Ek en my vrou Sanet sy hou ook vir Daniel vas en ek vir Divan
Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Vandeesweek gesels ons met André Viljoen wat in Nieu-Seeland woon.
Vanwaar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en waarom het julle besluit om na Nieu-Seeland te verhuis?
Ons is oorspronklik van Vanderbijlpark, Gauteng. Ek is ’n ambagsman en kon nie werk kry nie, en my vrou was al sewe jaar lank in dieselfde posisie sonder enige groeigeleenthede. Ons het toe besluit om te emmigreer – net ons twee, met vier tasse in die hand.
Die Suid-Afrikaanse gemeenskap hier het ons met ope arms ontvang. Vreemdelinge het ons op die lughawe kom haal, vir ons ’n kar geleen en selfs ’n blyplek vir die eerste naweek gereël. Daarna het ons ingetrek by Suid-Afrikaners wat hul woonstel beskikbaar gestel het vir ander wat nuut aankom. Dit het ons tyd gegee om ons voete te vind en uiteindelik ons eie huis te kry – en dis waar ons vandag steeds woon.
Het julle kultuurskok ervaar, en hoe het julle dit oorkom?
Beslis! Dinge werk hier anders. Nieu-Seelanders is baie “laid back” – hulle glo more is nog ’n dag, terwyl ons gewoond is daaraan om werk betyds klaar te kry. Dit was ’n aanpassing, maar ons het gou besef hoe belangrik dit is om oor naweke uit te gaan en by die gemeenskap in te skakel – of dit nou by ’n restaurant, kroeg, sportklub of visvangklub is. By die werksplek is Nieu-Seelanders baie behulpsaam en ondersteunend, wat die aanpassing vergemaklik het.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika, en as jy iets kon inpak, wat sou dit wees?
Ek mis die Bosveld, rugby op TV, Desembervakansies by Hartenbos en natuurlik ons familie en vriende. As ek iets kon inpak, sou dit sekerlik polonie wees – of dalk net die hele Suid-Afrikaanse atmosfeer!
Jul het nou kinders – hoe het hulle in Nieu-Seeland aangepas?
Ons het ’n identiese tweeling van 18 maande oud. Hulle is Nieu-Seelandse burgers, maar ons maak seker dat hulle Afrikaans grootword. Ons huis is Afrikaans, ons vriendekring is Afrikaans en selfs hul juffrou by die kleuterskool praat Afrikaans. Daar is ook baie ander Suid-Afrikaner-kinders saam met hulle in die skool.
Hoe hou julle kinders kontak met hul grootouers?
Ons is bevoorreg dat my ma en my skoonouers al by ons kon kom kuier – my ma was hier toe die tweeling gebore is en my skoonouers vir ses maande. Maar dit bly moeilik om mekaar net deur foto’s en video’s te sien. Ons probeer elke naweek ’n video-oproep maak en hoop om hulle weer te laat oorvlieg om te kom kuier. Ons is nou ses jaar hier en het nog nie weer in Suid-Afrika gaan kuier nie, maar beplan om dit in die toekoms te doen.
Hoe verskil die skoolstelsel van dié in Suid-Afrika?
Ons kinders is nog in die kleuterskool, wat hier baie duur is – gemiddeld $250–$400 per week per kind in ons area. Daar is Christelike skole en staatskole, waarvan laasgenoemde gratis is, met ’n opsionele jaarlikse donasie. Privaat skole is peperduur.
Kinders maak self gebruik van openbare vervoer om by die skool uit te kom, wat vir ons eers vreemd was. Dit was ’n groot aanpassing om te sien hoe 12-jariges alleen bus toe stap of 8-jariges alleen huis toe gaan, maar dit is hier normaal en veilig.
Hoe werk bestuur en vervoerstelsels in Nieu-Seeland?
Gelukkig ry ons aan dieselfde kant van die pad as in Suid-Afrika. Ons Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie was vir die eerste jaar geldig, waarna ons vir ’n Nieu-Seelandse lisensie moes aansoek doen. Dit is vir 10 jaar geldig.
Ons besit elk ’n motor, maar moet vir dieselvoertuie “Road User Charges” (RUC) betaal – sowat $82 per 1 000 km. Openbare vervoer, soos busse, treine en veerbote, is veilig, betyds en bekostigbaar, en ons maak gereeld daarvan gebruik wanneer ons ’n konsert of rugbywedstryd bywoon. Die veerbote bied ook ’n pragtige uitsig as mens in die aande uit die stad reis.
Was die klimaat ’n groot aanpassing?
Ja, veral omdat ons in Auckland woon, waar die weer soos die Kaap is – vier seisoene in een dag! Januarie en Februarie is die lekkerste maande, terwyl winters nat en koud is, maar nie so ysig soos in die Vrystaat nie. Wasgoed word stadig droog in die winter, maar mens leer vinnig hoe om aan te pas.
Hoe sterk is die Suid-Afrikaanse gemeenskap in Nieu-Seeland?
Ons kom gereeld bymekaar! Daar is sokkies, braaie en kampe waar tot 700 Suid-Afrikaners saam kamp. Nieu-Seelanders begin ook ons kultuur aanleer – hulle vra sommer self: “When are we braai’ing?” en “Where is the biltong?”.
Daar is ’n paar Suid-Afrikaanse restaurante, en daar was selfs ’n Spur, maar hy het onlangs toegemaak. Wanneer jy Sondae na kerk in die supermark loop, voel dit soos Woolworths of Checkers – jy hoor Afrikaans orals!
Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou, en hoe leef julle dit uit in die buiteland?
Dit is vir ons baie belangrik. Ons skree nog steeds vir die Springbokke, luister Afrikaanse musiek, en gaan kerk toe. Ons kinders word met Christelike waardes grootgemaak en weet waar hulle ouers vandaan kom.
Ons behou ons tradisies, soos braai Woensdae, Vrydae en Saterdae. Sondae is kerk en kookkos. Ons braai met hout, nie gas soos baie mense dink nie. Ons eet melktert en koeksisters, en leef steeds ons Suid-Afrikaanse gewoontes uit – net in ’n ander land!

Enige laaste gedagtes?
Ja, mense dink dikwels daar is geen misdaad hier nie, maar daar is steeds inbrake en motordiefstal – net op ’n veel laer skaal as in Suid-Afrika. Die mediese stelsel is gratis, maar jy wag lank vir ’n dokter. Tandheelkunde is verskriklik duur – mense sê dis goedkoper om terug Suid-Afrika toe te vlieg vir ’n tandartsafspraak!
My vrou se swangerskap en die tweeling se immunisasie was heeltemal gratis.
Ons mis Suid-Afrika en ons mense, maar sal ons nuwe tuiste nie verruil nie. Ons is gelukkig en dankbaar vir die nuwe lewe wat ons hier kon opbou.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Portugal
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
