Uit en tuis: ʼn e-pos uit Montana, Amerika

26/09/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ʼn e-pos uit Montana, Amerika

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Ann-May Fourie wat in Billings, Montana, Amerika woon.

Hallo, Ann-May! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om tydelik in Amerika te gaan woon?

Ek en Danie is albei van Lichtenburg in die Noordwes. Ons het die geleentheid gekry om seisoenaal hier te kom werk.

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?

Die sneeu was vir my iets nuuts. Ons bly in Lichtenburg in Suid-Afrika. Daar word dit dalk -1 grade, dan is dit bitter koud. Hier in Billings het ek sneeu beleef en dit was asemrowend; dit laat my dink aan ’n winterwonderland met warm sjokolade, malvalekkers en ’n goeie boek.

Die nasionale parke is bitter mooi hier. Een ding wat uitstaan, is dat die mense uit hul voertuie klim om foto’s te neem van die bere en die bisons! In Suid-Afrika klim jy nêrens uit nie. Dit het nogal my brein gebreek. Die diere is ook baie anders as ons diere, maar ek hou daarvan om alles oor byvoorbeeld bisons, rooi pandas en tiere te lees en te weet. Ek is ’n vrywilliger by ZooMontana om meer te leer oor die dieretuin en alles wat daar gebeur, byvoorbeeld voorbereiding van maaltye, maandelikse roetineondersoeke en ook hoe hul die diere aktief hou. En natuurlik meer oor die dier self. Dit verstom my elke keer.

Hoe verskil bestuurslisensies en die bestuur van motors van dié in Suid-Afrika?

Van die kleinste ‟pickup” (bakkie) tot die grootste lorrie is alles in oortreffende trap. Hier sit die drywer aan die linkerkant en die passasier aan die regterkant en almal ry in die regterbaan, maar jy raak gewoond daaraan. Hier beteken ‟sheriff” iets; jy loop lig en volg die reëls, want hulle is orals en hier koop jy niemand om nie.

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Ek dink persoonlik dis bietjie duur, maar hier is baie goed vinnig bekombaar, anders as in Suid-Afrika. Ons werk niks in rande uit nie; jy sal ’n hartaanval kry. Maar ʼn mens leer aanpas by die tariewe hier en beplan mooi voor jy net koop of spandeer.

Hoe verskil die kossoorte in Amerika van dié in Suid-Afrika?

Ek mis baie van Suid-Afrika se kossoorte soos biltong en droëwors, Knorr se aartappelgebak en pakkies soppoeier, mieliepap/braaipap en boerewors. Die wegneemetes is baie anders. Jy kry byvoorbeeld warm broodjies en ’n glas water as jy aansit, en dan bestel jy eers. Dan eet jy minder, want die broodjies is gratis. Die ‟food trucks” is ons gunsteling; hulle maak die lekkerste kos en het ’n verskeidenheid disse. Ons ondersteun hulle eerder as om wegneemetes te bestel.

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong kan koop? Indien wel, wat is die naam van die winkels?

As hier mense van Suid-Afrika kom kuier, laat ons hul maar saambring wat ons nodig het. Ons het ’n World Market en kan aanlyn bestel, maar dit is baie duur.

Wat doen jy vir ontspanning in Amerika?

Ek stap of ry graag fiets op die staproetes. Hier in Billings is dit baie gewild. Die paadjies word uitgelê en is met mekaar verbind, so jy kan deur die hele Billings stap of met jou fiets ry. Die natuur is ook bitter mooi met al die verskillende diere wat jy op die roetes kan sien.

Ek werk twee tot drie keer per week as ʼn vrywilliger by ZooMontana. Ek is deel van die opvoedkundige program waar ons mense meer oor die diere vertel. Ons wys vir hulle artefakte soos kopbene, velle en hare en dan kan hulle vrae vra en vertel ons vir hul meer. Verder kry ek die geleentheid om meer te leer oor hul eetprogram en fiksheid. Ek is ook ’n ‟babaoppasser”. Ek het byvoorbeeld vir ’n maand lank omgesien na die nuwe rooi panda, Pavitra, om te sien of sy aanpas in haar nuwe tuiste, of sy eet en drink, aktief is en of sy uitkom. So ook die nuwe hasies wat van ’n ander dieretuin af gekom het.

Ek het ook in April 2024 met fotografie begin. Ek is mal oor die natuur en diere. Ek het ’n Facebook-blad geskep waar ek die foto’s deel sodat Suid-Afrikaners kan sien hoe dit hier lyk en wat hier aangaan. Nie almal kry die geleentheid om Amerika toe te kom nie, nou vat ek maar Amerika Suid-Afrika toe.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ek is opgewonde om die volgende seisoen te beleef. Ek het sneeu en ’n heerlike, mooi kort somer beleef en wag nou in spanning vir die herfs. Blykbaar is dit prentjiemooi en ek sien daarna uit om dit met julle te deel.

Lees ook: Uit en tuis: Die Braxton-gesin se Kanadese verhaal

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels