Uit en tuis: ’n e-pos uit Melbourne

12/06/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Cradle-Mountain-scaled

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Marli van der Bijl, wat in Melbourne woon.

Hallo, Marli! Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik en waarom het jy besluit om in Melbourne te gaan woon?

Ek het in De Aar grootgeword en in Bloemfontein studeer. My loopbaan het ook daar begin. Ek het vanaf 2015 eers in Nederland en Griekeland gaan werk en toe later by my man in Perth aangesluit nadat hy in 2016 daar ’n werksaanbod aanvaar het. Ons is in 2020 Melbourne toe. Hy het vir ’n oorplasing na hulle hoofkantoor gevra, en ek kon in Melbourne meer geleenthede najaag in die vermaaklikheidsbedryf.

Hoe het jy die emigrasieproses na Australië ervaar?

Ek was nog altyd beter met groot, halsoorkop besluite as met die kleiner besluite in die lewe. Moenie vir my vra watter burger ek wil eet nie, want ek sal nie kan besluit nie. Vra my egter of ek gou na ’n ander land wil trek en daar gaan ons!

Ek is lekker braaf as ek dit sê; nee, dit is nie so eenvoudig nie. Ek en my man vat die lewe egter soos hy kom, en as ’n geleentheid homself voordoen, sal ons die nuwe avontuur met ’n oop gemoed aanpak.

In 2016 was ons albei op ’n punt in ons loopbane waar ons reg was vir verandering. Ons was nog nie aan ’n plek vasgegroei nie. Nie een van ons het al skilderye of foto’s teen ’n muur gehang nie; niks het permanent gevoel nie. Ek het toe alreeds in die buiteland begin vlerke sprei en daar was ’n beter geleentheid vir my man waar sy visum deur die werkgewer geborg kon word.

Dit het reg gevoel en ons het geglo in ons vermoë om aan te pas waar ons geplant word. Ons besef hoe gelukkig ons is en dat nie almal se proses soos ons s’n is/was nie.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Die tydsverskil. Om my naam en van te verengels, nie meer in rande te dink nie, weg te wees van jou mense. Om basies niemand te ken nie en oor te moet begin in ’n ander taal.

En op ’n ligter noot – English Breakfast is die gekose swart tee van Australië, in plaas van ons geliefde Five Roses Ceylon-tee. Maar ons kry gelukkig nog ons Five Roses by Suid-Afrikaanse winkels hier. Dit is altyd op die lys.

Gepraat van Suid-Afrikaanse produkte, is daar enige ander Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun? Is daar enige professionele diensverskaffers (byvoorbeeld dokters, prokureurs en tandartse) waar jy woon wat jou in Afrikaans kan help?

The South African Shop in Templestowe. Soms ook Tony’s Quality Meat in Moorabbin. Hier is ’n Nando’s naby ons waar ons al geëet het – ek weet egter nie of die eienaars Suid-Afrikaans is nie.

In Perth het ek ’n dr. Theron gehad wat my in Afrikaans gehelp het.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika?

Jy weet daardie “village” waarvan mense praat? As jy gelukkig is, soos ons, is jou familie jou eerste, outomatiese ondersteuningsbasis. Dan is daar die vriendskappe waaraan ’n mens lank bou. Om daardie onmiddellike gemeenskap te verloor is baie moeilik. Hier moet jy jou “village” van voor af bou; dit is nie ’n gegewe nie. Dit vat tyd en is dikwels in ’n ander taal. Maar ons het al wonderlike vriende ontmoet om ’n pleister te plak oor die gat wat maar altyd daar sal wees.

Ek mis my gesin. Ek mis die geleentheid om ’n ordentlike tannie vir my boetie se kinders te wees terwyl hulle klein is. En ek mis die Karoo. Ons rits soms rond of kamp om weer daardie stilte en eenvoud te vind.

My gunstelingherinnering? Die laggende koer van die rooiborsduif (klink my hulle is hier in Wes-Australië te vinde nadat hulle in die 1890’s uit die Perth Dieretuin ontsnap het). Familievakansies, en ek mis die hadedas, hier sien ek net “bin chickens” (die wit ibis).

Jy het drama en teaterkuns studeer en daarby klassieke sang as vak. Jou loopbaan het begin in teater, maar jy het sedertdien vele rolle gehad in kortfilms, teaterproduksies, advertensies en natuurlik ook ’n rol in 7de Laan. Vertel ons meer oor jou indrukwekkende loopbaan in die uitvoerende kunste.

Baie dankie! Ek moet soms my loopbaan vanuit ander mense se oë sien, want ek trap dikwels in die gat om só te fokus op wat daar nog te bereik is en nie te reflekteer oor wat alreeds op my pad gekom het nie. So, ek waardeer dit baie.

Ek is nou al meer as tien jaar aan die gang in die uitvoerende kunste nadat ek in 2012 my honneursgraad in Drama en Teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het. Ek het daar ook klassieke sangopleiding ontvang by Petrus van Heerden deur die Odeion School of Music. In 2018 het ek my meestersgraad ook deur die UVS Dramadepartement voltooi.

7de Laan was my TV-debuut in 2017. Ek het vir 13 episodes in die laan gekuier as Maryke Pretorius, Karmen se au pair. Mense wat 7de Laan gevolg het, sal dalk nie baie lief wees vir my karakter nie, want sy was deels verantwoordelik vir Karmen se ontvoering tydens die sepie se 4 000ste episode.

Voor 7de Laan was ek meestal op die verhoog te sien, veral tydens kunstefeeste en by PACOFS in Bloemfontein. PACOFS-produksies sluit in My Children, My Africa en Madonna of Excelsior. Groot feeshoogtepunte is die klassieke (eens omstrede) Bartho Smit-dramas, Christine (2016) en Putsonderwater (2012), albei met Pieter Venter as regisseur. In laasgenoemde het ek die rol van Maria vertolk en is ek, Pieter en Johann Nel in 2013 vir Fiësta-toekennings benoem. Ek was genomineer vir Beste Aktrise en Beste Opkomende Kunstenaar. Die hele ervaring sal ek nooit vergeet nie. My eerste keer in ’n vliegtuig was vir die voorafonderhoude van die Fiëstas.

Min het ek geweet dat vlieg later so ’n deel van my/ons lewe sou word. In 2015 is ek vir tien maande Nederland toe en het vir ses maande daar gewerk, hoofsaaklik as “company manager” vir Spijt De Musical (Homemade Productions) wat deur die land getoer het. In 2017, is ek Corfu, Griekeland, toe om te sing in die trio-vertoning, Viva Las Divas (Remarc International). Daarna is ek Australië toe.

Ek het van 2018 tot 2019 in Perth in ’n paar Gilbert and Sullivan-operettas hoofrolle vertolk, wat baie pret was. En in 2019 was ek gelukkig om Cosette in Les Misérables te kon speel en ’n Robert Finley-toekenning as Beste Vroulike Byspeler in ’n musiekblyspel daarvoor te ontvang.

Sedert ons in Melbourne bly, is ek sover hoofsaaklik met werk op die skerm besig, insluitend ’n paar kortfilms en advertensies. Ek probeer ook nog in die teater optree, maar dit is nie altyd maklik om die tyd te kry nie omdat ek ook nou voltyds werk (meer hieroor later).

Ek is baie dankbaar vir hierdie groot mylpale waarna baie kunstenaars streef. Daar is egter ook kleinskaalse projekte wat vir my ewe belangrik, of selfs meer belangrik, voel. Dit is hoogtepunte omdat dit persoonlike oorwinnings was of iets is waarop ek ontsettend trots is.

So kon ek, byvoorbeeld, in 2014 Ophelia in Hamlet vertolk in Bloemfontein, ’n rol wat ek nog altyd wou speel. ERA was ’n dansteaterproduksie by die 2016 Vrystaat Kunstefees en Cape Town Fringe wat my uit my gemaksone geneem het en die geleentheid gegee het om ’n monoloog uit te voer wat ek geskryf het.

Melbourne se inperkings was ’n baie skeppende tydperk in my lewe. Ek het die moed bymekaargeskraap om my LEGO® stop motion-video oor Vincent van Gogh te deel. Dit is deur die Van Gogh Museum op hulle sosiale media geplaas en deur mense regoor die wêreld gesien. 

Ons gedramatiseerde oudioboeke vir Ballarat National Theatre is ook regoor die wêreld na geluister. In Pride and Prejudice was ek deel van die produksiespan en het ek my stem aan Caroline Bingley verleen. Vir Peter Pan in 2021 was ek een van die regisseurs, musikale regisseur, en af en toe komponis. Ek is steeds onbeskryflik trots op hierdie produksie.

In meer onlangse nuus is my eerste enkelsnit, “Leaves”, op 29 Mei vanjaar uitgereik. Dit is ’n groot persoonlike mylpaal omdat ek al baie lank amptelik ’n lied uit my eie pen wou vrystel.

Laastens is Die Waarheid oor Duiwe, ’n musiekproduksie waarmee ek en Karien Jordaan al sedert 2021 besig is, ongetwyfeld die hoogtepunt van my Melbourne-teaterloopbaan sover.

Jy is amper op pad Suid-Afrika toe om hierdie toneelstuk daar op te voer. Vertel ons meer.

Ons is baie opgewonde om Die Waarheid oor Duiwe by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein te gaan opvoer. Ons vertonings is 4 tot 6 Julie in die Naval Hill Planetarium.

Dié Afrikaanse produksie is in Australië geskep en was al drie keer hier op die verhoog. Dit is ’n intieme musiekproduksie vir klavier, stem en fluit, aangebied deur drie vroue. Ek het die voorreg om my stem aan hierdie pragtige werk te verleen.

Karien Jordaan, ook ’n oud-Bloemfonteiner, nou woonagtig in Warrnambool, is die meesterbrein hieragter. Sy wou haar digter-vriendin, wyle Gisela Ullyatt, se woorde vlerke gee deur haar gedigte te toonset. Gisela se gelyknamige debuutbundel is kort voor haar dood deur Protea Boekhuis gepubliseer. Sy is in 2020 aan borskanker oorlede.

Die digkuns wat sy agtergelaat het, is so veelseggend in sy eenvoud. Dis universeel, treffend en met tye humoristies. Karien se musiek oorskadu nie Gisela se woorde nie; dit komplementeer en versterk dit.

Buiten die nege liedere, word van Gisela se gedigte ook voorgedra. Karien speel die klavier en plaaslike fluitspeler, Marie Anderson, voltooi die trio.

Vertel ons ’n bietjie meer oor julle werk, en hoe die werkkultuur in Australië verskil van dié in Suid-Afrika.

Ek het in 2022 voltyds begin werk vir The Brickman, onder leiding van Ryan McNaught, ’n LEGO® Certified Professional. Saffas in Australië of elders sal hom dalk herken van LEGO Masters Australia. Ons bou groot LEGO-modelle vir verskeie LEGO-winkels en -uitstallings regoor die wêreld. Uitstallings sluit tans in Jurassic World (Australië en Europa), Bricktionary (Ierland en VSA) en Curiosity (Australië). Volgende jaar sal ons ook die wêreld se eerste amptelike LEGO Star Wars Exhibition loods.   

My man werk as projekbestuurder en tegnikus vir ’n videomaatskappy wat LED-skerms en videotoerusting aan grootskaalse musiekkonserte, TV-programme en sportbyeenkomste verskaf.

Ons sien ’n verskil in die strengheid van reëls en regulasies hier in vergelyking met Suid-Afrika, hetsy dit oor werkveiligheid of die regverdige behandeling (en betaling) van werknemers gaan. Dit voel soms oordadig, maar die werker word ook so beskerm, ons inkluis. Arbeid is duur hier. Australiërs blyk ’n gesonder balans tussen werk- en huislewe te handhaaf. Suid-Afrikaners is baie hardwerkend en alhoewel dit vir my ’n baie mooi eienskap is, is ek ook nou daarvan bewus dat dit nie ten koste van jou sosiale of familielewe hoef te wees nie.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Australië. Kom julle soms bymekaar?

Dit is altyd lekker om mede-Suid-Afrikaners raak te loop. Daar is ’n ongesproke gedeelde ervaring wat ons op ’n onverklaarbare wyse alreeds bind. Dis ’n “verstaan” wat iemand van ’n ander land nie verstaan nie. Ek glo dit is so vir landgenote van enige herkoms.

Ons probeer by Suid-Afrikaanse vriende uitkom waarmee ons intussen bande opgebou het. Ons is wel ook baie gelukkig om pragtige Australiese, Nederlandse en anderlandse vriende te hê.

Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Wat beteken jou kultuur en erfenis vir jou?

Ja, ek en my man praat Afrikaans in die huis. Selfs al praat ons van kleins af Engels en word ons ons lewe lank al aan Engels blootgestel, is dit steeds asof die siel in Afrikaans dink. Ek wens soms my Australiese vriende kon my in Afrikaans ken; ek dink ek druk myself die maklikste uit in my moedertaal en daar is ’n stukkie van my wat dalk altyd vir hulle verborge sal bly.

Daar is ’n deel van my wat altyd Suid-Afrikaans sal bly. Dit is die land wat my gevorm het. Ek sien myself egter as ’n aanpasbare, groeiende wese en skop nie vas daarteen om verryk te word deur my nuwe omgewing en die uiteenlopende mense wat ek elke dag teëkom nie.

Hoe gereeld sien julle familie mekaar? Hoe hou julle kontak met geliefdes in Suid-Afrika?

Ons probeer een keer ’n jaar bymekaar uitkom. Ons albei se ouers was laas jaar by ons in Melbourne, en hierdie jaar se Vrystaat Kunstefees is ’n vinnige bonuskuiertjie.

Sondag is beldag, dan gesels ons met albei ouerpare in video- of stemoproepe.

Die verskillende tydsones maak dit moeilik. ’n Mens begin soms ’n boodskap tik net om te besef dis 03:00 die oggend by hulle, dit dan te los en te vergeet om later weer te probeer.

Met ons broers en uitgebreide familie is dit soms moeiliker, maar ons wil beter raak daarmee – dis so belangrik om tyd te maak vir mekaar. Vir die oumas stuur ons stemboodskappe en beplan om hulle in Junie ook te besoek.

Watter interessanthede het jy ontdek van Australië wat jy nie vantevore geweet het nie?

Ek dink nie mense besef hoe multikultureel Australië is nie – ek was self aangenaam verras. Dit laat my as inkomeling ook tuis voel. Dit is ook verbysterend hoe groot die land is, en dat dit ’n kleiner populasie het as wat ’n mens verwag.

Ek is mal oor die “opshop”-kultuur hier (in Nederland noem hulle dit baie treffend ’n tweedekanswinkel). Daar is soveel tweedehandse winkels met fantastiese vondse dat ek deesdae baie selde nuut koop.

Ek is salig onbewus daarvan dat ’n mens hier die suidelike eweknie van die Aurora Borealis (noorderligte) kan sien – die Aurora Australis. Dit is seker nie so skouspelagtig soos in die Noorde nie, maar ons kon ’n pragtige ligvertoning in Mei sien.

Al die buideldiere is te kostelik. En dan die Pink Robin (voëltjie) – my jaar was gemaak toe ons vir die eerste keer een in Tasmania gesien het.

Enige lesse wat julle geleer het?

Mense is mense, waar ook al hulle in die wêreld is. Al wat verskil, is ons stories.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels