Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of daar gewoon en gewerk het en weer terug in Suid-Afrika is. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Alecia Odendaal wat hierdie jaar al vyf jaar in Nederland woon.
Hallo Alecia, dit is baie lekker om met jou te gesels. Van waar in Suid-Afrika is julle en hoekom het julle juis gekies om in Nederland te gaan woon?
Ek en my man het beide in Vereeniging, Gauteng grootgeword en ons later in Johannesburg gevestig. Die proses na Nederland het heel vinnig gebeur en ook effens onverwags. Ons het altyd die opsie oorweeg om in ’n ander land werkservaring op te doen en ’n maatskappy het my man genader vir werk. Hy het wel vir drie jaar agtereenvolgend nee gesê voordat ons wel die stap geneem het ná die soveelste nare misdaadervaring. Ek het nog nooit Nederland as ’n opsie oorweeg nie, maar ek is so bly dit het oor ons pad gekom! Ons het wel duidelikheid daaroor dat ons nie geëmigreer het nie. Ons geniet ons avontuur en kyk waar ons opeindig.
Julle woon sedert 2018 in Nederland. Vertel ons hoe jy die emigrasieproses ervaar het. Was dit ’n groot aanpassing?
My man het twee maande voor my na Nederland verhuis. Ek het agtergebly om die laaste van ons besittings en motors te verkoop. Dit was nogal ’n emosionele uitdaging vir my, my ouers het wel ’n verskriklike goeie ondersteuningsbasis vir my gebied en selfs die laaste aand in ons meenthuis op ’n enkelbedmatrassie geslaap om my te help om die laaste dinge in te pak en weg te ry.
My man het weer met ander dinge gesukkel want sy taak was om ons, op sy eie, in Nederland op die been te kry. Hy het nie in daardie stadium regtig iemand geken nie. Die laaste paar jaar het hier vreeslik baie Suid-Afrikaners na Nederland verhuis en ken ons ’n hele paar mense van ons koshuis- en werksdae in Suid-Afrika.
Ek was verbaas hoe maklik ons aangepas het, selfs in die winter. Ek dink dit gaan maar oor jou ingesteldheid. Ons het van die begin af geweet hierdie is ’n ongelooflike voorreg waarvoor baie ander mense bid.
Ons is baie oopkop oor terugtrek Suid-Afrika toe (of êrens anders heen) en het besluit ons leef voluit in die oomblik wat vir ons gegee is. Dié oomblik is tans Nederland waar ons huis bou en met ’n gesin begin en internasionale werkservaring opbou. My hart is baie seer vir die mense wat ongelukkig is hier, maar besluit het hul kan nie teruggaan Suid-Afrika toe nie, of ’n beter lewe vir hul kinders hier wil gee maar dan self sielsongelukkig is.
Vertel ons meer oor julle huisbou-avonture
Ons het na ’n jaar in Nederland ’n huis gekoop wat ’n klein bietjie aandag nodig gehad het. Ons het dit geniet om die huis op te knap en het onder andere self ons kombuis en badkamer oorgedoen. Dankie tog vir vriende by wie ons kon gaan stort vir een of twee aande toe ons planne nie lekker uitgewerk het nie! Die gogga het ons gebyt en ons het ons huis binne twee jaar verkoop en ’n huis met ’n lekker groot erf gekoop wat BAIE aandag nodig het. Die huis het aan ’n kluisenaar behoort en die klimopplante het reg bo-oor die voordeur gegroei, toe ons ons intrek geneem het. Ons het ons huisraad vir sewe maande gestoor en ’n breuk geneem voor die groot werk moes begin. Ons het vir ’n maand deur Catalunya, Spanje getoer met ons twee honde en verlede Februarie met alle erns begin bou en breek.
Dit was iets wat ons graag self wou aanpak en ons doen alles self behalwe vir die dak van die groot huis en die riolering. Iets wat mense nie begryp nie – ons het al soveel keer gehoor, hoekom kry jul nie iemand om dit of dat gou te doen nie. Dit het my ’n rukkie geneem om fisies sterk genoeg te raak om sakke sement en bakstene saam met my man aan te dra. So het ons nou al byna die hele binnekant van die huis oorgedoen, ’n lekker studio ingerig en die motorhuis oorgebou. Ons het vir vier maande in die studio gewoon, wat ’n effense uitdaging was met twee honde, die Europese winter en ’n hibriede werksomgewing (na die Covid-19-tydperk werk ek en my man gedeeltelik tuis). Tuis in Suid-Afrika wou heelwat mense weet hoe ons bouwerk vorder en daarom het ons toe besluit om ’n Instagram-blad te begin om die proses te deel, vandaar Lifewithyou.homebase.
Die gemeenskap waar ons ingetrek het, is ongelooflik ondersteunend en moedig ons daagliks aan en stop gereeld om met die honde te speel of kos aan te dra. Dit is ’n piepklein dorpie aan die Lekrivier, met geen supermark en ongeveer 1 000 permanente inwoners. Dit is vir ons ’n wonderlike breuk na Johannesburg se geskarrel en ons siele vind rus hier.
Nog ’n nuwe opwindende avontuur wag vir julle, jy verwag julle eerste baba. Vertel ons meer en ook hoe die gesondheidsorg verskil van Suid-Afrika.
Ons het tien rondtes fertiliteitsbehandeling, onder andere IVF, in Suid-Afrika ondergaan en drie rondtes IVF in Nederland voordat ons wonderwerkbaba uiteindelik op pad is. Dit was beslis nie deel van die plan om ’n huis oor te bou en ’n baba te kry nie. Ek was redelik oortuig dat dié rondte IVF nie gaan werk nie!
Dit was vir ons insiggewend om die verskille in mediese sorg te sien in terme van hierdie proses alleen. Die eerste drie rondtes IVF in Nederland word gedek deur jou mediese fonds, ons het dit eers besef toe ons hier aankom. Dit is ’n wonderlike kans vir paartjies wat graag kinders van hul eie wil hê. Indien ons weer kan kies, sal ons dit beslis in Nederland aanpak. Die proses duur wel ’n bietjie langer, maar ons het soveel meer emosionele ondersteuning ontvang van die mediese span hier en ook meer begrip van werkgewers ontvang wanneer ons vir afsprake moes gaan.
Jy word deur die swangerskap bygestaan deur ’n verloskundige en die ginekoloog is slegs betrokke indien komplikasies intree. Dit is wel vir ons effens anders dat hulle as standaard ’n kraampakket by jou huis aflewer met al die nodige toerusting vir ’n tuisbevalling, iets wat hul hier as normaal beskou en ook aanmoedig.
Vir die eerste week na die geboorte van die baba is almal in Nederland geregtig op kraamzorg wat behels dat ’n gekwalifiseerde persoon aan huis na jou en die baba omsien, maar ook help met huishoudelike take sodat julle as nuwe gesin net kan fokus op die koms van die nuwe toevoeging tot die gesin. Iets waarvoor ek baie dankbaar is met oumas wat so ver is met raad!
Hier betaal almal ’n maandelikse tarief vir basiese mediese sorg en kan jy aanvullende pakkette byvoeg. Die mediese sorg waarvoor jy uit jou sak uit moet betaal, is minimaal, indien enige. Sommige mense is ongelooflik gefrustreerd met die mediese sorg hier want jy kry nie sommer so vinnig medikasie en antibiotika soos in Suid-Afrika nie en parasetamol-grappies is volop. Indien jy verkoue / griep het, bly jy tuis tot jy beter voel en weer kan werk, iets wat ek nie sommer in Suid-Afrika ervaar het nie. Bygesê, ons het nog net goeie ervaringe gehad en moes al ’n paar keer aanklop vir mediese hulp (soos die keer toe ek my groottoon gebreek het nadat ’n staal balk op hom geval het met die renovasies).
Was dit moeilik om daar aan te pas of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Ek dink dit is maar altyd moeilik om uit jou bekende omgewing in ’n nuwe omgewing aan te pas. Spanwerk is baie belangrik en die wete dat jy en jou lewensmaat eintlik maar deur dieselfde rouproses gaan van ’n lekker lewe agterlaat, help jou om ook met deernis met mekaar om te gaan. Ons het aan die begin ’n paar keer vir onsself gevra – hoekom het ons hierdie gedoen. Ons het vir die eerste jaar ja gesê vir alles en dit het beslis gehelp om in te skakel. Ons het ’n wonderlike groep vriende en almal besef dat familie ver is en ons spring in om mekaar te help. Ek is so dankbaar vir vriendinne wat hul gesinstyd oor naweke opoffer sodat hul mans ’n handjie kan bysit met ons bouprojekte.
Die lekkerste deel van hier woon is die natuurskoon en dat ons veilig en gemaklik sommer net in die natuur kan invaar of op ’n bootjie kan vaar op die meer. So wanneer die verlange erg raak, trek ons tekkies aan, vat die honde en gaan besoek een of ander lekker plek, of loop net by ons huis uit al langs die rivier.
Ek het vir die eerste paar maande hier nie gewerk nie sodat ek ons administrasie kon uitsorteer en het goed gedoen wat ek nog altyd oor gewonder het. So het ek honde gestap vir ’n inkomste en vriende gemaak deur die proses. Ek het ook as kelnerin gewerk en dit was vir my ’n vars briesie wat ek nodig gehad het om myself weer te vind en ook vir ’n koekbakkursus gegaan. Ek was in die korporatiewe wêreld in Suid-Afrika en het hierdie gesien as ’n kans om myself te verryk. Ek is wel weer terug in die korporatiewe wêreld, maar werk slegs 28 ure per week, iets wat normaal hier is.
Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?
Ek is ongelooflik trots op hoe vindingryk ons Suid-Afrikaners is en watter hoogtes hul in die buiteland bereik. Die Suid-Afrikaanse gemeenskap het baie gegroei vandat ons hier aangekom het en daar is soveel Suid-Afrikaanse ondernemings! Ons probeer ’n klomp van hulle ondersteun, maar het ook mettertyd geleer om ons eie boerewors en ander dinge te maak.
Kuierkos is ons huis weg van die huis af. Hulle verkoop die lekkerste tuisgemaakte kos en hul biltong met geelvet bly maar net lekkerder as my man s’n. Die Spens is ook ’n gunsteling in terme van kruideniersware, soos wanneer ek na Maltabella-pap verlang. Daar is ’n paar winkels wat oulike handgemaakte produkte verkoop, ons het ’n hele paar goeie fotograwe en ’n vriendin het selfs ’n reeks klere uitgebring wat deur Suid-Afrikaanse vroue in Suid-Afrika gemaak word en dan hier verkoop word (Audella Athleisure).
’n Ander vriendin het byvoorbeeld ’n gaping in die mark gesien en organiseer mense se persoonlike spasies vir hulle (unyoke.spaces). Ons Suid-Afrikaners is beslis entrepreneurs in murg en been.
Hoe vergelyk die verblyfopsies in Nederland met die van Suid-Afrika?
Die verblyfopsies is maar tipies Europees met kleiner regop huisies en min persoonlike spasie. Sodra jy uit die stede beweeg, is die opsies wel ’n klein bietjie meer en ietwat groter. Hier is ’n groot behuisingstekort en die voorspelling is dat daar ongeveer 1 miljoen addisionele huise gebou moet word teen 2040 om in die tekort te voorsien. Iets wat vir my moeilik is om te begryp, want ek weet nie waar hul nog ’n miljoen huise in die klein landjie wil indruk nie. Ek dink dit is een van die redes hoekom sommige mense sukkel om hier aan te pas. Jy sien altyd ’n gebou, of ander mense of infrastruktuur van een of ander vorm, al is dit in die verte. Daar is nooit die gevoel van net ek en die aarde, soos in Suid-Afrika op die plaas nie.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?
Die diep verlange na gesprekke met mense wat jy al van kindsbeen af ken of koffie saam met my ma verlang ek die meeste na. Video-oproepe en oproepe bring jou ook net so ver en ons het vinnig geleer dat ’n glimlag op ’n video-oproep nie noodwendig beteken alles gaan goed aan die ander kant van die lyn nie. Voorgee is baie makliker.
Ek mis ook oop spasies en die bosveld ongelooflik. Toe ons verhuis het, het ons gesê dat ons elke vier tot ses maande terug sal gaan, wat wel gebeur het aan die begin. Toe kom Covid-19 en ons sien ons families vir twee jaar nie, en daarna het ons swanger geword en wou nie die risiko neem nadat ons so lank gewag het op hierdie bondeltjie nie. Gelukkig het my ouers twee keer kom kuier in die laaste jaar asook my boetie en sy gesin.
Daar is niks wat ek eintlik ekstra sou wou inpak nie, behalwe twee van my honde wat by familie woon. Ons het besluit om alles te verkoop en agter te laat, en het elkeen met twee tasse oorgekom. Dit was ongelooflik hartseer vir my om ons goed agter te los wat ons vir tien jaar bymekaargemaak het, maar dit het my so baie geleer in terme van wat saak maak.
Ek dink ook dit het ons gehelp om te weet dat ons nie Suid-Afrika agterlaat vir groener weivelde nie, want daar is nie so iets nie.
Praat julle nog Afrikaans en wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Ons praat beslis net Afrikaans tuis en ek verslind Suid-Afrikaanse tydskrifte wanneer ek een in die hande kry. In ons dorpie kan die mense nie Engels praat nie en ek werk in ’n bedryf met 50 Nederlanders so ons praat maar so gebroke Nederlands. Die Nederlanders om ons weet ook nou al wat die woord ‘baie’ beteken en gebruik dit sommer as hul met ons praat! Baie is nie ’n woord wat hul ken nie. Hier omarm hul beslis Afrikaans en almal se gesigte helder op as hul vertel van iemand wat hul ken wat al in Suid-Afrika was, of self daar was.
Afrikaans is deel van wie en wat ek is en ook my man. My antwoord sal steeds altyd wees as iemand vra van waar ek is, dat ek van Suid-Afrika af is.
Enige lesse wat julle geleer het?
Ons het so baie lesse geleer, maar die grootstes is:
- Jy gaan GROEI! Jy gaan leer hoe om op jou eie te wees.
- Ingesteldheid is werklik alles.
- Ons het agtergekom die mense wat sukkel om aan te pas is die mense wat dink hul kon hul lewe in Suid-Afrika optel en net hier voortgaan.
- Moenie staalbalke ronddra as jy plakkies aan het nie.
- Jy moet vir jouself opstaan en jou sê sê. Niemand anders gaan dit vir jou doen nie.
- Om ’n huis self oor te bou is nie grappies nie.
- Jy en jou lewensmaat se dinamika gaan verander in ’n ander land.
- Koop daardie trein- of vliegtuigkaartjie eerder as die nuutste paar tekkies. Die lewe wag vir niemand. Ons is net kort van 30 lande besoek, alhoewel dit seker bietjie gaan afneem met nog ’n klein reisiger by.
LEES OOK: Uit en tuis: Tuis uit die Republiek van Ierland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.