Tans herdenk ons die eerste honderd jaar van Afrikaans as amptelike taal in die land. Die prestasie om ’n geskrewe huistaal in ’n ten volle funksionele taal te ontwikkel wat langs Engels kan kers vashou, is inderdaad iets wat gevier moet word. Dit was die gevolg van die harde werk en opoffering van verskillende individue en organisasies. Die eeufees bied die gulde geleentheid om hulle weer in herinnering te roep.
Naas Arnoldus Pannevis, oor wie die vorige bydrae gehandel het, was C.P. Hoogenhout waarskynlik die mees bekende vroeë kampvegter vir Afrikaans. Verskeie variasies van sy geboortename bestaan – sy voorletters staan vir Casper of Casperus en Peter, Pieter of Petrus. Hy is op 11 Maart 1843 in Amsterdam, Nederland gebore. Hy was maar 13 toe sy moeder oorlede is en weens geskille met sy stiefma het hy besluit om na die Kaap te verhuis.

In 1860 het hy ’n pos in die Nederlandse konsulaat in Kaapstad aanvaar. Enkele jare later ontmoet hy ’n ander Nederlandse emigrant, die einste Arnoldus Pannevis, en hulle word gou vriende. Pannevis het Hoogenhout opgelei as onderwyser – ’n lewenstaak wat kort voor 1870 by Groenberg naby Wellington sou begin en wat hy vir byna veertig jaar lank sou uitleef. Pannevis het ook die begeerte om Afrikaans te bevorder by Hoogenhout gevestig.
By beide manne het die ideaal ontstaan dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word. Pannevis het wat dit aanbetref meer op bruin lesers gefokus, maar Hoogenhout het die behoefte by alle Afrikaanssprekendes ervaar. Hy (Hoogenhout) het eerste sy hand aan die taak gewaag en Mattheus 28 vertaal. Later het hy ook die evangelie van Markus vertaal, maar dit is nooit gepubliseer nie.
Hoogenhout het voorspraak vir die gebruik van Afrikaans in die koerant De Zuid-Afrikaan onder die skuilnaam “Klaas Waarzegger Junior” begin doen. Hy was ook verantwoordelik vir ’n gespreksreeks in dié koerant getiteld “Gesprekke tusse oom Jan Vasvat en neef Daantje Loslaat”. Dit was nie net propaganda vir die ontwikkeling en gebruik van Afrikaans nie, maar ook vir die bewusmaking van Afrikaners oor onderwys, Bybelvertaling en selfs politieke kwessies.
In 1875 was Hoogenhout een van die agt jollie kêrels (waaroor Randall Wicomb so vrolik sing) wat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig het om met die georganiseerde uitbou van die taal te begin. Hulle het saam ’n manifes uitgevaardig waarin hulle hul liefde vir hulle taal, volk en land verklaar het. Dit sluit af met die mooi uitnodiging:
Regte Afrikaners, ons roep julle op om same met ons te erken dat die Afrikaanse taal ons moedertaal is wat die liewe Here ver ons gegee het, en om same met ons te staan ver ons taal deur dik en dun, en nie te rus voor dat ons taal in alle opsigte algemeen erken is as die volkstaal van ons land nie.
Wat ’n inspirasie is die woorde nie – geen betoog soos wat ons deesdae hoor dat Engels (of Nederlands) ’n wêreldtaal is en Afrikaans gevolglik maar afgeskryf moet word nie. Dit maak ’n mens eintlik skaam om te dink dit het gekom van ’n groep wat ’n gebore Nederlander ingesluit het en wat almal geweet het hoeveel werk dit sou verg om Afrikaans tot amptelike taalstatus te ontwikkel.
Die jaar 1875 was in nog ’n opsig ’n hoogtepunt in Hoogenhout se lewe – hy is op 29 Maart met Catharina Maria Marais getroud. Sy was rofweg vier jaar jonger as hy. Hulle het ses kinders gehad en hulle huwelik van 47 jaar het eers met Hoogenhout se dood te einde geloop.
In die beginjare was hy een van die redakteurs van Die Afrikaanse Patriot, die GRA se eie koerant. Daar het sy liefde vir skryf gegroei, maar hy was toe reeds verantwoordelik vir die derde boek wat ooit in Afrikaans verskyn het, en wat ook die eerste kinderboek in Afrikaans was. Die titel daarvan is Die geskiedenis van Josef voor Afirkaanse kinders en Huissouwens in hulle eigegeskrywedoor een vrind en dit is al in 1873 gepubliseer. Hy was ook ’n mededigter van die Afrikaanse Volkslied (“’n Ider nasie het zyn land, …”), medeskrywer van die eerste geskiedenisboek in Afrikaans, ’n wiskunde handboek en hy het verder vele boeke uit Nederlands in Afrikaans vertaal. Die wiskundeboek was skynbaar sy topverkoper – 20 000 kopieë is daarvan gedruk!
Ons ken veral Hoogenhout se gedigte, meestal gepubliseer in Die Afrikaanse Patriot onder die skuilnaam “Oom Jan wat versies maak”, en van ons haal hom dikwels aan wanneer ons weeklaag “Engels, Engels, alles Engels …”
Hoogenhout was nie net ’n taalpatriot en skrywer van formaat nie, maar ook ’n geliefde onderwyser. Hy het in 1908 afgetree en is op 13 Januarie 1922 op Optenhorst naby Wellington oorlede. Die skooltjie by Groenberg kan steeds besigtig word en daar is planne om dit te restoureer.

Dit bly merkwaardig dat manne soos Pannevis en Hoogenhout van ver moes kom om so ’n sleutelrol in die geskiedenis van Afrikaans te speel. Deur hulle oë het Afrikaanssprekendes plaaslik ook geleer om die uniekheid en skoonheid van ons taal te waardeer – ons loof hulle daarvoor!
Deel op
Nuutste artikels