Deur Alana Bailey
In 2018 is 24 Januarie deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies tot Internasionale Onderwysdag verklaar. Soos met alle datums met ’n internasionale tema, is die doel hiermee om bewusmaking te skep oor aktuele sake op die terrein van onderwys en ook vanuit ’n breër perspektief te besin oor hoe verskillende lande en gemeenskappe vorder op hierdie gebied.
Toegang tot onderwys word as ’n basiese mensereg beskou, maar tog word baie steeds daarvan ontneem. Volgens UNESCO is daar ongeveer 258 miljoen kinders in die wêreld wat om uiteenlopende redes glad nie skoolgaan nie.
Die VN beklemtoon dat die opvoedingstaak ook nie net op die weg lê van instellings nie, maar dat elkeen van ons ’n plig het om inligting oor te dra en kwaliteit onderwys te bevorder.
Aan die einde van verlede week is die 2022-matriekuitslae bekendgemaak. Aan die een kant was daar wonderlike prestasies – die gevolg van toegewyde onderwysers, sorgsame ouers en hardwerkende kinders se inspanning oor jare. Aan die ander kant was daar weer honderdduisende kinders wat verdwyn het uit die onderwysstelsel – die presiese aantal hang af van watter faktore almal in berekening gebring word, maar rofweg kom dit op 300 000 kinders neer wat in 2011 in graad 1 was en nie nou ’n matrieksertifikaat in die hand het nie.
Die direkteur-generaal van Basiese Onderwys, Mathanzima Mweli, sê die werklike probleem is die aantal kinders wat teruggehou word om ’n jaar te herhaal, of druip. Daar is skole wat hierdie maatreëls toepas om beter slaagsyfers in matriek te kan aankondig en dit is nie ’n gesonde praktyk nie, maar Mweli is verkeerd as hy dink dat dít die probleem is. Die werklike oorsaak is die gehalte onderwys wat kinders in sommige skole kry en die feit dat gemeenskappe en onderwyspersoneel nie aanspreeklikheid aanvaar vir swak onderrig in hulle skole nie.
Wat help dit ’n kind herhaal ’n skooljaar as die onderrig wat hy ontvang, presies dieselfde as die vorige keer in die graad is? Mweli verwys na die goeie gevolge van outomatiese progressie elders in die wêreld, met ander woorde dat kinders nie jare herhaal nie, maar vergeet om te noem watter hulpmiddels dan tot hierdie leerders se beskikking gestel word – ondersteuningsprogramme waarvan baie skole in die land nie eers kan droom nie. Kinders met leerprobleme wat in klasse van 45 tot 65 sit, het ‘n onooembaar skrale kans om te slaag. Bowendien bied skole in sterk ekonomiese lande verskeie kurrikulumopsies aan om vir kinders se uiteenlopende aanlegte voorsiening te maak, terwyl die klem in Suid-Afrika veral op universiteitsopleiding bly.
Vanuit die oogpunt van ’n werkgewer is ’n universiteitsgraad of matrieksertifikaat lankal nie meer genoeg om jou te oortuig dat iemand aangestel moet word nie. Met ’n amptelike jeugwerkloosheidsyfer van 59.6% (soos in Desember 2022 bekendgemaak) kan ’n mens kies en keur tussen kandidate en dan speel kwessies soos bewyse van die aansoeker se bereidwilligheid om te werk en gemeenskapsfokus ’n rol. Is hy of sy as vrywilliger betrokke by enige welsynsorganisasies of projekte, en het die persoon al iewers gewerk? Al was dit kortstondig en as vrywilliger of net teen fooitjies as kelner, beteken dit daar is iemand wat kan getuig of hierdie mens ’n aanwins as werknemer sal wees.
Ons as gemeenskapslede kan ook ruimtes skep vir jongmense om dié soort ervaring op te doen, terwyl ons verder ’n jaloerse oog op die onderwysinstellings in ons omgewing hou om hulle aanspreeklik te hou as hulle die leerders in hulle sorg in die steek laat.
Om die ou Afrika spreekwoord aan te pas:
“’n Hele gemeenskap is nodig om ’n kind groot te maak”.
Internasionale Onderwysdag is ’n gulde geleentheid vir almal om opnuut na te dink oor hoe ons hierdie lewensbelangrike taak kan aanpak.
Deel op
Nuutste artikels