Wintersherinneringe

17/01/2023
| Deur Pieter de Lange
Artikel-1-1

Deur Pieter de Lange

Ek en my seun Simon het gister 5 km in die sneeu gaan draf. Dit was ’n pragtige, sonnige ‑7 ⁰C-oggend. Terwyl die sneeu so onder my hardloopskoene gekraak het, het ek al die wintersherinneringe voor die gees geroep wat ons deur die jare gebou het. Ons het oor die nuus gehoor dat dié Desember tot dusver die koudste een in ’n 100 jaar is. Sneeu in die suide van Engeland is nog steeds iets buitengewoon. Ons het nie na die weervoorspelling gekyk nie en toe ons uitgaan, is ons skielik in ’n wit winterwonderland. Dis asof alle geluide skielik gedemp is: Die beierende kerkklokke het geklink of hulle kussings in het en die motors het stadig en stil verbygegly, amper soos skimme in die nag. Die warm reuk van kaggelvure oral maak ook die koue draagliker.

Toe ons in 1981 in Highgate gebly het, was dit die koudste winter in ’n honderd jaar en ek het in die sneeu met gewone skoene werk toe gestap, want ek het geweet dat my ou Austin Marina nie opgewasse was teen die sneeu en ys nie. Terwyl ek so gestap het, het ek het my verwonder aan die chaos van karre wat oral buite beheer geraak het en van die pad af gegly het. Dit was net die Range Rovers en die Audi Quattros wat veilig tussen die wrakke deurgegly het. Die ou rooi Londense busse kon nie die steil Highgate-heuwel uitklim nie, en dié wat probeer afgaan het, is gly-gly na benede. Toe ek by die werk aankom, was my voete sopnat en dood van die koue. Vir die eerste ruk het geen pasiënt in elk geval opgedaag nie en ek het met my voete teen die verwarmer gesit totdat daar rook by my kouse uitgekom het. Ek moes partykeer in etenstyd bank toe gaan, dan het ek my jas aangetrek en gedraf om warm te bly. Langs die praktyk was daar ’n huurmotormaatskappy met motors wat as “minicabs” bekend gestaan het. Toe ek een koue dag so draf-draf van die bank af aankom, jas en handskoene aan, het ek ’n Ford Cortina gesien wat so skeef in die lug gestaan het, met ’n vet ou wat onder hom gelê het. Met moersleutel in een hand en ’n sigaret in die ander het die ou gelê sodat sy hele harige pens uitsteek waar sy hemp opgetrek het. Hy het rustig aan die Cortina gewerk asof dit net ’n gewone dag was. Ek moes eers stop en seker maak van wat ek gesien het.

Die ander wintersherinnering is van ons besoek aan ons goeie vriend Daan Botha in Tehachapi in Kalifornië oor Desember ’n hele paar jaar gelede. Mens assosieer Kalifornië met branderplankry en oliebore in die droë vlaktes, maar die binneland was wit van die sneeu toe ons daar aankom. Dis op pad wat ons opgelet het hoeveel motoriste die pad byster geraak het, toe ons kort-kort sportnutsvoertuie sien wat gestamp was of gerol het. Daan het ons vertel dat hulle eintlik selde sneeu in Kalifornië kry en dat die plaaslike motoriste geen idee het hoe om in dié toestande te bestuur nie. Daan se pragtige plasie in die heuwels het nog meer sneeu gekry. Daan was eksentriek, soos altyd. Sy drie motors het elkeen in die erf met sleutel in die knormoer gestaan – enigeen kon net inklim en ry. Sy plek het groot stoepe gehad en een van sy honde, Brutus, het uitgestrek op sy maag op die koue stoep gelê.

Die volgende dag moes Daan dorp toe gaan vir sake en ons het agtergebly om na die diere te kyk. In ’n stadium was einste Brutus in ’n onderonsie betrokke met iets wat vir my soos ’n ander hond gelyk het. Ek het aangeneem dis die bure se hond, maar my seun was meer oplettend en hy het geskree: “Pasop, Pa, dis ’n coyote!” Dis iets wat Daan later bevestig het, toe hy ons vertel het van al die wilde diere wat in daardie omgewing voorkom.

In 2010 het Rene 10 dae in ’n goeie hotel in Sint Petersburg vir ons gesin bespreek. Ons was dus reeds op pad na ’n baie koue bestemming toe dit terselfdertyd bitter koud word hier in die VK. Ons het baie vroeg lughawe toe gery, want dit was wit gesneeu en op pad Heathrow toe het ons motors gesien wat net so in die sneeu agtergelaat was. Die paaie en treine was soos gewoonlik in chaos gedompel. Ons het op ’n ander vlug in Wene oorgeklim, waar alles kalm was en goed gewerk het. Ons het ’n huurmotor van Sint Petersburg se lughawe af geneem en opgelet dat die temperatuur -12 ⁰C was en dat daar net soveel Porsche Cayennes as Lada Nivas was in die pragtige hoofstraat, Nevsky Prospect. Dit was tekenend van die nuwe welvarende Rusland teenoor die grys ou Sowjet-verlede. Die gebou waarin die beroemde komponis Pjotr Tsjaikofski in 1893 onder kontroversiële omstandighede gesterf het, was reg oorkant ons hotel. Ons het dadelik na die Nevarivier gestap. In die flou daglig kon ons sien dat daar oral blokke ys in die water was. In die gidsboek het ons gelees dat dit ’n veiligheidsmaatreël is om die ys op te breek en duisende mense te verhoed om daarop te skaats, want dis onafwendbaar dat party in daardie ysige water sal inval. Die enigste plekke waar daar bietjie oop water was, was onder die brûe, waar die arme eende angstig in die rondte bly swem het. Moet die ou verevolkie dit vir die hele winter doen? het ek gewonder. Ontbyt was die belangrikste ete in daardie yskoue klimaat en dit het die vorm van ’n vol ete aangeneem, met al die vleis, rys, groente en slaai wat jy normaalweg vir middag- of aandete sou geniet.  

Sint Petersburg in die nag, met die alomteenwoordige wit sneeu, die grasieuse brûe oor die rivier, die kersligte op al die geboue en die glimmende weerkaatsing op die water, is een van die mooiste gesigte wat ek ooit gesien het. Ons het die beroemde kuns- en kultuurskatte geniet, soos die Hermitage in die Winterpaleis wat in 1764 deur Katerina die Grote begin is, en die Kerk van die Verlosser op Bloed, wat gebou is op die plek waar Tsaar Alexander II in 1881 vermoor is. Die reuse Isakkatedraal is op moerasagtige grond opgerig en het 25 000 heipale benodig om dit te stabiliseer. Dit is eers in 1858 ná 40 jaar voltooi.

Dit het aanhoudend gesneeu en ons was verbaas om te sien dat daar sulke meganiese laaigrawe op wiele was wat die hele nag deur sneeu op groot trokke gelaai het. Die sneeu is dan na geskikte terreine weggery. Weens al die besoedeling mag die sneeu blykbaar nie smelt en in die rivier inloop nie. Dit was ’n openbaring om te sien hoe deftige dames met pelsjasse en in hoë hakke in die dik sneeu regkom. Ons het nie een motorongeluk in die besige strate gesien nie. Maar wat ons wel gesien het, is die tragiese gevolge van die Afghaanse Oorlog. Mariaan het ’n paspoort by Wene se lughawe laat val en dit is gelukkig toe na Sint Petersburg se lughawe aangestuur. Ek en Christiaan is met die trein lughawe toe en dis waar ons talle verminkte oudsoldate sien bedel het, baie van hulle sonder bene of arms. Dit was pateties hoe hulle op en af in die gange geskuifel het. Dan wonder mens waarom op aarde daardie regering dit weer aan hulle eie mense doen?

Deel op

Nuutste artikels