Op 6 Februarie vanjaar is dit reeds 184 jaar sedert een van die opspraakwekkendste moorde in die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die hartjie van Zoeloeland plaasgevind het. Tydens dié aanval is die Voortrekkerleier Piet Retief en nagenoeg 70 man vermoor. Die vooraanstaande historikus dr. Jackie Grobler maak in sy artikel “The Retief Massacre of 6 February 1838 revisited” in die Historia van 2 November 2011 verskeie opspraakwekkende feite oor dié moorde bekend. Die volgende feite oor die Retief-moorde en die omstandighede daartydens het in die oorlewering van dié keerpunt in die geskiedenis byna in die vergetelheid geraak.
- Minstens drie nie-Zoeloe-getuies het die moorde aanskou
Daar is geglo dat al die manskappe in Retief se geselskap vermoor is en dat daar dus geen ander ooggetuies van die gebeure was buiten Dingane en sy Zoeloes nie. Dit is egter nie waar nie. Francis Owen, wat as Britse sendeling onder die Zoeloes gewerk het, het nie net die gebeure van ’n afstand gesien afspeel nie, maar ook later dieselfde dag die moorde in detail in sy dagboek opgeteken. Die 12-jarige William Wood wat by die Owens gewoon en soms as tolk vir Dingane opgetree het, het dit ook aanskou en sy vertolking van die gebeure is sowat twee jaar later in Kaapstad gepubliseer. Jane Williams (later bekend as Jane Bird), ’n Walliese bediende wat vir die Owen-gesin gewerk het, was ook ’n ooggetuie van die moorde. Haar weergawe van die bloedige dag is in Desember 1877 gepubliseer. (Verskeie ander Zoeloe-bronne bestaan ook oor die moorde, insluitende die weergawe van die Fransman Adulphe Delegorgue wat meer as ’n jaar ná die moorde Zoeloe-ooggetuies ondervra en ’n verslag daaruit opgestel het.)
2. Dingane was nooit van plan om die grond vir die Voortrekkers te gee nie
Die natuurskoon van Natal het die Voortrekkers aangetrek, maar die grond het aan die Zoeloes behoort. In ’n poging om ’n stuk grond vir die Trekkers te bekom, het Retief met Dingane gaan onderhandel, vandaar die traktaat wat opgestel is. Kenners meen egter dat Dingane nooit van plan was om ooit die grond vir die Voortrekkers te gee nie (ten spyte van die ondertekening van die traktaat wat dit bevestig). Die Zoeloe-historikus J.S.M Maphalala reken dat Dingane nie eens by magte was om stamgrond weg te gee nie aangesien hy bloot die “bewaarder” van die grond was, wat ’n geskenk van God is. (Daar het wel Britte in die Zoeloe-gebied gewoon, maar die grond is nooit vir hierdie inwoners gegee nie. Hulle het bloot verblyfreg geniet en was nie die eienaars van die grond nie.
3. Die oorspronklike weergawe van die traktaat bestaan nie meer nie
Hoewel die bestaan van die Retief-Dingane-traktaat nie betwyfel word nie, en daar betroubare bewyse is dat Dingane die dokument met die trek van ’n kruis “onderteken” het, bestaan die oorspronklike dokument nie meer nie. Verskeie historiese bronne reken dat die traktaat op 4 Februarie 1838 opgestel is, maar eers op 6 Februarie onderteken is – enkele ure vóór die moorde.
4. ’n 12-jarige het die Trekkers oor die beplande moorde gewaarsku
Die 12-jarige Wood wat by die Owen-gesin gewoon het, het in sy weergawe van gebeure aangevoer dat hy ’n groepie van Retief se manne die oggend van 6 Februarie oor die beplande moorde gewaarsku het. Die Trekkers het hulle blykbaar nie aan die jong seun gesteur nie. Toe die sendeling Owen die Trekkers oor hulle gevoel oor Dingane uitgevra het, het twee van hulle gesê dat Dingane ’n goeie man is – te oordeel na die groot stuk grond wat hy aan hulle toegestaan het. (Owen is self ook die oggend vóór die moorde deur ’n boodskapper van Dingane oor die beplande moorde ingelig.)
5. Een man het ontsnap (byna)!
Andries Pretorius het tien maande ná die moorde ’n Zoeloe-kryger oor die moorde ondervra. Dié het beweer dat een van die Voortrekkers in Retief se geselskap ontsnap het toe die aanval plaasgevind het. Hy het volgens oorlewering daarin geslaag om sowat 2 km ver te vlug voordat hy deur die Zoeloes ingehaal is. Hy het homself met klippe verdedig, maar is oorrompel.