Waar kom dié woorde vandaan?

07/05/2021
| Deur Alana Bailey
Photo-by-Alexander-Andrews-on-Unsplash-scaled

Alana Bailey

Sommige Afrikaanssprekendes voer ’n verbete stryd teen anglisismes … of woorde wat hulle as anglisismes beskou. Dit is nou woorde wat hulle meen sondermeer uit Engels in Afrikaans oorgeneem is. Aan die een kant is dit ideaal dat Afrikaans (wat nogal ’n reputasie as taal met besonder skeppende sprekers het), steeds nuwe woorde sal skep, in plaas daarvan om net woorde uit ander tale oor te neem en dit te verafrikaans. Dink byvoorbeeld aan mooi nuutskeppinge soos hommeltuig, webwerf en vonkpos. Of wat kan nou lekkerder wees as ’n sloertoer, wat soveel rustiger klink as ’n road trip?

Soms word woorde selfs onbewustelik geskep. In dié verband is kinders ’n inspirasie. Onlangs bied twee kollegas ’n program oor entrepreneurskap vir laerskoolkinders aan. Hulle vra die kinders wat jy die mense noem wat by jou koop. Een dogtertjie sukkel om op die woord “teikenmark” te kom en praat toe sommer van die “mikmark”. Sê dit nie lekker nie?

In enkele gevalle word woorde wat op die wyse spontaan ontstaan, deel van die alledaagse woordeskat, maar ander kere vind dit net geen inslag nie. Dit bly ’n onvoorspelbare proses. “Musiekpiering” is ’n kostelike woord, maar “CD” is so diep ingeburger, dat ek twyfel of dit veel langer sal oorleef.

Oorspronklikheid is dus die ideaal, maar daar moet ook teen oordrewe vyandskap teen Engelse woorde gewaak word. In die eerste plek leen alle tale woorde by mekaar – dit is ’n natuurlike proses. Tweedens is van die woorde waarteen die taalsuiweraars veg dalk nie oorspronklik Engels nie, maar lê hulle oorsprong veel nader aan Afrikaans …

Daar is woorde wat ons dalk as tipies Engels mag beskou, maar wat eintlik uit Nederlands in Engelse monde en woordeboeke beland het. Aan die een kant het migrasie vanuit Europa na Brittanje die ontwikkeling van Engels beïnvloed. In die Nederlandse Goue Eeu (met ander woorde die sewentiende eeu) het Nederlandse handel, wetenskap en kuns ’n bloeitydperk beleef en weens die invloed daarvan op die Westerse wêreld is Nederlandse woorde ook in Engels opgeneem. Meer as 1 500 erkende Engelse woorde het hulle oorsprong aan Nederlands te danke.

He had a scone with butter and drank a beer. Klink hierdie sin tipies Engels? Scone is waarskynlik die verkorte weergawe van die Nederlandse schoon brood wat na hierdie lekkerny verwys, butter kom van boter en beer van bier. Selfs cookie kom van die Nederlandse verkleinwoord vir koek, naamlik koekje.

Nog ’n verrassende woord is Yankee. Oorspronklik is ’n opstandige Noord-Amerikaanse burger spottenderwys “Jan Kees” genoem, maar mettertyd het dit Yankee geword en word dit, of die verkorte weergawe Yank, vandag gebruik om na burgers van die Verenigde State te verwys.

In die gewilde fliek Titanic (1997), gil ’n benoude bemanningslid “Iceberg right ahead!”. Iceberg is afkomstig van die Nederlandse ijsberg, wat ons ook so as ysberg in Afrikaans gebruik.

Weens die ryk Nederlandse seevaarttradisie en -geskiedenis is daar vele woorde wat uit dié oord in Engels beland het. Wat die name van vaartuie aanbetref, is daar byvoorbeeld corvette (Nederlands: corf), sloop (Nederlands: sloep) en selfs yacht (Nederlands: jacht).

Om op ’n ligte noot af te sluit, in Afrikaans voel ons hopelik meestal vrolik, in Nederlands vrolijk en dit het aanleiding gegee tot die Engelse woord frolic.

Dus, grense tussen die woordeskat van tale is vol lekplekke, ons leen oor en weer en soms raak die woorde só diep ingeburger dat ons nie kan glo dat dit nie maar nog altyd deel van ’n taal was nie!

’n Volgende keer sal ons oor woorde gesels wat Engels by Afrikaans gekry het. Tot dan – wees vrolik en geniet julle skons en bier!

Deel op

Nuutste artikels