Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Vandeesweek gesels ons met Christine Scholtz, wat in Switserland woon.
Hallo, Christine! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Switserland te gaan woon?
Ek en my man het in Centurion gewoon voor ons geëmigreer het. Hy het op daardie stadium vir ’n internasionale maatskappy gewerk wat ons eers na Houston in Texas gestuur het (ons was daar vir nege maande) en toe na Switserland om ’n kantoor hier te vestig. Agt jaar later, en is ons steeds hier.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ek en my man het mekaar op universiteit (NWU-Pukke) ontmoet, is later getroud en het ons in Centurion gevestig. Hy is ’n prokureur en ek was ’n onderwyseres, maar deesdae is ek ’n huisvrou. Ons seun is in 2015 gebore, en vier maande later het ons sak en pak na Amerika getrek, met Switserland as ons eindbestemming.
Hoe het jy die emigrasieproses na Switserland ervaar en wat is die een ding wat niemand jou ooit oor emigrasie vertel het nie?
Die opwinding was baie groot om na Switserland te trek. My man se werk het baie reëlings namens ons hanteer; die fisiese trek was dus min moeite. Met die aankoms het ons besef hoeveel papierwerk gedoen moet word voordat ons regtig kan begin lewe – verblyfpermitte moet dadelik aangevra en uitgereik word; medies is verpligtend; en al het ons in ’n tydelike woonstel gebly, moes ons vinnig ‘n nuwe een kry. Die gróót probleem is egter dat daar nie veel beskikbaar is nie en die keuse moet só gemaak word dat jy weet dat jy vir etlike jare daar gaan bly, want jou permitte (en later jou paspoort) is daarvan afhanklik: Jy moet vyf jaar lank in dieselfde Gemeinde (Afrikaans: gemeenskap) bly om in aanmerking te kom. So voldoen jy aan die integrasiebeginsel, wat baie belangrik in Switserland is.
Niemand het my vertel hoe baie ek dit gaan mis om net op die speelgrond met my seun te wees en met ander mammas te gesels nie – ek kon nie Duits praat nie nie en ek het nie geweet hoe kil die Switsers eintlik is nie. Noudat ek hier woon en Duits kan praat, besef jy dat Switsers net skugter is en uit hul doppe kruip as jy hulle beter leer ken.
Hoe het jou seun in die nuwe land aangepas?
My seun is nou nege jaar oud, maar was 13 maande oud toe ons in Switserland aangekom het. Omdat hy vir die eerste paar maande van sy lewe in Texas grootgeword het, het hy nie koue geken nie. Ons het in Januarie in Switserland aangekom, in die middel van die winter. Dit was dus vir hom ’n groot aanpassing om ewe skielik lae klere en skoene te dra. Soos wat hy egter hieraan gewoond geraak het en die seisoene gekom en gegaan het, het hy dit baie begin geniet. Nou ski hy elke winter en is hierdie sy huis. Hy dink en tree nou op soos ’n regte Switser.
Hoe verskil die skoolstelsel in Switserland van dié in Suid-Afrika?
Dit werk totaal en al anders as in Suid-Afrika. Jy het twee jare van Kindergarten (waarvan een verpligtend is) en dan ses jaar van laerskool. Jy bly ook in dieselfde klas en net jou onderwyser verander elke tweede jaar. Aan die einde van jou graadsesjaar bepaal hulle watter ander skool jy gaan bywoon. Kinders wat ’n akademiese roete wil volg, gaan Kantonsschule (Afrikaans: kantonskool) toe wat tot graad 12 is. Aan die einde skryf jy ’n eksamen (die sogenaamde Matura) en volg die universiteitsroete. Indien jy nie hierdie roete wil volg nie, kan jy ook drie jaar by die Oberstufenschule (Afrikaans: boonstevlakskool) voltooi, waarna jou vakleerlingskap volg. Die meeste kinders is teen 16-jarige ouderdom reeds klaar met skool. Jy kan ook van die Oberstufenschule na Kantonsschule oorskuif as jou punte binne die drie jaar op die regte vlak kom.
Hoe behou julle ’n verhouding met julle familie in Suid-Afrika?
Met die tegnologie wat ons deesdae het, kan ons elke week ’n video-oproep met die oumas en oupas hê. Ons doen dit vandat my seun klein is en hy het ’n fantastiese verhouding met al die familie in Suid-Afrika. Ons is ook bevoorreg om elke jaar oor Kerstyd in Suid-Afrika te kuier, wat beteken ons sien die familie jaarliks.
Praat julle steeds Afrikaans?
Ons huistaal is Afrikaans en ons praat dit elke dag. My seun het in Afrikaans grootgeword en hoewel hy in Duits skoolgaan, is Afrikaans sy moedertaal. Hy ken rugby en speel dit ook hier by ’n klub. Saterdagaande se braai en rugby is steeds ’n tradisie in ons huis. Ek het ’n hele klomp Afrikaanse DVD’s gekoop wat my seun bykans elke dag na gekyk of geluister het (Lollo’s en Carika Keuzenkamp). Ons luister ook graag Afrikaanse musiek op Spotify.
Hoe verskil die werkskultuur van dié in Suid-Afrika?
Ek is ’n huisvrou, wat hier heel normaal is, aangesien kinders elke middag huis toe kom vir middagete. My man werk as ’n nakomingsbeampte vir Kuehne & Nagel, ’n logistiekmaatskappy.
Hier word naweke as gesinstyd beskou en daar word nie veel oor naweke gewerk nie. Ná Covid het tuiskantore ook baie gewilder geword en my man kan een tot twee dae per week van die huis af werk. Die algemene gesindheid is: “Werk om te leef, moenie leef om te werk nie.” Balans is belangrik.
Hoe vergelyk lewenskoste en behuising met dié van Suid-Afrika?
Switserland is een van die duurste lande om in te bly. Alles is duurder en ons skok almal as ons hulle vertel wat alles kos. Niks is goedkoop nie, maar mens raak dit gewoond en leer hoe om slim te koop en waarop om te spaar.
Behuising verskil ook drasties:
- Hier is nie baie losstaande huise nie; die meeste mense bly in woonstelle.
- Woonplekke is lieflik groot, maar vir ons wat gewoond is aan tuine en spasie was hierdie nogal ʼn aanpassing.
- Woonstelblokke het gemeenskaplike parkies waarin kinders kan speel en lawaai maak.
- Daar is strenger reëls oor geraas: geen lawaai tussen 22:00 en 07:00, of tydens middagstilte (13:00–14:00) nie.
Watter lesse het julle geleer?
- Hou op om alles na rande om te skakel. As jy dit doen, koop jy niks of gaan jy nêrens heen nie.
- Om hier in te pas moet jy Duits leer.
- Jou gemeenskap gaan klein wees. Die Switsers is vriendelik, maar gaan nie uit hul pad gaan om vriende te maak nie. Die meeste van ons vriende is ook van Suid-Afrika of ander dele van die wêreld.
Enige laaste gedagtes?
Switserland is een van die mooiste lande om in te woon. Al was dit ’n geweldige aanpassing, is ons baie gelukkig en word my seun in ’n veilige omgewing groot. Hy stap al van Kindergarten af alleen skool toe en hy speel buitekant sonder enige toesig saam met maats van die omgewing . Ons sien en ervaar so baie – en al word die gemis na ons familie in Suid-Afrika nie minder nie, weet ons dat hierdie die regte besluit was.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Oostenryk
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
