Uit en tuis:  ’n e-pos uit Suid-Korea

27/06/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis:  ’n e-pos uit Suid-Korea

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Francois Pieters, wat al vir meer as ’n dekade in Suid-Korea woon.

Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik, en hoekom Suid-Korea?

Ek is van Potchefstroom, gematrikuleer aan Hoër Volkskool in 2006, en het in 2010 gegradueer by die PUK, toe dit nog regtig goeie standaarde gehad het. Ná my studies het ek begin werk soek – dit was nie maklik nie. Ek het in 2011 begin skoolhou en in 2013 by Hentie Cilliers Hoërskool gewerk.

Teen die einde van daardie jaar het ’n onderwyseres prakties kom doen. Sy’t toevallig langs my in die personeelkamer gesit en natuurlik het ek ’n geselsie aangeknoop. Sy’t genoem sy’s net hier om te proef vir NGO’s en gaan dan terug Korea toe. Ek het haar begin uitvra – oor veiligheid, die oorlog, alles. Sy’t gelag en gesê die media soek sensasie.

Ek het genoem dat ek al aansoek gedoen het om oorsee te gaan, maar nie kans gesien het nie. Haar antwoord: “Is Virginia rêrig waar jy vir altyd wil wees? Jy’s jonk, het niks wat jou vashou nie. Probeer dit vir een jaar – as jy nie daarvan hou nie, kom terug.”

Ek het daaroor gedink, besluit om dit te waag, en sy het vir my die kontakbesonderhede van ’n uitstekende agent in Kaapstad gegee. Twee weke later het ek ’n werk gehad. Die skool was nie gelukkig nie, maar wie sê nee vir ’n salaris wat drie keer meer is, gratis verblyf en medies, ’n 13de tjek en vele voordele?

Nou, 11 jaar later, is ek steeds hier – met nuwe redes om te bly.

2. Was daar ’n kultuurskok? Wat was die grootste aanpassing?

Suid-Korea verskil geweldig van Suid-Afrika. Ek noem graag beide die positiewe en negatiewe.

Wat vir my uitstaan, is hul werksetiek. Die gesegde “die kliënt is altyd reg” geld regtig hier. Mense gaan uit hul pad om goeie diens te lewer. Al mag jy nie meer as 52 uur per week werk nie, is dit nie ongewoon dat iemand siek werk toe kom nie – bloot om nie swakheid te wys nie. Dít sien jy nie sommer in Suid-Afrika nie.

Ek het egter ook gesukkel met hul gereserveerdheid. Mense groet nie in die openbaar nie, en vermy oogkontak. Dit voel ongeskik, maar in hulle kultuur is dit uit respek. Hulle meng nie in ander se sake in nie – hulle breek selfs nie eens met mekaar op nie; hulle ignoreer mekaar totdat die boodskap deurkom.

Hulle is ook verskriklik geheimsinnig – van hul verhoudings, huwelike tot vriendskappe. Intimiteit in die openbaar is taboe. Ironies genoeg het die land talle seksmotelle, want jong paartjies woon by hul ouers en het geen privaatheid nie.

Daar is ook ’n sterk kollektiewe kultuur. As jy uitstaan, word jy gou uitgesluit. Gesag en hiërargie is alles. Ek bevraagteken dinge, en dit maak my nie altyd gewild nie. Ek het al selfs ’n werk verloor omdat ek my opinie gegee het – ironies, aangesien ek aangestel was as adviseur!

Die deelkultuur is ook anders – mense deel kos, vat sommer van jou bord af, en sê nie “askies” nie. Tjorts is ’n konstante by etes, en dronkenskap is deel van die sosiale kultuur. Jy moet altyd iets op jou bord los – anders dink hulle jy het nie genoeg gehad nie. Ek los nie. Ek maak klaar!

En dan vra hulle altyd: 먹었어? (“Het jy rys geëet?”) – dit is hulle manier van groet. Maar wanneer my ma oorlede is en dit die eerste vraag is wat ek hoor, voel dit maar koud. Emosionele geselskap is nie deel van hul kultuur nie, en dis hoekom selfmoord hier so ’n groot probleem is.

Vertel ons meer oor jou werk en werkskultuur.

Ek het so bietjie genoem daaroor, maar ja, ek dink die werkskultuur vat ’n ruk om aan gewoond te raak. Ek is eintlik nog steeds nie heeltemal gewoond daaraan nie en raak nog steeds kwaad vir mense. Ek het tussen 2018 en 2020 vir die Koreaanse departement van onderwys gewerk. My rol was education advisor (opvoedingsadviseur), so ek moes advies gee oor onder meer Engels, vir die departement van onderwys. Ek het gehelp om hulle nasionale eindeksamen op te stel. In daai stadium was die persoon in beheer van Engels so ’n ou toppie wat die vraestel opgestel het. Maak nie saak wat jy sê nie, hy sal nie fout erken nie. Elke keer wat ek foute uitgewys het en nie saamgestem het met hulle nie, was ek verkeerd. Hulle het toe besluit om nie my kontrak te hernu nie omdat ek altyd ’n opinie gehad het, selfs al was my rol adviseur. In Korea moet jy ouer mense en mense met gesag net volg, jy mag nie vrae vra nie. Dis hoekom Engels nog ’n massiewe struikelblok is hier. Maar dit skep werk, so aan die ander kant kla baie mense nie, haha.

Ek werk tans by Hyundai as ’n korporatiewe opleier (Engels: corporate trainer). Soos ons weet was Hyundai in Korea gestig en is dit nou ’n wêreldwye maatskappy. Hulle stuur gereeld mense om oorsee te gaan werk en om die besigheid te verteenwoordig oorsee. My werk is, voor Hyundai-werkers oorsee gaan, om baie dinge van hulle kultuur uit hulle uit kry, en natuurlik ook hulle Engels te verbeter. Ek sit die meeste van die dag eintlik net in vergaderings en onderhandelinge, en gee terugvoer oor wat hulle doen. Die ding wat my nou nog irriteer is ook hoe Koreane alles mikrobestuur. Hulle probeer elke aspek van jou werk beheer. Die ander ding is, alles gebeur ook op die nippertjie. Koreane maak planne, maar jy kan 100% seker wees daardie planne gaan gereeld verander. Dit sal 08:55 wees en jy is op die tweede vloer, jou spanbestuurder sal na jou toe kom en vir jou sê jy het ’n vergadering op die tiende vloer en jy moet gou 09:00 vir die Global Intensive Teamoriëntering aanbied. Jy het vyf minute om alles in orde te kry. Dis veral erg wanneer dit 17:58 is en mensehulpbronne vir jou ’n e-pos stuur wat sê dat jy die volgende dag op ’n besigheidsuitstappie moet gaan na ’n fabriek of navorsingsentrum toe, dat die bus 06:30 vertrek, en dat jy vir ’n week daar moet bly. ’n Mens moet dan met jou vrou vinnig reëlings tref oor die res van die week. Dis maar ’n aanpassing.

Ek het so bietjie hieroor genoem hierbo, maar weereens, dis ’n “werk is alles”-kultuur. My ma is verlede jaar oorlede rondom 23:00 die aand Koreaanse tyd. Ek het seker eers 04:00 die oggend gaan slaap, 08:00 was ek by die werk. As ek moes afvat vir so iets sou hulle my salaris gesny het en my dalk afgedank het, want hoe kan ek betaal word as ek nie werk nie? Dit was bitterlik moeilik om by die werk te sit met ’n glimlag terwyl my hart en gedagtes êrens anders was. As sulks kon ek ook nie terugvlieg Suid-Afrika toe nie. Daardie werksprogram het nog aangehou vir twee weke in daardie stadium. Ek moes dus vir twee weke wag voordat ek Suid-Afrika toe kon gaan om my ma te begrawe. Dit was ’n baie moeilike tyd. My ouma is in 2021 oorlede, en dit was dieselfde geval. As iemand oorlede is, is die Koreaanse reaksie: “Ai, dis nou sleg, jammer. Oukei, kom ons gaan aan.” Dis maar moeilik soms. Suid-Afrika is die land van melk en heuning met al die verlof en siekverlof ens. Maar dan nou ja, die salarisse in Suid-Afrika is heelwat minder en op die ou einde van die dag sit liefde nie brood op die tafel nie.

5. Hoe verskil die lewenskoste?

’n Mens spaar baie meer in Suid-Korea as in Suid-Afrika. Maar in beide lande wen en verloor jy maar. In Suid-Afrika is die minimumloon iets soos R28 per uur en ’n mens kan amper niks doen daarmee nie. Hierdie kant is dit om en by R130 per uur, afhangend van die wisselkoers, en dan is dit wat ’n skoonmaker of so iemand betaal word. Maar daardie skoonmaker sal nog steeds R15 000 tot R20 000 ’n maand kan maak. Dis genoeg om te oorleef hier, want die belasting is baie laag. My belasting is tans 3,3% per maand. Dit fluktueer ook maar afhangend van baie ander aspekte, want die wet hier is bietjie anders as in Suid-Afrika. Maar die land kyk rêrig na hulle mense in terme van openbare dienste. Openbare vervoer is oral beskikbaar en is baie goedkoop, omtrent R20 per busrit of treinrit. Taxi’s is bietjie duurder, rondom R60, en dan klim die prys hoe verder ’n mens ry. Maar oor die algemeen is alles gerieflik. Ek kan soms die ogged iets op die internet bestel, teen die middag of aand op dieselfde dag sal dit afgelewer wees, miskien die volgende oggend. As ’n mens twee of drie dae wag vir ’n aflewering dan is dit verskriklik lank. Die afleweringsmaatskappye werk letterlik 24/7.

Die kosse hier, veral by winkels, is baie duur. ’n Mens betaal op die goedkoopste rondom R300 vir ’n kilogram steak, vier appels sal so R120 wees, brood is rondom R40 vir ’n halwe brood, melk is so R70 vir 1,8 l en dan is dit nie eers regte melk nie, en vrugtesap is ook so rondom R60 en dan proe dit soos Oros – so dis maar baie duur vir kos. Restaurante is nou weer goedkoop, veral Koreaanse restaurante waar ’n mens kan wegkom met R200 vir twee mense, want hulle het nie ’n footjiekultuur nie. En dis iets wat ek verskriklik baie geniet.

Maar aan die ander kant is behuising nou weer belaglik duur in Korea. ’n Mens kry nie huise hier met swembaddens of erwe nie, dis amper onmoontlik. En ’n huis onder R1 miljoen is onmoontlik. Jy sal dalk in die gatkant van die land regkom om daardie bedrag te betaal vir ’n huis. Die meeste mense bly in woonstelle. ’n Eenslaapkamer oopplanwoonstel in Seoul, veral Gangnam, se prys is so R10 miljoen en op. Dit raak nog meer belaglik in Apgujeong, langs Gangnam, waar woonstelle rondom R100 miljoen kos. Dan het dit maar net drie slaapkamers en twee badkamers, omtrent 30–40m². So Korea het wat hulle noem 전세(Jeonsê). Dis ’n sisteem waar mense ’n deposito neersit en die plek huur. Maar dis bietjie anders as Suid-Afrika. Want as die Jeonsê of depositobedrag baie hoog is, dan is die huur laer. So Koreane kry gewoonlik banklenings net om ’n deposito te betaal. Die deposito’s is gewoonlik so R1 miljoen of meer. In sommige areas is dit minder, so R500 000. Jy sal nooit ’n huis hier kry soos wat jy in Suid-Afrika kry nie, dit bestaan net eenvoudig nie.

Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan? Kry jy kans om te reis?

Glad nie. Ek het vier poste: my dagwerk, aanlyn klasse saam met my vrou se besigheid Namagong-Edu, ek leer Koreaans drie keer per week, en ek bestuur ’n lodge en toerbesigheid in Marloth Park, Namagong Travel. Ons is ook albei gekwalifiseerde veldgidse.

Ek vlieg so vier keer per jaar Suid-Afrika toe om die toerbesigheid aan die gang te kry. Vrye tyd is skaars – maar ek hou daarvan om besig te wees.

Wat is jou gunstelinggereg in Suid-Korea?

Koreane is baie lief vir gepekelde kosse, asook brandkosse. Ek daag enigiemand in Suid-Afrika uit om my in ’n warmkoskompetisie te wen. My gunsteling is dakbokkeumtang – dis soos ’n hoenderpotjie, maar vurig! Ek het dit al vir manne in Suid-Afrika gemaak wat beweer hulle eet brandkos – hulle het gesweet!

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?

Dat dit ongelooflik ontwikkeld is. In Suid-Afrika het ons hierdie prentjie in ons koppe dat Asië hierdie plek is wat onderontwikkeld is, waar mense rys plant en boer met beeste terwyl hulle driehoekige hoedjies dra, en dat ons, veral die Afrikaners, verhewe is bo almal. Maar die realiteit is dat die tegnologie ongelooflik gevorderd is. Die mense is ligjare voor ons. Omtrent alles is digitaal. Huise het nie sleutels nie, hulle het elektriese sleutelkodeslotte of slotte wat mens se gesig herken om oop te maak. Die ander ding is die dienslewering wat net ongelooflik is. Die mense het ’n kultuur van “Ons wil beter wees as ander”. Koreane is daagliks besig om uit te styg bo die res van die wêreld. Ons kan baie leer by die Koreane.

Praat julle nog Afrikaans?

Ek is baie erg oor Afrikaans praat, en praat dit gereeld. My vrou is ’n Koreaan, so ek praat maar meestal Engels met haar, en so af en toe sal ons Koreaans en Afrikaans met mekaar praat, maar dis meestal wanneer ons wil skinder. Met my seun praat ek 99% Afrikaans, en met my vriende en ander Suid-Afrikaners die kant streng en alleenlik net Afrikaans. Die ding is ook, ek praat ’n baie suiwer Afrikaans. Ek praat nie hierdie vreemde Afrikaans soos baie mense in Suid-Afrika deesdae wat hulle tale meng nie. Baie Afrikaners sê: “Afrikaans moet bly! Dis so ’n beautiful en amazing taal!” Dan wil ek net my kop skud. Ek meng glad nie my tale nie, selfs al kan ek drie van hulle praat.

Wat sou jy hierdie emigrasiehoofstuk noem?

Twee lande, een hart vol kontras.

11. Is daar enigiets Suid-Afrikaans naby jou?

Hier is so ’n paar Suid-Afrikaners hierdie kant wat plekke hier het, soos byvoorbeeld Roddy Bancroft wat Braai Republiek besit, dis drie restaurante in en rondom Seoul wat spesialiseer in braaigeregte en tradisionele geregte, en Andries Cremer wat The Dutch House het, ’n Suid-Afrikaanse slaghuis. Braai Republiek se “bunny chows” is vir my beter as dié in Durban. Roddy is ook van Potch af, so ’n mens kan verseker wees dat die manne weet hoe om te braai, sy lamspotjie is 9½ uit 10. Ek gee hom nie 10 nie want ek het nog nie al die manne in Suid-Afrika se potjies geproe nie, maar Braai Republiek se potjie is ’n absolute wenner. Andries se biltong en droëwors daarteenoor is ook 9½ uit 10. Die man is daar van Pretoria se wêreld af, en daar is amper niks wat hy nie kan doen nie. Vleise is iets wat hy definitief perfek doen! Hier is ook so ’n paar mense wat Suid-Afrikaanse produkte op Facebook of so verkoop, maar baie van hulle is onwettig sonder enige besigheidsregistrasie. Ek moedig ook ander Suid-Afrikaners aan om nie sulke mense te ondersteun nie want hulle maak mense soos Braai Republiek en The Dutch House seer in terme van besigheid. Ek ondersteun ook maar deesdae vir Braai Republiek en The Dutch House bitterlik min want ek kan die meeste van die kosse self maak by my eie huis. Ek gaan gewoonlik net Braai Republiek toe as daar rugby is of as iemand ’n verjaarsdag of so het. Elke keer wat ek Suid-Afrika toe vlieg bring ek gewoonlik ’n tas vol kosse en produkte terug. Die meeste lugdienste het 35–46 kg gewigstoelaag tussen Korea en Suid-Afrika, dus kan ’n mens lekker baie kosse en koeldranke terugbring. As sulks eet ek nog gereeld Suid-Afrikaanse kosse hier, pap is ’n absolute moet in die oggende!

Enige lesse wat jy geleer het?

Wees eg aan jouself. Ek het al 11 jaar hier gebly, my vrou is Koreaans – maar ek het nie vergeet wie ek is nie. Dis belangrik om ander se kultuur te respekteer, al is dit vreemd vir jou. Ons is nie altyd reg en ander verkeerd nie.

Ook: Moenie wag vir die lewe nie. Neem risiko’s. As ek nooit Korea toe gekom het nie, sou ek nie gewees het waar ek nou is nie.

Enigiets anders wat jy wil byvoeg?

Baie mense vra of ek vir altyd uit Suid-Afrika wil bly, en my antwoord is ’n besliste nee! Ek was al in meer as 25 lande, maar daar is net een plek soos Suid-Afrika – met sy gemengde kultuur, oopkop mense, vryheid van spraak en unieke natuur. Australië het ietwat soos Suid-Afrika gevoel, maar daar is té veel reëls. In Suid-Afrika is mense reguit; jy trap iemand op die toon, sê jammer, en die lewe gaan aan. In Korea is sulke foute ’n skande.

Mense vra ook hoekom ek hier bly as ek so patrioties is oor Suid-Afrika en Afrikaans. My vrou is dalk Koreaans van voorkoms, maar haar ingesteldheid is meer “boer” as baie Afrikaanse vroue – sy kamp in die Kruger sonder geriewe en help my wildspoorsny, sy het dit selfs gedoen toe sy swanger was.

Hoekom keer ek nie terug nie? Korea is waar my besigheid is, en die land bied ongelooflike mediese en ouerskapvoordele. Hulle betaal ouers ruim om kinders te hê en bied wêreldklas sorg – iets wat ek met my siektetoestand (polisistiese niere) baie waardeer. Ek kry medikasie wat in Suid-Afrika nie beskikbaar is nie, teen ’n fraksie van die prys. Korea se gesondheidsorg is ligjare voor Suid-Afrika s’n.

Deel op

Nuutste artikels