Deur Clarise Haasbroek
Ons voordeur groet met vele moontlikhede: goeiedag, “good day”, “bonjour” en “dzień dobry”. Agter die voordeur hang vier rugsakke: een met rugbystewels, een met ’n notaboek en tweetjies met speelgoed, klippe en halfgeëete appels. Op die koffietafel sal jy padkaarte met aanwysings vind en agterin die laai ons paspoorte.
Die raserige inwonertjies praat nog van “die nuwe huis”. Hulle verwys na die stadswoonstel in Pole waarheen ons onlangs verhuis het – hulle eerste adres was in die Franse platteland.
Ek en my man sê dikwels “ons gaan huis toe” wanneer ons vliegkaartjies vir Desember bespreek. Huis is waar ons ’n Somerkersfees vier: met kerkklokke, RSG-musiek, kondensmelkaartappelslaai en swemklere op die wasgoeddraad. Braaivleisvure, waatlemoen, Tupper-bakke vol koekies en seesand op die vloer.
Dalk deel huis ’n adres met oupa en ouma, waar winters vaal en reën skaars is. Of is huis ’n kruidenierskas met rooibostee en All Gold? Waar ek mag grawe vir mieliemeel, droëwors, blatjang en beskuit. Het ek iets op dié lysie gemis? Dis net ’n winkel ver!
Huis het ’n uitgeholde sitplek, weggepakte tasse en ’n stoorkamer vol herinneringe geword. ’n Algemene dagboek met almal se datums. ’n Mamma wat elkeen se fiemies ken en ’n pappa met ’n oplossing vir alles. Die paaie tussen die huis, skool en kantoor is bekend. Met iemand op wie se knoppie jy kan druk – familie om die draai en vriende langs die pad. ’n Loodgieter en ’n huisdokter se nommer. Huis het iemand wat jou inwag.
Ons staan voor die internetadvertensie se nuwe woonstel, pas die sleutel en gooi die leë bokse weg. Ons proe die nuwe stad en leer die nuwe groet. Gou genoeg is die nuwe huis deurmekaar en ons weet – ons is tuis. Tuiskoms is ’n hoekie vir skoene uitskop met ’n wasgoedmandjie en oorskietkos. Met ’n bank vir lag en huil en ’n tafel vir droom en beplan.
My gunstelingkoffiebeker staan in ’n nuwe kas. Die taal en smake is weer ’n keer vreemd. ’n Onverwagse ding gebeur – die vreemde land se nuwe keuses word ook gunstelinge en selfs huishoudelike items. My huislysie het uitgebrei en skielik mis ek die vroegoggend vars baguettes, ’n boksie suikerblokkies, somersoetaarbeie, rye en rye kaas en jogurt. Selfs die eienaardige klein voorraad vars melk, die nou straatjies en die horkies voor die vensters het soos huis begin voel. Ja, die vreemde het die bekende geword. Skielik wens ek dat ek ook ’n Franse huispakkie ingepak het.
Ons het die slapies afgetel tot ’n warm Desember. Ons tasse rits net-net toe: vergete somersklere, plaaslike geskenke en mede-Suid-Afrikaners se pakkie pas ook in. Ons bypassende Kersfeestruie bly in die kaste van “die nuwe huis” agter.

Tuiskoms is ook op die lughawe waar oupa en ouma hopeloos betyds wag. Plat-skerm-soene word ingeruil vir nat oopbeksoene. Daar trek die lang-vlug-energie-belaaide voetjies weg nog voordat almal ordentlik gegroet is en oupa en ouma hardloop die klein voetjies tegemoet. Oupa se swaar gelaaide bakkie ken net een pad – Spur toe.
Ons sal weer ons tasse pak. In ons nuwe huis sal ons spaarsamig eet aan ons Suid-Afrikaanse huispakkie, oor die internet kan ons ’n Franse huispakkie bestel, maar ons sal ook nuwe Poolse peuselhappies kry vir Saterdagmiddag se rugby. Die bure, reuke en klanke sal bekend word. Ons sal die nuwe tandepasta langs ons ou tandeborsels bêre. Hier ook is ’n nuwe kruidenierslysie en ons daaglikse brood.
Ons voordeur maak baie ervarings oop. Maar tuiskoms is om ’n huis te skep: ons huis sal een wees met woordeboeke en speserye, klanke en vlae, vellies en musse, uitgepakte tasse en ’n Ikea-bedkassie met ’n Afrikaanse Bybel. Huis het nie ’n adres nie, maar ek het die sleutels.
Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.
Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.
Lees ook: Die Krismis-“blues”





















