Vrystelling van belasting op buitelandse arbeid

24/11/2016
| Deur Sue-Ann de Wet
vrystelling-van-belasting-op-buitelandse-arbeid

Die algemene reël is dat belastingbetalende Suid-Afrikaanse inwoners onderworpe is aan inkomstebelasting op hul wêreldwye inkomste.

Daar is sekere uitsonderings, byvoorbeeld werknemers wat ’n inkome verdien terwyl hulle dienste buite Suid-Afrika vir hul werkgewers verrig. Dié werknemer moet tydens ’n 12 maande-tydperk vir meer as 183 dae buite Suid-Afrika wees, waarvan ’n deel daarvan vir langer as 60 opeenvolgende dae moet wees. Hierdie vereistes word uiteengesit in afdeling 11(1)(o)(ii) van die Inkomstebelastingwet. Die wetgewing nog nie gewysig is nie, maar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (die SAID) het ’n bygewerkte konsepweergawe van interpretasienota 16 (konsep-IN) uitgereik. Hoewel dit nog nie gefinaliseer is nie en mag wysig, verskaf dit ’n aanduiding van hoe die SAID hierdie deel in die toekoms gaan toepas. Die konsep-IN meld in die besonder dat dit ’n algemene wanopvatting is dat alle vergoeding kwytgeskeld is wat in die 12 maande-tydperk ontvang is of opgeloop het. Dit is egter nie korrek nie. Slegs vergoeding wat ontvang is of opgeloop het ten opsigte van dienste wat buite die Republiek tydens die kwalifiserende tydperk van 12 maande gelewer is, is kwytgeskeld.

Die konsep-IN laat steeds toe dat die 183 dae-tydperk uit kalenderdae bestaan en nie slegs werksdae nie – met ander woorde, naweke, openbare vakansiedae, verlof en siekverlof tel wel. Die konsep-IN differensieer spesifiek tussen die aantaldaereël wat gebruik word om die 183/60-dagvereiste te bereken, en die bepaling van die kwalifiserende dae om die kwytgeskelde gedeelte van die inkomste te bereken. In dié opsig onderskei die konsep-IN tussen ’n situasie waar ’n persoon in diensneming is en in werklikheid buite Suid-Afrika is maar nie fisies dienste lewer nie (byvoorbeeld ’n vlieënier wat werksaam is, maar nie van verwag word om vir ’n tydperk wat hy weg is te vlieg nie), en ’n situasie waar ’n persoon fisies buite Suid-Afrika is maar nie heeltyd in diensneming is nie. Eersgenoemde mag niewerksdae as kwalifiserende dae tel, maar laasgenoemde nie.

Die konsep-IN verduidelik: Dae wat buite Suid-Afrika spandeer word wanneer ’n persoon nie in indiensneming is nie, kwalifiseer nie in terme van afdeling 10(1)(o)(ii) as dae buite Suid-Afrika nie en word dus nie met die bepaling van die 183 dae vir die doel van kwytskelding in berekening gebring nie. Hierdie afgebroke indiensnemingstydperke mag ontstaan wanneer ’n werknemer met intervalle in diens geneem word. ’n Werknemer word byvoorbeeld op kontrakbasis aangestel en gaan vir elke afgebroke tydperk ’n afsonderlike werkskontrak aan. Die tydperk tussen kontrakte waar die werknemer nie meer in diens is nie en geen dienste dus gelewer word nie, kwalifiseer dus ingevolge afdeling 10(1)(o)(ii) nie as dae buite die Republiek nie.

Belastingbetalers wat buitelandse werkskontrakte moet hierdie kontrakte dus met groot omsigtigheid oorweeg om te verseker dat die kwytskelding steeds in hul situasie toegepas sal word, gegewe die SAID se streng interpretasie en fyner ondersoek in die toekoms.

Jy is welkom om die belastingkonsultant Fanus Jonck (tax@jonck.net) met enige belastingvrae te kontak.

N.C.S. Jonck

Belastingkonsultant/-prokureur

BComptHons, BProc, HDip Belasting

Deel op

Nuutste artikels