Uit en Tuis: ʼn E-pos uit Zürich

25/07/2022
| Deur AfriForum Wêreldwyd
1-2-scaled

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Emmie Smit wat in Zürich woon.

Hallo, Emmie. Vertel ons asseblief meer oor waar jy bly en hoekom jy daar is.

Ons woon in Zürich. My man werk vir ’n internasionale firma, waarvan die hoofkwartier in Switserland gebaseer is. Omdat ons graag reis, het ons besluit om Zürich ons basis te maak – die stad bied uitstekende vervoerinfrastruktuur en maklike toegang tot die lughawe, openbare vervoernetwerk en hoofweë.

Praat jy nog Afrikaans?

Ons moedertaal is Afrikaans, en ons kommunikeer daagliks met ons geliefdes: ma’s, kinders, kleinkinders, broers en susters, vriende, belastingkonsultante, versekeringsmakelaars en al die ander belangrike mense in ons lewens.

Ek skryf ook Afrikaanse opvoedkundige boeke vir Oxford University Press. Nog ’n Afrikaanse projek waarby ek as skrywer betrokke was, is die Fabelprojek wat ’n paar weke gelede gepubliseer is. Dis beskikbaar op De la Bat Skool se YouTube-profiel.

Het jy nog kontak met Suid-Afrika?

Ons het steeds bankrekeninge, posadresse en ’n voertuig in Suid-Afrika, en ons spens is vol Suid-Afrikaanse produkte. Ons het ook kontak met Suid-Afrikaners in Switserland. Ons volg die nuus, sport- en kunsgebeure.

Hoe gereeld sien jy jou gesin?

Ons sien ons kinders en kleinkinders nie baie gereeld nie, omdat ons familielede in Australië en Suid-Afrika woon.

Ons sien ten minste twee keer per jaar ons kinders wat in Suid-Afrika woon. Weens die gevolge van Covid-reisbeperkings kon ons die afgelope paar jaar nie ons mense wat Daar-Doer-Onder woon, sien nie.  

Wat was vir jou van die vreemdste dinge om aan gewoond te raak?

Die kontraste tussen Switserland en Suid-Afrika is absoluut. Ons het die skoon, doeltreffende, veilige, progressiewe en stiptelike aspekte vreemd gevind. Spanne begin elke aand sodra spitsverkeer afgeneem het, met instandhouding aan die paaie. Nodeloos om te sê, daar is nie slaggate of foutiewe verkeersligte hier nie.

Die gehalte, aantal en omvang van Switserse munisipale projekte is indrukwekkend. Die plaaslike munisipaliteite of Gemeindes is goed ontwikkel en word onderhou. Belasting word plaaslik betaal, en daarom word pogings om in die plaaslike gemeenskap se behoeftes te voorsien en hul welstand te verbeter, geprioritiseer.

Switserland is ‘n paradys vir fietsryers met asemrowende en motorvrye fietsryroetes. Inwoners is selfgedissiplineerd en hou by verkeerswette. En boonop geniet fietse dikwels voorrang bo voertuie. En, ons het nog nie ’n onpadwaardige voertuig gesien nie.

Kry jy die geleentheid om te reis?

O ja! Ons albei hou van reis! Ons het onlangs ’n padreis deur Italië, Frankryk en Monaco onderneem. Ons buurlande – Duitsland, Frankryk en Oostenryk – is tussen 30 en 90 minute vanaf Zürich en ideaal vir daguitstappies.

Het jy dit moeilik gevind om aan te pas?

Die aanpassing was nie so moeilik nie. Switserland was nie ons eerste kennismaking met Europa nie. Simon het voorheen in Duitsland en Frankryk gewoon, en ek het in Denemarke gewoon, so ons was ietwat voorbereid.

Ons mis Afrikaans, en selfs Engels is maar skaars. Die vier nasionale tale van Switserland is Duits, Frans, Italiaans en Romaans. Simon is vlot in Duits, maar ek is nie. Soos ek die taal begin bemeester, word ek meer onafhanklik. Switserse Duits is uiters uitdagend en intimiderend; daarom verkies ons Hoogduits!

Ek mis nie my motor nie, aangesien Switserland die wêreld se mees omvattende openbare vervoerstelsel het. Dieselfde kaartjie word gebruik om op treine, busse, bote, stoombote, kabelbane en kabelkarre te reis. Alhoewel ek openbare vervoer geniet, moes ek ’n kopskuif maak voordat dit makliker begin raak het. Nou sorg ek dat my inkopiesakke hanteerbaar is, want ek moet dit tot by die huis dra!

Was dit maklik om nuwe vriende te maak en by die gemeenskap aan te sluit?

Dit is nie maklik nie, en dit gebeur nie oornag nie. Maar ons is deel van fisiese en aanlyn groepe, soos die Facebook-groep South-Africans living in Switzerland. Waar moontlik gebruik ons ​​geleenthede om nuwe mense te ontmoet, soos byeenkomste by die Springbok Bar & Café in Wädenswil.

Hoe vergelyk Zürich se lewenskoste met Suid-Afrika?

Soos in Suid-Afrika, en waarskynlik oor die hele wêreld, kla die Switsers oor die lewenskoste. Zürich is een van die duurste stede ter wêreld. Verblyf is duur; die gemiddelde tweeslaapkamerwoonstel kos ongeveer R30 000 per maand. Voedselpryse is gemiddeld dubbel Suid-Afrikaanse pryse, maar die gehalte is baie beter. ’n  Aandete van R650 in Suid-Afrika sal tussen R1 400 en R1 800 in Switserland kos.

Jy beskryf julle as aktief. Wat doen jy om te ontspan?

Die Switsers glo dat werk sowel as ontspanning, heelhartig gedoen moet word, en ons het geen probleem met daardie filosofie nie! Gedurende die week is werk ’n prioriteit, en gedurende naweke is ontspanning. Oor naweke geniet ons soms die luuksheid van tuisbly; ander kere sal ons fietsry na ’n berg, rivier of meer. Wanneer ons verder reis, gebruik ons die motor of openbare vervoer. Die natuur bied baie; dit is skoon, veilig en toeganklik, en met plase en woude binne die stadsgrense is die natuur altyd op ons voorstoep.

’n Switserse Sondag is nie soos jou tipiese eerstewêreld-Sondag nie. Switsers beskou inkopies as werk wat gedurende die week gedoen moet word; daarom is winkels op Sondae en openbare vakansiedae gesluit. Sondae voed ons ons siele deur museums, galerye,  Altstädte (ou stede) en die ICF-gemeente te besoek.

Hoe lyk ‘n tipiese dag in jou lewe?

Simon werk vir ten minste drie dae per week buite Zürich, ten minste een dag buite Switserland en nou en dan buite Europa.

Tydens my oggendstaptogte by die Glattrivier, WhatsApp-bel ek familie en vriende. Ek is ons huishouding se bewaarder, kruietuinier en hergebruik- en herwinningsbestuurder. Ek werk van die huis af (of vanaf ’n veerboot op die meer, as ek dit die dag so verkies) aan skryf- en kunstebestuursprojekte.

Enigiets anders wat jy wil byvoeg?

Die oorlog in die Oekraïne is net 1 700 km van Switserland af en op dieselfde vasteland. Die toeganklikheid maak dit baie makliker om die Oekraïners te ondersteun. Plaaslike inwoners kan benodigdhede met hul privaat voertuie by die Poolse grens aflewer. Die vlugtelinge kan hulself help met klere, kos, medikasie, weggooidoeke, babakos, tasse, rugsakke, stootwaentjies, rolstoele, en ander noodsaaklikhede.

Van die meer as 12 miljoen vlugtelinge het sommige ook na Switserland gevlug. Die Switserse owerhede het meer as 54 000 Oekraïense vlugtelinge geregistreer, waarvan ´n duisend met werkpermitte uitgereik is. Die plaaslike inwoners ondersteun hulle op baie maniere. Privaat inisiatiewe maak hul lewens draagliker terwyl hulle onbepaald hier is. Die vlugtelinge se trauma is selfs meer tasbaar wanneer jy dit eerstehands in ’n sosiale omgewing hoor.

Ons vind dat Europeërs steeds die gruwels van twee wêreldoorloë onthou. Die oorloë het in hul persoonlike leefruimtes plaasgevind, en selfs vandag is daar geboue in die buurlande wat oorlogsletsels dra. Daar is sowat 360 000 gemeenskaplike skuilings in Switserland. Switserse wetgewing bepaal steeds dat elke Switserse inwoner ’n bomskuiling in die omgewing van hul woning gewaarborg moet word.

LEES OOK: Uit en Tuis: E-pos uit Sejong

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels