Uit en tuis: ’n e-pos uit Edinburgh

10/08/2022
| Deur AfriForum Wêreldwyd
9.-Voor-St-Giles-Cathedral-in-die-ou-stad-in-Edinburgh

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Irene-Marie Esser wat in Edinburgh, Skotland woon.

Hallo, Irene-Marie. Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek en my man is oorspronklik van Johannesburg. Ons is skoolliefdes en het begin uitgaan toe ons net 16 was! Ons het beide op Stellenbosch studeer, is toe terug na Johannesburg en daarna na Pretoria. Ons het in 2013 na Edinburgh verhuis saam met ons twee seuntjies, toe net nege maande en drie jaar oud! My man het ’n wonderlike werksgeleentheid gekry as ’n professor in Laser Device Physics and Engineering by Heriot-Watt University in Edinburgh, Skotland. Ek was reeds ’n professor in regte by UNISA en is toe as buitengewone professor aangestel om kontrakwerk by die universiteite van Edinburgh en Glasgow te doen sodat ek self na my kinders kon kyk.

Edinburgh-kasteel in die agtergrond

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek is getroud met Daniel en ons het twee kinders, Matthew (12) en Christo (10). Matthew begin in Augustus met hoërskool (hier gaan hul effens vroeër) en Christo gaan dan na Primary 6. Die vryheid wat kinders hier het, is opmerklik. Matthew gaan sommer self met die bus skool toe en stap dan saam met sy vriende terug; hulle stop gereeld langs die pad vir ’n koeldrank of lekkergoed.

Irene-Marie, Daniel, Matthew en Christo

Julle woon sedert 2013 in Edinburgh. Vertel ons hoe het jy die emigrasieproses ervaar. Was dit ʼn groot aanpassing?

Ek sal jok as ek sê dit was maklik. Dit is ʼn groot skuif. Mense verhuis om baie verskillende redes en jy moet weet hoekom jy gaan en wat jy daaruit wil kry. Dit is maar ʼn proses en neem tyd! Die administrasie agter die skuif is baie uitputtend en ’n mens moet baie georganiseerd wees en baie deursettingsvermoë hê. Dit is ook baie duur om vir visums en paspoorte aansoek te doen. Jy moet weet waarvoor jy jou inlaat.

As ’n mens ʼn goeie geleentheid kry en jou lewensgehalte sal dieselfde of beter as in Suid-Afrika wees, hoekom nie? Jy kan altyd weer teruggaan; niks is in klip geskryf nie. Maar jy moet die kans aangryp! Jy moet oopkop in die ding ingaan. Ons was, met genade van Bo, sover baie gelukkig. Ons het goed ingepas en ons sien ons familie baie gereeld. My ma kom kuier so vier keer ’n jaar en dit help vreeslik baie. Ons gaan ook een of twee keer ʼn jaar Suid-Afrika toe. Ek werk gereeld by Suid-Afrikaanse Universiteite en dit help baie.

Ons woon suid van Edinburgh in Morningside, so 15 minute buite die stad. Dit het ’n regte community-gevoel met ’n klomp winkeltjies en koffieplekkies, so dit is ’n bietjie makliker, want ’n mens leer baie mense ken. Ek sê altyd Edinburgh is ʼn stad met al die voordele van ʼn dorp. Hier waar ons bly, is die mense besonder gaaf en altyd bereid om te help. Hier het ’n mens nie juis hulp nie, so vriende help mekaar en maak beurte om mekaar byvoorbeeld met die kinders te help.

Die weer is wel ʼn ander storie … ’n Mens moet gewoond raak aan letterlik vier seisoene in een dag. In die somer raak dit eers na elf saans donker, maar in die winter is dit is al teen oplaaityd in die middag donker. Ek hou van winterweer, maar hier is dit soms te lank aanhoudend en dan smag ’n mens na Suid-Afrika se heerlike son!

So was dit ʼn skok? Nie regtig nie, maar dit is beslis anders en opwindend.

Praat julle nog Afrikaans?

Natuurlik. Ons ís Afrikaans! My kinders is 100% vlot in Afrikaans en dit is al wat ons in die huis praat. Soms vertaal hulle wel iets direk uit Engels of andersom en dan lag ons baie lekker! Hulle sal byvoorbeeld sê: “Die mense het huis geskuif.” Of: “Kan ons die kos in die groot plate skep?” Hul merk wel vinnig op as iemand hulle taal meng!

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in Edinburgh verskil van dié in Suid-Afrika.

Soos ek reeds genoem het, is ek en my man professore by ’n universiteit. Ek is sedert 2015 ’n professor inCorporate Law and Governance by die University of Glasgow. Ons albei geniet ons werk vreeslik baie. Die uitdagings, interaksie en blootstelling is ongelooflik! Die werksomgewing is oor die algemeen baie tegemoetkomend wat ’n mens se gesin betref en die meeste mense respekteer ’n mens se tyd weg van die werk af. Die akademie is ook redelik buigsaam, wat baie help met kinders. Dit is maar soms moeilik om te werk en terselfdertyd sonder hulp na die kinders te kyk, kos te maak en huis skoon te maak, maar na amper tien jaar is ons gewoond daaraan. Ek en Daniel maak ’n goeie span!

Die University of Glasgow waar ek as ’n professor in regte werk
Die University of Glasgow waar ek as ’n professor in regte werk

Ek het nog baie bande met Suid-Afrika en is tans ’n buitengewone professor by Stellenbosch Universiteit. Dit is heerlik om steeds saam met Suid-Afrikaners te kan werk, en ek het op werksgebied ’n bietjie van ’n nis-gebied, want ek kan beide die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika se posisies verduidelik. Ek doen heelwat opleiding in korporatiewe bestuur (corporate governance) en my kennis van die twee lande maak dit baie meer relevant.

Hoe verskil die onderwysstelsel in Skotland van dié in Suid-Afrika?

Dit verskil nogal baie. Sover het ek slegs blootstelling aan die laerskool, maar dit is alreeds baie anders. Hier is byvoorbeeld geen eksamens, toetsreekse of huiswerk nie. Alle assessering word in klastyd gedoen en is onvoorbereid, gebaseer op die werk wat in die vorige weke gedoen is. Kinders word in groepe geplaas vir wiskunde in lyn met hoe gevorderd hul is, maar vir alles anders is hul in een klas.

Hul het nie spesifieke vakke soos Geskiedenis, Aardrykskunde, ensovoorts nie; die werk word eerder aan temas gekoppel en dan leer hulle so. Kinders word baie vryheid gegee (veral ten opsigte van hul denke en idees), maar daar is tog dissipline. Hulle is wel nie baie streng oor lang hare en naels nie (as ek dink hoe streng my onderwysers was, haha!). Die kinders lees oor die algemeen baie hier (seker oor die weer!) en het ’n baie goeie algemene kennis en bewustheid van wat in die wêreld aangaan. Daar is nie groot akademiese druk nie, dit kom slegs van die kind self of van die ouers eerder as die skool. Toppresteerders word nooit openlik aangekondig nie.

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong kan koop?

Hier is nie baie in Edinburgh nie. Ek kry darem wel Mrs Ball’s-blatjang maklik en my ma bak altyd beskuit vir my! Hier is ’n plekkie so 20 minute van ons af wat lekker biltong maak, so ons gaan soms daarheen.

Is daar is heelwat Suid-Afrikaners in Edinburgh en kom julle soms bymekaar?

Sover ek weet, is daar heelwat (nou nie so baie soos in Londen nie, maar steeds baie), en daar word soms byeenkomste gereël. Ek het ’n paar baie goeie Suid-Afrikaanse vriende wat in Edinburgh bly, maar die meeste van my vriende is beslis van Edinburgh. Party verwys selfs na my kinders as hul kinders se nefies! Dit is wonderlik en baie spesiaal.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

My familie!

Enigiets wat jy wil byvoeg?

’n Mens sal altyd kan foutvind met jou omgewing, en ’n mens bevraagteken soms jou keuses, maar op die ou end bepaal jy jou eie geluk. Natuurlik is dit makliker as dinge reg loop en is soos jy gehoop het dit sal wees. Ons is dankbaar vir ’n wonderlike lewe hier, maar ons was ook baie gelukkig in Suid-Afrika. Dit is ’n keuse en ’n ingesteldheid. Vir ons lê geluk in ’n lewe saam met God, ’n hegte gesin wat dinge saam doen, familiekuiers, veiligheid en ’n daaglikse lewe met gewone dinge soos werk, aktiwiteite, eet en slaap. Sal ek dit weer doen? Beslis, ja. Was dit moeilik? Beslis, ja. Is daar steeds moeilike dae? Beslis, ja! Maar soos my jongste altyd sê: “Dit is die lewe.”

Groete uit ’n sonnige Edinburgh, Skotland, ’n stad en land waarvoor ek lief geraak het – van die mense en die ongelooflike natuur tot die koffie, kasteel, sneeu en laat somersaande.

Dankie vir die lekker gesels!

LEES OOK: Uit en Tuis: ʼn E-pos uit Suid-Korea

Deel op

Nuutste artikels