Uit en tuis: ’n e-pos uit Leicester

01/07/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
8-scaled

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Marie Breed wat in Leicester, Engeland woon.

Hallo, Marie! Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik en waarom het jy besluit om in Leicester, Engeland te gaan woon?

Ek het in Pretoria grootgeword, daar skoolgegaan en in Potchefstroom graad gevang in verpleging. Ongeveer 24 jaar gelede het ek gevoel ek het al my doelwitte behaal wat ek aan myself gestel het, en wou gaan kyk het hoe verpleging in ’n ander land vergelyk met Suid-Afrika. So is ek met my ou handsakkie en 23 kg-tassie Engelse land toe.

Was dit moeilik om aan te pas, of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Ek dink as ’n ervare verpleegkundige was dit nie vir my moeilik gewees om aan te pas nie en ek was nog altyd ’n persoon wat gou vriende kon maak. Ek kan met eerlikheid sê al my omliggende bure en ek het goed bymekaar aangepas. Ek deel altyd my beskuit met almal om my. Dis so lekker om ’n paar pas gebakte beskuite in ’n mooi sakkie te sit met ’n strikkie om die pakkie en dan vir hulle te gaan gee. Ek kan darem nou sê hulle lief my Afrikaanse beskuit en kaaskoeke.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Ek dink my grootste aanpassing was om in my verpleging hier nie alles te kon doen wat Suid-Afrikaanse verpleegkundiges doen nie. Dit het my baie gefrustreer. Hier is verpleging net in een rigting. As jy in “adult” verpleging gekwalifiseerd is, kan jy byvoorbeeld nie in ’n kindersaal of in ’n ander spesialiteit gaan werk nie. Ons Suid-Afrikaanse verpleegkundiges het ’n baie groot voorsprong want ons kan instap in enige saal of departement en aangaan met die werk. Ons opleiding in Suid-Afrika is van wêreldgehalte en ons werk meer holisties hier, wat mens nie altyd waarneem by jou Engelse kollegas nie.

Jy het genoem dat julle nou in ’n sekuriteitsoord bly, vertel ons meer daarvan. Hoekom het julle besluit om daar te gaan woon?

Waar ons bly, is dit soos ’n sekuriteitsoord vir mense bo 65 jaar. Die plek word “Almshouses” genoem en word bestuur as ’n liefdadigheidsorganisasie. Daar is 52 woonstelle en 6 “cottages” asook ’n soort ouetehuis vir mense wat nie meer na hulself kan kyk nie Elke dag van die week is daar aktiwiteite wat jy kan bywoon soos byvoorbeeld kunsgroepie/oefeninge vir ons ou mense/ontbytklub/vasvraklub/bingo. Daar word ook spesiale geleenthede gereël soos Moedersdag- en Vadersdagtee asook ’n Kersfeesete saam met almal. Hierdie dinge is gratis. Loterye is baie gewild en word dan saam met party geleenthede gehou om geld in te samel vir ’n liefdadigheid wat die plek ondersteun. Omdat ek ouer word en ek al amper 50 jaar verpleeg, het ek slytasieartritis ontwikkel in my knieë en kon nie meer my huis se trappe na die slaapkamers klim nie. Dit is hoekom ons hier aansoek gedoen het. Ek was baie bly dat ons keuring gekry het en was bevoorreg om in een van die ses “cottages” te kon intrek. Ek wil ook net sê dat ons die plek waar ons bly as ons s’n kan beskou en jy kan jou tuin doen net soos jy wil. Dave is ’n regte tuinier en ons tuin is regtig pragtig. Almal loop verby ons “cottage” om net ons tuin te besigtig. Dis net die “cottages” wat regtig tuine het, maar die hele plek se tuine trek ook van die mense in om daarin te kan werk wat hulle baie geniet. Ek wil ook noem dat ons ons eie kapel hier het en binne vyf minute se loop is jy ’n Sondag in die kerk om aan jou geloof aandag te kan gee. Dit beteken baie vir my want as jy werk … en verpleegkundiges moet Sondae ook werk … kan jy daardie deel van jou baie afskeep.

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Engeland met dié van Suid-Afrika?

Ek dink huispryse in hierdie Engelse land is uit die bose uit … Dis baie duur en jongmense sukkel om in die huismark in te kom met die aankoop van ’n huis.

Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

As agentskapverpleegkundige kon ek in die baie jare hier bekostig om so twee tot drie keer per jaar Suid-Afrika toe te gaan. Ongelukkig is my vier seunskinders elkeen in hul eie land; een in Amerika, een hier naby my, en twee in Suid-Afrika. Ek is nog bevoorreg om ’n moeder te hê wat al 93 jaar oud is. Sy is in ’n eenheid vir verswaktes in Johannesburg naby my oudste seun wat na haar doen en late omsien. Ek sien my seun wat hier bly minder as dié in Suid-Afrika. Nou is vlugte so duur dat ek net so twee keer Suid-Afrika toe gaan. Ek het juis Maandag my vlug weer bespreek wat so £200.00 duurder was as verlede jaar se prys.

Jy het genoem dat jy ’n geregistreerde verpleegkundige is en amper 50 jaar se verpleegondervinding het. Was jou Suid-Afrikaanse akkreditasie aanvaar in Engeland of moes jy jou verpleegsterkwalifikasie eers oordoen voordat jy kon werk kry in Engeland?

Ek moes voordat ek hier kon werk, aansoek doen by ons NMC. Dis ons verpleegstersraad soos die SARV in Suid-Afrika. Al my kwalifikasies is aanvaar maar ek het my PIN-nommer net vir volwasse verpleging gekry. Ek kon daarmee in meeste hospitale werk asook in gemeenskapsverpleging, waar ek nou werk.

Hoe vergelyk die gesondheidsorg in Engeland met dié in Suid-Afrika?

Ongelukkig is ons NHS … gesondheidsorg in die VK … in ’n krisis net soos in Suid-Afrika. Die mense sukkel om afsprake te kry en die waglys vir elektiewe operasies is BAIE LANK. Ek was drie jaar op die waglys vir een knie-operasie en ’n jaar lank vir die ander knie-operasie, wat nou amper drie maande postoperatief is. Die knieë sukkel maar. Hier is private gesondheidsversekering waaraan jy kan behoort.

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Moet net nooit ’n brood se prys hier met ’n Suid-Afrikaanse brood vergelyk nie want dan klink dit of mens teveel spandeer. Ek het aan die begin van my Engelse lewe nooit brood gekoop nie want dit te was vir my te duur. Ek dink hier werk mens vir ponde en betaal in ponde. Ek dink dat kos se pryse in Suid-Afrika BAIE DUUR is, maar as jy hier winkels toe gaan is dit ook maar duur.

Was Engeland se klimaat ’n groot aanpassing? Hoe hanteer julle die koue?

Ek kry baie swaar met die koue hier, maar gelukkig het ek warm klere daarvoor. In ons woonplekke het ons darem sentrale verhitting wat baie help in die koue weer en winkelkomplekse is ook warm … Selfs die busse en treine word verhit.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Moenie dink dat jy NET vir soveel jaar in ’n ander land wil gaan werk nie. Ek wou net vir twee jaar kom maar nou is die twee jaar amper 24 jaar. Gelukkig bly daar BAIE Suid-Afrikaners in die Verenigde Koninkryke en daar is groepe in al die groot plekke wat SA- groepe is. Hulle help en ondersteun almal wat daaraan behoort en samekomste word ook gereeld gereël. Sosiale media help ook om jou Suid-Afrikaanse liefde uit te kan leef. Ek het juis pas vanoggend by ’n groep aangesluit “Group for older SA woman”, darem voel ek nou nie meer dat ek die oudste SAFFA in die Engelse land is nie. Suid-Afrikaners het net daardie innerlike uitreiking na ander SAFFAS; mens snuffel hulle uit as jy jou sosiale media gereeld gebruik.

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Hongarye

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels