In 2025 word die eeufees van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika gevier. Afrikaans 100 is beplan om in ’n tyd wat daar ernstige kommer oor die toekoms van ons moedertaal is, ’n keer net die taal te geniet en die prestasies wat al daarin behaal is, te herdenk.
In Mei 2025 sal verskeie vieringe deur die land plaasvind, maar dit beteken allermins dat vriende en sprekers van Afrikaans in die buiteland nie ook kan deelneem nie.
Aan die een kant is daar Afrikaanse musiekkonserte in Australasië, Europa, die Midde-Ooste en Noord-Amerika waaroor AfriForum Wêreldwyd deurgaans inligting deel en wat mense fisies kan bywoon, maar aan die ander bied die internet toegang tot ’n ryk verskeidenheid van inligting en vermaak wat met Afrikaans 100 verband hou.
In die eerste plek kan mense direk besoek by Afrikaans 100 se webtuiste aflê. By https://afrikaans100.org/raak-betrokke/ is daar ’n klomp oorspronklike idees van wat jy enige plek op aarde kan doen om aan die feestelikhede deel te neem.
Sedert die ontstaan van die taal was daar vele helde en heldinne wat dit help ontwikkel en groei het. AfriForum werp maandeliks die kollig op een van hulle met ons artikelreeks, Taalheld. Dit is by https://www.artikels.afriforum.co.za/afriforum-forum-nuus/ beskikbaar.
AfriForumTV bied ’n wye verskeidenheid Afrikaanse programme en vermaak aan vir alle smake en ouderdomme aan. In 2025 sal dié gratis aanlyn kanaal ook op Afrikaans 100 met spesiale programme fokus – hou gerus die AfriForumTV webtuiste (https://afriforumtv.co.za/user/titles) dop.
Weet, die aanlyn ensiklopedie en e-naslaangids vir leerders, se doel is om toegang tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans wat aanvullend tot die skoolkurrikulum is, te gee. Hoewel die primêre doel dus is om leerders te help om naslaanwerk vir skooltake en ‑opdragte in Afrikaans te doen, kan enigeen die inligting daarop geniet. Weet het spesiaal met die oog op Afrikaans 100 ’n tydlyn vir Afrikaans ontwikkel. Dit identifiseer hoogtepunte in die ontstaan en ontwikkeling van die taal en is beskikbaar by https://weet.co.za/tydlyn-vir-afrikaans/.
Vir ouers met kinders wat nog Afrikaanse onderrig kry, byvoorbeeld met tuisskoling, is daar ’n eenstop webblad waar hulle ’n oorsig kan kry van alle instansies wat Afrikaanse leerhulp aanbied. Dit is Afrikaans.com se Markplein (https://afrikaans.com/onderwysmarkplein/). Afrikaans.com bied self ’n groot verskeidenheid gratis Afrikaanse leerhulpmiddels aan – nie net met die oog op Afrikaans 100 nie, maar vir enige tyd.
Dus – vier die eeufees saam en snuffel aanlyn rond om skatte soos hierdie bogenoemde webtuistes of selfs nog meer te ontdek!