Uit en tuis: ’n e-pos uit Hongarye

20/06/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
IMG-20240613-WA0016-scaled

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika.

Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Yulan Love wat in Hongarye woon.

Hallo, Yulan! Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik en waarom het jy besluit om in Hongarye te gaan woon?

Ek het in Yeoville, Johannesburg grootgeword. As tiener het ons verhuis na Witbank waar ek die res van my jare tussen Johannesburg en Witbank gebly het.

Ons, ek en my seun, het daagliks die verval en agteruitgang van ons dorpe en stede asook mense se morele waardes aanskou en besluit om op te pak. Hongarye is ’n konserwatiewe land met Christelike en familiewaardes.

Hoe het jy die emigrasieproses na Hongarye ervaar?

Dit was reguit. Eers is gekyk of ons nie ’n Europese kriminele rekord het nie, en ook nie Suid-Afrikaans nie. Daarna moes ons by die plaaslike owerheid aansoek doen om eiendom te koop. Dit het drie maande geneem. Daar is ook gekyk of ons onsself kan onderhou. Al ons dokumentasie was in orde en alles het goed verloop. Ons het hulp ontvang van ’n prokureur in Boedapest.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek is ’n enkelouer met een seun, Merlin. Ons is baie na aanmekaar en ons ondersteun mekaar met wat ons doen. Merlin studeer baie en het onlangs ’n aanlyn onderneming in Suid-Afrika begin. Ons voel sterk oor familiewaardes. My ma is dierbaar en my broer bly op dieselfde perseel.

Was dit moeilik om aan te pas, of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Op ons eie pas, pas ons maklik aan. Merlin het baie vriende gemaak, meestal Amerikaners. Kommunikasie is ’n groot struikelblok. In ons area, die suide, praat niemand Engels nie. Hongare is baie soos Afrikaners, trots op hul taal en kultuur. Selfs by die kerk is dit ongemaklik omrede ons nie verstaan wat gepraat word nie. Ons maak gebruik van ’n vertalingsapparaat om te kommunikeer. Ons voel deel van ons klein gemeenskap en woon vergaderings en byeenkomste by.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika en wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika? Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Gesellige kuiers met vriende en familie asook gesonde interaksies met mense. Ek mis ook ’n redelike warm winter. Ek sou graag wildsbiltong wou ingepak het.

Hoe verloop jou tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd gekry om te reis? Wat doen jy vir ontspanning in Hongarye?

Meeste van die tyd is ek buite besig met groente plant en die grond te bewerk. My seun kry ook baie tyd om te studeer. Ons is woonagtig in Zádor, ’n klein dorpie 20 km vanaf Barcs en 20 km vanaf Szigetvár. Dit is waar ons meeste van ons inkopies doen. Ja, die lewe is baie rustiger hier. ’n Mens hoef jouself nie te bekommer oor inbrake, geweld of enige van die tipe aktiwiteite soos in Suid-Afrika nie. Vir ontspanning hou ons daarvan om per bus of trein na oorde te gaan, veral die Balaton-meer. Hier is baie natuurlike warm waterbronne. Met ’n Hongaarse verblyfpermit kan ’n mens na enige land in die EU gaan.

Hoe vergelyk die lewenskoste en verblyfopsies met dié in Suid-Afrika?

Die koste van voedsel is min of meer dieselfde as in Suid Afrika. Beesvleis is skaars en duur. Openbare vervoer is fantasties en effektief. Eiendom kos ook min of meer dieselfde, alhoewel meeste mense in dorpies op plotte bly wat baie bekostigbaar is.

Watter interessanthede het jy ontdek van Hongarye wat jy nie vantevore geweet het nie?

Baie. Hongaarse geskiedenis is baie interessant. Die mense het vir baie jare baklei teen die Ottomane, wat Moslem is. Daarna was Hongarye onder kommunistiese mag waarvan hulle ook weggebreek het. ’n Groot gedeelte van Hongarye is afgestaan aan ander lande, bv. Transsilvanië is aan Roemenië gegee.

Verder, wat vir my persoonlik opvallend was, is dat “Big Pharma” nie in Hongarye bestaan nie. Baie winkels het kruie en natuurlike produkte beskikbaar. Wanneer iemand na ’n apteek gaan, is die kanse goed dat hul natuurlike produkte sal gee.

Wat beteken jou Afrikaner-erfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Moenie opgee nie. Wanneer die lewe jou platslaan, staan op en lewe met geloof, hoop en liefde. Ons braai en dra velskoene.

Vertel ons watse werk jy doen en hoe die werkkultuur in Hongarye verskil van dié in Suid-Afrika.

Ek werk as ’n kruiedokter en gesondheidsberader. Met ander woorde, ek help mense en behandel siektes met kruiemedisyne.

Ek kan nie veel sê oor die werkkultuur in Hongarye nie. Al wat ek kan sê is dat dit baie soos dié van Orania is in die opsig dat daar van eie arbeid gebruik gemaak word.

Hoe gereeld sien julle familie mekaar? Sal jy weer terugkeer om in Suid-Afrika te kom woon?

Ons sien mekaar tot dusver een keer ’n jaar. Ja, ek sal weer terugkeer na Suid-Afrika.

Enige lesse wat julle geleer het?

Die wit mense is tans ’n minderheidsgroep in Suid-Afrika. Ideologie wat tot geen welvaart vir ’n volk lei en besig is om alle lewenswaardes te ondermyn, moet weerstaan word.

Baie Suid-Afrikaners is in nood en dit is ons plig om mekaar by te staan. Ek het baie lewensondervinding en kennis wat ’n positiewe bydrae kan maak.

Dankie aan AfriForum wat moed en hoop aan mense gee.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs uit die buiteland teruggekeer? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Saoedi-Arabië

Deel op

Nuutste artikels