Wenners van VECTIS se kompetisie vir Afrikaans- en Nederlandstaliges aangewys
VECTIS is ’n Nederlandse organisasie wat die inwoners van die Lae Lande en Suid-Afrika nader aan mekaar probeer bring. Dit fokus onder meer op die besondere taalverwantskap tussen Nederlands en Afrikaans.
In Maart vanjaar het ons aangekondig dat VECTIS ’n kompetisie genaamd Taalspel “Leen uit het Afrikaans” van stapel gestuur het.
Om deel te neem moes mense ’n Afrikaanse woord voorstel wat hulle meen ’n gepaste alternatief vir die bestaande amptelike Nederlandse woord met dieselfde betekenis sou wees. Die voorgestelde Afrikaanse woord moes dan ook nie na die Nederlandse woord lyk nie.
Nie net die woord wat voorgestel is, was belangrik nie, maar ook die deelnemer se motivering waarom die Afrikaanse woord mooier, meer beskrywend of beter gepas as die Nederlandse ekwivalent is.
Die doel met die kompetisie was dat mense kan nadink oor Afrikaans, die beeldryke aard daarvan en die taal se noue verhouding met Nederlands.
Deelname was oop vir almal: Nederlandssprekendes, Afrikaanssprekendes en enige ander belangstellendes, maar slegs een voorstel is per deelnemer toegelaat.
Uiteindelik is 72 inskrywings ontvang, waarvan twee derdes uit Nederland en die res uit Suid-Afrika en Vlaandere was.
Die beoordelaars was Stef Bos (sanger, digter en skrywer) en Yves T’Sjoen (hoogleraar Nederlandse en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Gent en buitengewone hoogleraar by die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch). Hulle het die woord “hommeltuig” as wenner aangewys en “vonkelwyn” as naaswenner.
Omdat “hommeltuig” deur drie mense voorgestel is, het elkeen van hulle 75 Euro as prys ontvang, in plaas van 150 Euro vir een wenner. Die tweede prys is ook 75 Euro.
Hier is die vier motiverings:
Hommeltuig (“drone” in Nederlands)
- Kees Moerman: ‘Hommeltuig’ zou een originele vervanger zijn voor ‘ons’ woord ‘drone’, wat immers slechts een leenwoord is. Hommel is de letterlijke vertaling. ‘Hommeltuig’ geeft beeldend aan waar het om gaat: het vliegt en maakt geluid als een hommel. En het pas perfect in het rijtje ’tuigen’: vaartuig, voertuig, vliegtuig … hommeltuig!
- Sulene Pilon: ‘Hommeltuig’ is in Afrikaans geskep eerder as om drone uit Engels te leen. Dit is dus ’n unieke, Afrikaanse woord! Dit weerspieël die verwantskap tussen die onbemande tuig en die hommelby, en sinspeel op die aërodinamiese aard van die by en die tuig. Hommelbij en tuig is Nederlandse woorde – hommeltuig sal daarom vir Nederlandssprekendes verstaanbaar en bruikbaar wees.
- Ivo Schenkel: Het Afrikaanse ‘hommeltuig’ ter vervanging van ‘drone’, naar analogie met ‘vliegtuig’. Het Engelse ‘drone’ betekent ‘hommel’, en maakt ook het geluid van een hommel. Ondanks de drie lettergrepen ligt het woord lekker in de mond zonder die lelijke harde ‘dr’.

Vonkelwyn (“mousserende wijn” of “Champagne” in Nederlands)
- Desirée van Driel: Een zeldzaam mooi woord dat beeldend weergeeft waarvoor het staat: wijn die fonkelt dankzij de belletjes die schitteren als diamantjes, zelfs zonder de wijn te laten walsen. En dat generiek, zonder een herkomststreek te bevoordelen.

Ons wens die wenners geluk met hulle pryse en VECTIS vir hierdie oorspronklike idee wat sommer ook weer kreatiwiteit in Afrikaans én Nederlands aangewakker het!



















