die Ausländerbehörde hier op die dorpie my al baie goed, so hulle is altyd baie hulpvaardig. Ek hoef nooit lank te wag vir ’n afspraak of oproep of brief terug nie (anders as in die groter stede soos Berlyn of Düsseldorf waar mense tot drie maande vir terugvoering wag).

Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Ek is baie patrioties, nou nog meer dat ek nie in Suid-Afrika woon nie. My erfenis is vir my baie belangrik – dit is ’n deel van my. Ek sal altyd my bes probeer om dit te bewaar. Omdat ek alleen oorgekom het, is daar nie eintlik iets wat ek doen nie. Dalk Afrikaanse musiek te luister of podsending, hier en daar iets eg Suid-Afrikaans te bak of kook.

Jy het genoem dat jy nou werk as ’n juffrou by ’n Gesamtschule waar jy Duits aan vlugtelinge/buitelanders onderrig. Vertel ons asseblief bietjie meer hiervan. Watter uitdagings ervaar jy? Hoekom het jy besluit om dit te doen? Wat is die beste deel van jou werk? Hoe vind jy dit om Duits vir vlugtelinge/buitelanders te leer?

Sjoe, ja. Vandat ek in graad 8 begin Duits leer het, het ek ’n liefde vir die taal ontwikkel. Op universiteit het ek as ’n tutor vir die Duitse departement gewerk. Daar het ek geleer dat ek Duits wil onderrig. Na my au pair-jaar, was daar ’n geleentheid om as “vrywillige” (Bundesfreiwillige of Bufdi in Duits) by die plaasdorpie se laerskool te werk. In die skool was ’n paar vlugtelinge vir wie ek partykeer ekstra Duitse klasse gegee het. Daar is ’n groot tekort aan juffrouens in Duitsland, veral nou met al die vlugteling. Ek besluit toe om vir ’n paar werke aansoek te doen as DaZ-juffrou – Deutsch als Zielsprache (Duits as einddoeltaal). Wie beter as om vir vlugtelinge/buitelanders Duits aan te leer, as ’n buitelander wat self Duits as ’n vreemde taal geleer het en wat eerstehands die uitdagings van die taal ken. My skoliere is altyd verbaas as hulle onthou dat Duits nie my eerste taal is nie. Ek wil vir hulle ’n inspirasie wees, ’n voorbeeld, want as ek dit kan doen, hoekom nie ook jy/hulle nie? Die werk is baie uitdagend omdat die skoliere uit baie verskillende agtergronde en kulture na jou toe kom, maar vir hierdie dieselfde rede baie interessant. Ek geniet dit om van hulle lande en kulture te leer. Ek geniet my werk baie.

Hoe gereeld sien jy jou familie?

Oor video-oproep, nogal gereeld. Ek was twee keer vandat ek hier aangekom het in Kaapstad. Ek sal graag wil probeer om ten minste een keer per jaar oor te gaan. Gelukkig het ek familie wat in Nederland bly. Hulle sien ek darem bietjie meer. En dit help darem met die verlange na Suid-Afrika.

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?  

Hier is die son ’n luuksheid! As die son skyn, dan beter jy buite wees, want jy weet nie wanneer jy weer daardie kans gaan kry nie.

Alles kom met die pos. Ek het seker nog nooit so baie briewe ontvang nie. Selfs my belastingnommer het met die pos gekom. En op die brief staan dat ek die dokument baie mooi moet oppas, want ek gaan nie ’n nuwe brief met die nommer kry nie. En die berge van vorms en papierwerk! Dis iets verskrikliks.

Hoe verskil die kossoorte in Duitsland van dié in Suid-Afrika?

Brood, brood en weereens brood. Ek het letterlik ’n glutenintoleransie ontwikkel as gevolg van al die brood. Aandete word selfs na Abendbrot (aandbrood) verwys. Ten minste is hier baie verskillende soorte en altyd vars gebak. Brood in plastieksakkies – soos Albany – word “toast”-brood genoem en word net vir roosterbrood of snackwiches gebruik.

Wat doen jy vir ontspanning in Duitsland?

Gaan stap of ry fiets. Hier is orals stap- en fietsryroetes.

Interessante feite oor Duitsland:

Alles is toe op ’n Sondag.

Hierdie is dalk nie ’n interessante feit nie, maar dit slaan altyd my asem weg. Ek vergeet partykeer hoe baie geskiedenis in Europa is. Hier is geboue wat twee wêreldoorloë oorleef het of wat al in die 1200s gebou was. En dan stede soos Cologne wat al vanaf 38 v.C. bestaan. Om te dink dat ek dan dieselfde strate gebruik of geboue betree is vir my verstommend .

Bestuur van motors en bestuurderslisensies – hoe verskil dit van Suid-Afrika? Besit jy jou eie motor of maak jy gebruik van alternatiewe vervoer?

Seker een van die maklikste dinge wat ek hier moes doen, was om my Duitse bestuurderslisensie te kry. Ek moes net ’n afspraak by die plaaslike verkeersdepartement maak, twee ID-foto’s saamvat en ek dink 25 euro (maar die bedrag kon verander het). Ek het ’n paar vorms geteken en dit was dit. Vier weke later kry ek toe pos om my in te lig dat ek my Duitse lisensie kan gaan optel. Hulle neem dan jou Suid-Afrikaanse lisensie en gee vir jou die Duitse een. Die Suid-Afrikaanse lisensie word na vyf jaar vernietig as jy hom nie kom terugeis nie (dan vernietig hulle jou Duitse een). Ek het ’n internasionale lisensie wat ek hier gekry het om in Suid-Afrika te kan bestuur en hy is 10 jaar geldig wat baie gerieflik is.

As mens in groot stede bly, het jy nie eintlik ’n motor nodig nie want die publieke vervoer is oral en gereeld. Soms selfs 24 uur. Daar is ook ’n openbare vervoer intekengeld vir 50 euro per maand, waarmee jy die hele Duitsland vol kan ry op alle vervoermiddels (behalwe die spoedtreine).

Hier op die platteland is daar ook busse en treine, maar net elke uur en dan net van 18:00 tot 21:00, wat partykeer jou planne bietjie moeilik maak. Ek het nog nie ’n kar nie, maar is in die proses om een te kry en dis glad nie so eenvoudig nie.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ek is baie bevoorreg om al hierdie ongelooflike ondervindings en kanse te kon hê, maar die lewe hier is nie altyd maanskyn en rose nie. Party dae is dit baie moeilik om so ver weg van die huis af en dit wat bekend is te wees, om jou geliefdes nie net gou ’n drukkie te kan gee nie. Daar is baie uitdagings om oorsee vir jouself ’n lewe te maak. Jy moet heeltemal van nuut/vooraf begin. Alles is onbekend en nuut en vreemd. Daar kom wel tye waar die onbekende die bekende geword het, maar dit vat ’n rukkie. Daar is tye wat ek aan my keuse twyfel en dat die lewe en alles wat daarmee saamgaan net makliker sal wees as ek in Suid-Afrika was. Dan onthou ek alles wat ek al deur is en opgeoffer het en dat ek wel aan die ander kant uitgekom het. Soms het ek iets van myself in die proses geleer en is verbaas waartoe ek tog in staat is.

Ek wou dit maar net deel, want daar is ander in dieselfde posisie of met dieselfde gedagtes as ek wat hul tuisland verlaat en oorsee oor begin het. Sterkte! Du schaffst das!

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels