Uit en tuis: ’n e-pos uit Saoedi-Arabië

13/06/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
WhatsApp-Image-2024-06-13-at-13.33.40_84eadfb8

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Cara Potgieter, wat in Saoedi-Arabië woon.

Hallo, Cara! Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik en waarom het jy besluit om Saoedi-Arabië toe te emigreer?

Ek is in Kimberley gebore, maar het meestal in Bloemfontein grootgeword. Ek het ’n uitstekende geleentheid gekry om professioneel te groei en besluit om Saoedi-Arabië ’n kans te gee.

Het jy enige familie en vriende wat saam met jou geëmigreer het?

Niemand nie. Ek is oor op my eie, maar het ’n paar vriende in Saoedi-Arabië weens my werk.

Hoe behou jy jou verhoudings met familie en vriende wat in Suid-Afrika agtergebly het?

Ek het baie goeie vriende en vriendinne in Suid-Afrika. Ons verwag nie van mekaar om altyd te gesels nie, maar as ons mekaar nodig het, is ons altyd reg om ’n oproep te ontvang of te maak. Ek is ’n baie onafhanklike mens en bly nou al vyf jaar lank buite Suid-Afrika in my derde land; so, ek is gewoond daaraan om aan te pas.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland? Het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Die grootste aanpassing was om van Doebai, wat ’n see het, af weg te trek na Riaad, wat geen strand het nie. Die grootste aanpassing in die buiteland was om nie werklik ’n reënseisoen te kan geniet nie. Ek is mal oor die reën! Ek reis baie vir werk; so, ek het geleer om orals vriende te maak en nie regtig skaam te wees nie.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan en te reis?

Ek is baie bevoorreg in my werk omdat elke dag nuwe uitdagings het. Ek weet nooit wat voorlê nie en ek reis baie. Ek sien die hele wêreld en ontmoet soveel verskillende mense, maar dis ’n uitdaging om altyd te moet tyd maak om dinge te doen wat nie met werk verband hou nie. My lewe was nog nooit so besig nie en ek ontspan en rus beslis baie minder as in Suid-Afrika. Ek dink dis omdat ek in geleentheidsbetuur (Engels:events management) is en dus baie op kliënte moet fokus.

Praat jy steeds Afrikaans? Watter tradisies laat jy voortleef in die buiteland?

Ek praat Afrikaans met my beste vriende, wat saam met my werk en ook van Suid-Afrika is. Ek gesels ook elke nou en dan met my familie. Ek drink rooibostee en luister na Laurika en Theuns as ek regtig huis toe verlang!

Hoe vergelyk die verblyfkeuses in Saoedi-Arabië met dié in Suid-Afrika?

Dis baie ruim in Saoedi-Arabië, maar baie duur en baie luuks.

Wat is jou oorlewingslysie vir die hittige somers in Saoedi-Arabië?

Ek probeer in Europa werk in die maand of twee wat dit werklik warm is in Saoedi-Arabië! Die hittige somers is werklik iets om aan gewoond te raak.

Is daar interessante feite oor Saoedi-Arabië?

Ek dink Saoedi-Arabië word baie anders beskou as wat dit werklik is. Hier is baie geleenthede en die mense is werklik baie gasvry! Ek dink die kos is regtig baie lekker en sodra mens jou voete vind, is dit nie soveel anders as die huis nie! 

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs uit die buiteland teruggekeer? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels