Verenigde Nasies: AfriForum plaas kollig op SA regering se menseregteskendings teen minderhede
Die burgerregteorganisasie AfriForum het gister (Vrydag 28 November) deelgeneem aan die Verenigde Nasies (VN) se 18de sitting van die Forum vir Minderheidsaangeleenthede. AfriForum se Hoof van Openbare Betrekkinge, Ernst van Zyl, het die organisasie se nuwe Die wêreld moet weet-verslag se bevindings in ’n mondelingse voorlegging by dié VN-forum aangebied. AfriForum het ook ’n kopie van die verslag aan die VN se spesiale rapporteur vir Minderheidskwessies, prof. Nicolas Levrat, oorhandig.
AfriForum se verslag en internasionale veldtog fokus op kwessies wat minderhede soos die Afrikaners affekteer, insluitend die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang, plaasmoorde, die Onteieningswet, aanhitsing tot geweld teen minderhede en aanvalle teen minderhede se erfenis en taal.
Volgens Van Zyl is die VN se hoë kommissaris vir Menseregte se inleidende opmerkings dat regerings gereeld minderhede die sondebokke vir hul mislukkings maak, baie relevant tot die SA regering se huidige gedrag.
“Die ANC se desperate intimidasie-, swartmeer- en sensuurtaktieke het misluk in hul pogings om AfriForum te muilband. Die waarheid is nie bang om in die kollig geplaas te word nie,” sluit Van Zyl af.
AfriForum se verslag kan gevind word by www.diewereldmoetweet.co.za.




















