Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of daar gewoon en gewerk het en weer terug in Suid-Afrika is. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Dalene Berger (38) wat op 28 April by haar man in Zürich, Switserland aangesluit het.
Hallo, Dalene. Dit is baie lekker om met jou te gesels. Hoekom het julle juis gekies om Switserland toe te emigreer?
My man is in Switserland gebore en het saam met sy ouers na Suid-Afrika geïmmigreer toe hy een jaar oud was. So hy is eintlik ’n Boerseun met Switserse bloed. Ons het Switserland gekies omdat die kinders Switserse paspoorte gehad het en die papierwerk vinnig afgehandel kon word. Manlief wil ook graag tot aftree-ouderdom aan die Switserse pensioenfonds behoort, want as ons in Suid-Afrika aftree, behoort sy Switserse staatspensioen genoeg te wees vir ons om kop bo water te hou.
Vertel ons meer van jou gesin.
My man (55) is ’n gereedskap-, setmaat- en stempelmaker (“tool, jig and die maker”). Hy het ’n goeie werk in Switserland gekry, waarvoor ons baie dankbaar is. Ons moes drie maande van ons spaargeld leef voor hy werk gekry het. Ons het twee van die drie maande (Desember 2022 en Januarie 2023) in Switserland gewoon. Toe is ons terug Suid-Afrika toe en het van daar af probeer werk soek. Na ’n maand terug in Suid-Afrika het hy gelukkig ’n werksaanbod gekry, maar daardie drie maande was ’n baie stresvolle tyd. Hy kon Switserse Duits praat, maar moes dit eers weer ’n bietjie oefen toe ons hier aankom. Gelukkig is almal by sy werksplek vriendelik en praat graag met hom Engels ook. Ons dogter is 16 jaar oud en nog op skool. My stiefseun is 25 en woon reeds sedert September 2022 in Switserland in die Glarus-kanton. Dan het ons ook ’n laatlam, ’n eenjarige langhaar-worshond met die naam Archie. Hy is vreeslik bederf. Archie het sy inspuiting teen hondsdolheid gehad en is goedgekeur vir die groot trek, maar hy bly vir eers by my ouers in Suid-Afrika tot ons seker is dat hy wel kan oorkom.
Hoe vergelyk die verblyfopsies in Switserland met dié in Suid-Afrika?
Ons rand is nie veel werd in Switserland nie. Switsers huur eerder as om huis te koop. Die meeste wat wel huise besit, het dit van familie geërf. Party is darem welaf genoeg om die hoë pryse te betaal. Die gemiddelde huur vir ’n drieslaapkamerwoonstel is 1 500 Switserse frank per maand; dit is gelykstaande aan R30 000. So ons leef maar in ons knap spasietjie en knap niks op nie, want dis nie ons s’n nie. Ons hang nie prente op nie, want ons wil nie spykers inkap nie, want as jy trek, moet jy als weer regmaak. Elke woonstel het ’n yskas en skottelgoedwasser in en die meeste het ’n wasmasjien en tuimeldroër ook, so jy hoef dit nie te koop nie; jy huur die plek met die toebehore en al. Party woonstelle het ’n gemeenskaplike wasmasjien, dan deel jy wasdae met ander mense. Huis koop is net vir die miljoenêrs. Huispryse wissel tussen 350 000 en een miljoen Switserse frank (R7 miljoen en R20 miljoen) en is soms selfs duurder. As jy wil huis koop, moet jy ’n deposito van 30% betaal en dan betaal jy baie lank af. Die paaiemente is nie so hoog nie, maar die huis behoort omtrent eers aan jou wanneer jy al dood is – of so verstaan ons dit.
Was dit vir jou ‘n kultuurskok? En is die werkskultuur ’n aanpassing?
Nee, dit was nie ’n kultuurskok nie. Ons was in Suid-Afrika reeds deel gewees van die Switserse Klub en het saam met ons Switserse vriende Fleischkäse, Bratwurst en kaasfondue gemaak. En met ons lanterns om die vuur geloop om ons dogter gewoond te maak aan die Switserse kultuur. Maar natuurlik ervaar ’n mens die werklikheid ’n bietjie anders.
Die werkskultuur is wonderlik. Die Switsers is hardwerkend en baie stiptelik. As hulle sê negeuur, dan is jy negeuur daar. Hulle geniet lang etenstye, gewoonlik van twaalfuur tot halftwee, en in daardie tyd is die meeste plekke gesluit. Die plaaslike “Gemeinde” (munisipaliteit) is byvoorbeeld in daardie tyd gesluit, maar die winkels is darem oop. Sondae is alles toe; jy kry nie ’n enkele winkel oop nie. Switsers is trotse, hardwerkende mense en als werk in Switserland.
Die posstelsel is ongelooflik. As iemand vir jou iets pos, dan kry jy dit binne ’n dag. As jou naam nie op die posbus is nie, dan lewer die posman nie vir jou iets af nie. Jou bankkaarte en PIN’e word per pos gestuur en dit kom veilig by jou aan. Alles is net so veilig. My man het eendag bank toe gestap en toe hy daar kom, is ’n ouerige man besig om rolle banknote uit sy ouerige kar voor die bank op ’n trollie te laai om dit by die bank af te lewer. Daar was miljoene op daai trollie. Die man wat dit afgelewer het, het nie eens ’n pistool by hom gehad nie en ook nie ekstra sekuriteit nie, want mense word nie in Switserland beroof nie. My man kon sy oë nie glo nie.
Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?
Kos is baie duur in Switserland, veral as jy die Switserse frank aanhoudend bly omskakel na Suid-Afrikaanse rand toe. Vleis is peperduur. ’n Bottel Amarula kos 25 Switserse frank, wat R500 is. As jy jou salaris in frank betaal word, is dit darem nie so erg nie. Iemand het eenkeer gesê om te bepaal of ’n land duur is, moet jy kyk wat kos McDonald’s se Big Mac. Ons het vir ’n kaasburger, ’n klein pakkie slaptjips en ’n klein melkskommel 12 Switserse frank betaal. Dit is R240 rand, en dan eet net een persoon. So as jy reis en in rand betaal, is dit baie duur. Maar ’n mens kan nie alles in rand bly omskakel nie.
Die Switsers is met min tevrede. Hulle koop nie baie op ’n keer nie; hulle koop net genoeg en is tevrede daarmee. Ek het binne die eerste maand geleer dat ek met minder kan klaarkom as waaraan ek gewoond was.
In Suid-Afrika is ons baie bederf. Jy koop ’n gesigroom en ’n serum van Estée Lauder vir ’n billike prys. In Switserland vat jy maar die goedkoopste gesigroom, want jy spaar eerder jou geldjie vir iets anders. In Suid-Afrika is jy gewoond aan Checkers Sixty60 se afleweringsdiens. Hier stap jy maar winkel toe met jou oumatrollie en koop kos vir drie dae, want jou yskas is net so groot. Jy deel maar ’n kar met jou man, want jy betaal vir jou parkering, en soms moet jy ver parkeer en huis toe stap as jy gratis wil parkeer. So ons het lief geraak vir stap. Jy is veilig en voel nie iemand wil jou aanval nie. Die voetoorgange werk ook wonderlik. Jy is nog ’n meter van die streep af, dan stop die karre al vir jou. Voetgangers geniet altyd voorrang.
Hoe oud is julle dogter nou en hoe het sy in die nuwe land aangepas?
Ons dogter is 16 jaar oud. Sy wou oorspronklik nie trek nie, want sy het gevoel dis nie vir haar die regte tyd nie. Ons het gehoop as sy die land weer sien, sal sy dalk anders voel. Ons het haar binne die eerste twee weke na ’n integrasieskool geneem waar buitelandse kinders skoolgaan en intensief Duits, wiskunde en wetenskap leer. Alles word in Duits aangebied en dan toets hulle die kinders om te sien op watter vlak hulle is. Sy het die skool net een kyk gegee en gesê sy sien nie kans nie. Die ergste is dat hulle kinders op 16 al as volwassenes beskou terwyl ons hulle in Suid-Afrika eintlik eers op 21 as volwasse beskou. Ek was uiteraard ook gespanne as sy alleen moes trein ry; hoe sou sy weet waar om op en af te klim? In Switserland moet kinders vinnig grootword en baie selfstandig wees. Ek kan verstaan hoekom sy nie kans gesien het nie, want dis baie verantwoordelikheid vir ’n jong tiener. So sy is terug in Hartbeespoort en woon by haar Switserse tannie en oom. Hulle pas haar mooi op vir ons tot sy klaar is met skool en besluit het wat sy na skool wil doen. Ek sal daarvan hou as sy in Switserland kom au pair en die land nog ’n kans gee.
Hoe verskil die skoolsisteem in Switserland van dié in Suid-Afrika?
In Switserland maak baie kinders op 15 klaar met skool en doen op 16 aansoek vir ’n internskap by maatskappye waar hulle graag wil werk. Ander kinders gaan Berufsschule (beroepskool) toe, of as hulle universiteit toe wil gaan, gaan hulle gimnasium toe. Als is in Duits, so dis ’n groot aanpassing vir ’n tiener. Dis heeltemal anders as wat ons tieners gewoond is. Soos ek reeds genoem het, is jy op 16 al ’n volwassene.
Was Switserland se klimaat ’n groot aanpassing? Hoe hanteer julle die koue?
Ons het swaargekry in die koue. Ons het gedink dit sal maklik wees, maar dis moeilik – vier mense in ’n woonstel op ’n naweek en as dit sneeu, kan jy net lê en TV kyk. Ons was gewoond om ons huis op te knap en alles af te spuit en skoon te maak en nou sit ons vir mekaar en kyk. Ons het begin met stokperdjies op sulke dae.
Watter interessanthede het jy oor Switserland ontdek waarvan jy nie vantevore geweet het nie?
Glarus-kanton is baie interessant. Dis die enigste kanton waar mense nog stem deur hulle hande op te steek. Almal kom by die plaaslike stemlokaal bymekaar en steek hul hande op sodat daar getel kan word wat die meerderheid stem. Dis nogal vreemd.
Op 16 mag tieners alkohol begin drink, maar net wyn of bier, niks sterker as dit nie.
Jy betaal belasting op alles. Switserland se belastingmaand is Januarie. Dan moet jy jou TV-lisensie ook betaal en dis nogal heelwat meer as wat ons in Suid-Afrika betaal het. En als kom in die pos, jou belastingaanslag ook. Jy betaal dit alles met jou dertiende tjek, en as jy nie ’n dertiende tjek kry nie, moet jy elke maand spaar sodat jy jou belasting kan betaal.
Almal moet aan ’n mediese fonds behoort. Die eerste dag wat jy jou by jou munisipale kantoor aanmeld, moet jy reeds deel wees van ’n mediese fonds. Dit is verpligtend.
In Switserland het jy ’n staatspensioen waarvoor ’n bedrag elke maand van jou salaris afgetrek word. Dit soos ’n SASSA-toelaag wat eendag uitbetaal, maar dit is baie meer as wat SASSA betaal. Jy kan in ’n goedkoper land daarmee aftree, maar nie in Switserland nie; hier is alles te duur. Dan is daar ook pensioenfondse waartoe die werkgewer of die werknemer self maandeliks kan bydra soos in Suid-Afrika.
Elke dorpie het staproetes. Jy kan regtig van enige dorp af sommer net na die volgende dorp stap of lekker in die berg of met ’n staproete stap.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Om te emigreer, is moeilik. Dit kos baie gebede. Ons het die Here bly vra of ons die regte besluit neem. Is ons nie te oud nie? Sal ons kan aanpas en die taal aanleer? Natuurlik verwyt ons ons ook, want ons het ons ma en pa vir wie ons baie lief is agtergelaat. Hulle word ook oud. Hoe lank sal hulle nog gespaar bly? Sal hulle nog daar wees as ons eendag terugkeer, of sal ons hulle aan die dood moet afstaan en weet ons kon nog tyd saam met hulle geniet het? En dalk kon ons nog vir hulle iets beteken het. En dan natuurlik: Hoe laat jy jou kind van 16 agter? Dis moeilik. Dis baie verlange en bekommernisse, baie gebede en smekinge dat die Here haar sal veilig hou tot ek haar weer sien. Daar is ’n konstante stryd tussen jou hart en jou kop oor wat reg is. Maar elke dag is ’n bietjie makliker. Vriende van my man wat al twintig jaar in Australië bly, het vir ons gesê jy moet jouself moed inpraat en sê: “Kom ons maak dit tot by 100 dae.” En as jy dit tot daar gemaak het, dan stel jy ’n 500 dae-doelwit en dan ‘n 1 000 dae-doelwit. En as jy jouself weer kom kry, dan is dit twintig jaar. Of dit werk, weet ek nog nie, want ons het na 60 dae teruggegaan, maar al die regte deure het oopgegaan en na baie gebede het die Here ons weer in hierdie rigting gelei. Ons is dankbaar vir die geleentheid en gaan daarvan gebruik maak al kos dit baie trane en grys hare. Ons sal dit maak en sterker anderkant uitkom.
Totsiens tot ons weer sien. Suid-Afrika, ons sal julle weer eendag sien.
LEES OOK: Boerekaskenades in Erlangen, Duitsland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.