Uit en Tuis: ’n E-pos uit Ierland

11/10/2021
| Deur AfriForum Wêreldwyd
hananja-scaled

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon. Ons gesels graag die week met Hananja Liebenberg in Ierland.

Waar woon jy en waarom juis daar?
Ek en my man het in 2017 Ierland toe getrek. Ons bly in Celbridge, ’n klein dorpie net buite Dublin. Dublin is baie duur om in te bly so meeste mense kry maar plekke net buite Dublin, en ry dan elke dag in werk toe.

Was dit ’n groot aanpassing?
Ja, emigrasie word altyd geromantiseer, maar niemand weet regtig hoe moeilik dit is nie. Behalwe vir die kultuurskok, was die weer vir ons die grootste aanpassing. Dit reën vreeslik baie en almal weet dat reën kenmerkend is van Ierland, maar ons kon nooit voorbereid wees op hoeveel dit reën nie. Planne word altyd gemaak met die sêding, “weather permitting”. Ons mis die Suid-Afrikaanse son baie. Om in ’n vreemde land te wees met vreemde mense en sonder enige ondersteuning van familie en vriende is iets waaraan mens nie vinnig gewoond raak nie.

Vertel ons meer van jou gesin?
Vir baie lank was dit net ek en my man Francois. In 2019 het ons die verrassende nuus ontvang dat ek swanger is. Ons was geskok, maar baie opgewonde. Nooit kon ons dink wat daardie volgende jaar sou gebeur nie. Ons het groot planne gehad om die wêreld te toer met die nuwe lid van ons gesin…en toe tref COVID-19 die wêreld. Nou ’n jaar later het ons kleine Emily nog nooit eers haar familie ontmoet nie. My hart gaan uit na die miljoene gesinne in dieselfde posisie. Dit is moeilik om ’n kind groot te maak sonder enige familie, maar sy is ons wêreld en ons sal dit vir niks verruil nie.

Praat julle nog Afrikaans?
Ja, beslis! Dit is mos die beste om jou eie private gesprekke te kan hê sonder dat enige iemand verstaan wat jy sê. Emily se eerste woordjies is alles Afrikaans.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Ierland. Kom julle soms bymekaar?
Daar is vreeslik baie Suid-Afrikaners in Ierland. Dit is lekker om in hulle vas te loop in winkels en strate en dan ’n Afrikaanse gesprek met hulle te voer. Ons het gewoonlik eenkeer ’n jaar ’n groot Suid-Afrikaanse fees waar almal bymekaar kom, braai, kuier, en somtyds kamp. Daar is ook vele Suid-Afrikaanse Facebook-groepe vir ouers, gemeenskappe en areas. Ons kry vreeslik baie ondersteuning van almal op daardie groepe. Meeste van ons vriende hier is Suid-Afrikaners. Ons het dit nie so gekies nie, maar dit het toevallig so gebeur.

Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?
Die tyd wat hulle neem om iets te doen, was in die begin die vreemdste ding om aan gewoond te raak. Vergeet van Afrikatyd, hier is geen tyd nie. En as jy haastig raak, wil hulle weet hoekom jy so haastig is, daar is mos baie tyd. Dit was frustrerend. Die aksente is ’n ander ding. In Dublin alleen is daar soveel aksente dat wanneer jy net aan een gewoond raak, duik daar skielik ’n ander een op. Openbare vervoer was ook ’n baie vreemde ding om aan gewoond te raak. Jy het nie regtig ’n kar nodig nie want jy kan enige plek kom met ’n bus of ’n trem. Ons was so bang vir hierdie nuwe verandering dat ons vir drie weke net na een plek toe gegaan het, want ons was gewoond aan daardie busroete.

Is dit duur om daar te woon?
Ierland se lewenskoste is van die hoogste in die wêreld. Huur is onleefbaar duur en die moontlikheid dat jy meer as helfte van jou salaris op huur spandeer, is baie goed, maar salarisse is ook nie sleg nie en ons kon hier nog altyd luukshede bekostig wat ons nooit in Suid-Afrika kon bekostig nie. Wanneer mens in Ierland aanland om te bly, moet jy bitter vinnig werk kry as jy nie alreeds het nie want rande kom nie baie ver hier nie.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?
Ek kom van Krugersdorp in Gauteng af. Ons het ons laaste twee jaar in Carolina in Mpumalanga gebly. Ons het nog altyd ’n passie gehad om die wêreld te sien. Ons kon nooit stil sit nie, nooit tot ruste kom nie, ons wou alles sien in die wêreld, maar ons het besef terwyl ons in Suid-Afrika bly dat dit vir ons nooit ’n realiteit sou wees nie. Ons het toe besluit om vir twee jaar oor te trek en bietjie te toer. Maar ons het ’n ander manier van lewe gesien. Ons het gesien hoe die lewe moet wees en hoe veiligheid moet voel en as mens dit eers geproe het, kan jy nie weer teruggaan nie. Dit sal bitter onregverdig wees om die vryheid en veiligheid wat my dogter nou het van haar af weg te neem.

 

 

Deel op

Nuutste artikels