Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?

19/06/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
jose-mizrahi-E0-Ob9KriGs-unsplash-scaled

Wanneer mens na ’n nuwe land verhuis, is daar altyd ’n gevoel van nuuskierigheid en verwondering. Die plekke, mense en gebruike is dikwels heeltemal anders as wat ons gewoond is. Selfs al het ons jare lank in ’n spesifieke plek gewoon, is daar altyd iets nuuts om te ontdek.

Ons het vir ons AfriForum Wêreldwyd-vriende gevra watter interessanthede hulle ontdek het van die land waar hulle woon wat hulle nie vantevore geweet het nie. Hulle het hul ervarings met ons gedeel.

Asië

Die nasionale sport, kok boru, kan opgesom word as polo met ’n skaapkarkas. Die mense is ook mal oor perdevleis, perdemelk en ’n uitgedroogde perdemelkpeuselhappie, kurut. – Carmen Prinsloo Ebersohn wat in Bishkek, Kirgistan woon.

Dit is teen die wet om nie onderklere te dra in Thailand nie. Hoe hulle kyk weet ek nie. – Riaan Beylefeld wat in Thailand woon.

Australië

Australië is massief. Daar is vele dialekte van Engels, en Australiese Engels is nie VSA of Britse Engels nie.

Elke dorpie in Australië het begin met ’n kerk, ’n botaniese tuin, ’n biblioteek en bakkery. Vleispastei is ’n Aussie-ding en die status van ’n dorpie kan baie keer getakseer word op die gehalte van sy bakkery se vleispasteie en worsrolle. Elke dorpie se bakkery het al iewers ’n prys vir sy gebak gewen.

Parkering is vreeslik duur en jy moet self sien kom klaar om parkering te reël as jy verkies om met jou motor te pendel. Gelukkig is daar uitstekende openbare vervoer (treine en busse) en mens kom baie maklik oor die weg sonder dat jy jou motor hoef te gebruik. – Christina du Toit wat in Melbourne woon.

’n Gratis vrag kompos vir jou tuin per jaar. Indien jy van groot huishoudelike toestelle, bv. wasmasjiene wil ontslae raak, word dit gratis vir jou weggeneem.

Die Aussies gee graag byname en dis ’n teken van goedgesindheid en aanvaarding.

Dit neem ’n vyf ure vlug om van Perth tot Sydney te reis met drie ure tydsverskil. – Gerda Scholtz wat in Perth woon.

Bahrein

Die koninkryk van Bahrein bestaan uit 33 klein eilande met ’n totale oppervlak van ongeveer 760 vierkante kilometer, wat tydens die Bronstydperk die tuiste was van die Dilmun-mense. Die Christengeloof was ongeveer drie eeue ná Christus al prominent, nog voor die vroeë jare van Islam. Vroueregte in Bahrein is al op die voorgrond van die vroeë 2000’s af, anders as in baie ander Midde-Oosterse lande. Die eerste Formule 1 Grand Prix skop elke jaar in Bahrein af en lok derduisende toeskouers van oraloor die wêreld. Die interessantste feit is die Boom van Lewe. Daar word beweer dat die boom in die 1500’s in die suidelike woestyn van Bahrein geplant is. Die boom staan nog steeds in al sy glorie en is lowergroen, sonder ’n enkele sigbare bron van water. Dit word as een van Bahrein se grootste geheimenisse beskou. – Gerda Fourie wat in Bahrein woon.

België

Ek het nie geweet hier is so baie bosse nie en dat hier wilde diere vry rondloop nie. Iemand het my regtig al gevra of die leeus en die diere daar by ons (in Suid-Afrika) so vry rondloop, toe moes ek dink aan die wilde varkies hier agter my huis in die bos.

Ek sien hier baie wilde diere vanuit my tuin. Ek woon agter ’n natuurgebied. Hier is baie goed wat my laat dink aan my jong kinderdae in Suid-Afrika. Soos die roomyskarretjies wat verby jou huis ry en die weeklikse markte. Die kermis, die buiteparkies vir kinders en openbare swembaddens. – Lalita Buchler 

Denemarke

Stokbrood kom van Denemarke. Hulle noem dit “snobrød”. Dene hou van vuur maak en kos buite op die vuur maak. Hulle hou ook daarvan om kaalvoet te loop. – Peter Jan Randewijk

Duitsland

Dit was verrassend dat winkels toe is op ’n Sondag in ’n industriële land soos Duitsland. Dit was ook vir my wonderlik om uit te vind dat mens hier ’n jaar ouerskapverlof kan neem ná die geboorte van jou kind, en dat die regering jou betaal om by die huis te bly om jou eie kind op te pas. Die Duitsers het ’n snaakse liefde vir homeopatie wat ek nog nêrens anders gesien het nie, en hulle is bang vir oop vensters want hulle glo dat ’n trekkie deur die huis jou siek gaan maak.Marli Strydom wat in Darmstadt, Duitsland woon.

Dat jy hier stap, maak nie saak hoe die weer lyk nie. Die Duitsers sê graag jy’s nie van suiker gemaak nie; jy smelt nie so maklik nie. Hulle sê ook daar is nie iets soos slegte weer nie, net verkeerde klere. Ons skaf so stuk-stuk die regte klere aan.

Die Duitsers is erg oor herwinning. Orals is daar houers vir glas- en klereherwinning. Hier is selfs asblikke vir bio-afval. Dit pas my soos ’n handskoen. Jolene Harley wat in Erlangen in Bavaria woon.

Engeland

Die Britte weet hoe om fees te vier en groot geleenthede te organiseer. Een van die groot sondes teen die Britse mensdom is om in ’n ry in te druk. Ek mis glad nie die rye by Binnelandse Sake in Suid-Afrika nie. Die Britse queues is so georden en almal wag geduldig hul beurt af. Dorette Vermeulen wat in Londen woon.

Kleiner dorpies se mense is baie vriendeliker as dié in die groter stede.

Karre word meestal in die straat geparkeer en dit is veilig om dit oornag daar te los, daar is geen heinings of hoë mure nie.

Vlugte na Europese lande is baie bekostigbaar, ’n mens kan vir ’n naweek Parys toe vlieg vir ’n appel en ’n ei. – Charné Pereira

Ierland

Daar is baie om hier te noem, en ons leer elke dag nog. Die Iere het baie pittige sêgoed, byvoorbeeld: “It’s grand.” (Alles reg.), “Good craic.” (Goeie tye.), “It’s gass/class.” (Dis goed.) ’n Mens leer maar heeltyd nuwe goed van hulle. Hulle het 32 graafskappe (counties) wat soos ons provinsies is, en mense is baie trots op waar hulle vandaan kom. Die Ierse aksent is baie mooi en verskil ook soos ’n mens in die land rondbeweeg. Jy leer maar gedurig nuwe goed oor hulle en sien die ooreenkomste en verskille met Suid-Afrikaners. Dis net wanneer jy elke dag tussen die Iere lewe dat jy al hierdie goed kan sien. ’n Kort vakansie is nie genoeg tyd om werklik die mense te ervaar en te waardeer nie. Ons moet erken dat die Iere baie innemend en vriendelik is. En omdat Suid-Afrikaners met so ’n mooi aksent Engels praat, vind ons baie goed aanklank by hulle. Ons hoor gereeld: “You South Africans have a great accent!” en dan begin hulle praat oor rugby en daar gaan ons … Gerhard van Eeden

Daar is ’n Boereoorlogmonument in Dublin.

Die GAA (Gaelic Athletic Association) -klub in ons area was eers De Wets genoem, vernoem na die Boereheld. Dis nou Lahorna. Mense van die omgewing het my vinnig ingelig oor die brokkie inligting.

Parallelle kan tot ’n mate getrek word tussen die Boere en die Iere en die verhouding met Engeland. Die gevoel is amper dieselfde.

Ierse hokkie (Engels: hurling) is groter as rugby in Ierland. Dis hulle nasionale sport. Aan die begin het ek gedink dis vreemd, die klomp wat met sulke reuse “paplepels” of dan hurleys rondhardloop en ’n balletjie rondslaan. Dis amper asof daar geen reëls is nie. Dis ’n baie rowwe en vinnige spel. Daar is telkens bloed betrokke. As jy hurling speel of ondersteun, of saam met hulle opgewonde raak daaroor, dan word jy aanvaar in die gemeenskap. – Tanja du Plessis wat in Nenagh woon.

Foto: Adrian Payne/ Unsplash

Kanada

Newfoundland and Labrador het sy eie tydsone. In die somer, vier en ’n half uur agter Suid-Afrikaanse tyd, in die winter en dagligbeparing, vyf en ’n half uur agter Suid-Afrikaanse tyd.

Alhoewel Kanada se twee hooftale Engels en Frans is, is Newfoundland ook ryk aan Ierse geskiedenis.

Die eiland dra ook die grootste populasie walvisse in Noord-Amerika, asook die meeste voëlspesies, insluitend die Atlantiese papegaaiduikers! – Ladine Britz

Die belasting in sekere provinsies is regtig baie hoog, en inwoners betaal meer as een soort belasting.

Al is dit baie koud, sneeu dit nie noodwendig nie. – Magdel Jansen van Vuuren

Nederland

Dat tulpe nie oorspronklik aan Nederland is nie, maar wel gedurende die Ottoman-tydperk ingebring is. Tulpe kom oorspronklik uit Iran. Die woord tulp verwys na die tulbande wat meestal deur mans gedra was. – Nan Earle

Dit het ons verbaas hoe innoverend hulle landbou is en hoe baie op klein stukkies grond verrig kan word. Nederlanders volg ook graag die reëls, en dit was opvallend maar ook lekker. – Natasha Viljoen

Selfs die hoogste gesag ry met fietse na die parlement en word nie deur blouligbendes vervoer nie.

Die koning is soos ’n gewone burger en probeer hom met almal vereenselwig. – Deon du Plessis

Nederland is die rede waarom wortels oranje is.

Tuisgeboortes is nog steeds baie gewild in Nederland.

In Nederland vier hulle elke jaar die koning se verjaarsdag deur fees te hou en oranje klere aan te trek.

Nederlanders vloek met siektes as hulle iemand uitskel. – Charlise Steenkamp

Swede

Om in Swede te woon en werk, het my verskriklik baie geleer en ek leer eintlik maar nog elke dag iets nuuts. Swede het ’n groot invloed gehad op Suid-Afrika waarvan baie mense nie bewus is nie, soos dat ’n Sweedse man genaamd Anders Ohlsson ’n groot rol gespeel het in die brouersbedryf in Suid-Afrika. Babas word in die winter in hul stootwaentjies op die stoepe gelos om te slaap, blykbaar oor daar geglo word hul slaap beter en word minder deur verkoues en ander siektes geaffekteer. Die noorderligte kan tot in Stockholm gesien word en dis iets wat skielik voorkom en binne ’n paar minute weer kan verdwyn. Ek was ook verras oor hoe min mense hier rook, net om uit te vind hul “snus” (pruim – kou tabak). – Lize-Mari Vermaak

Suid-Amerika

In Paraguay gebruik jy dieselfde soengeluid vir ’n hond om weg te gaan as wat jy in Suid-Afrika sou gebruik om ’n hond nader te roep. Dit is ook ’n gebruik om nie aan iemand se deur te klop nie. Jy stop net ’n paar treë weg van die voordeur af en klap jou hande drie of vier keer, wag, en klap weer as niemand kom nie. – Luzelle van Rensburg

Switserland

Glarus-kanton is baie interessant. Dis die enigste kanton waar mense nog stem deur hulle hande op te steek. Almal kom by die plaaslike stemlokaal bymekaar en steek hul hande op sodat daar getel kan word wat die meerderheid stem is. Dis nogal vreemd.

Op 16 mag tieners alkohol begin drink, maar net wyn of bier, niks sterker as dit nie.

Jy betaal belasting op alles. Switserland se belastingmaand is Januarie. Dan moet jy jou TV-lisensie ook betaal en dis nogal heelwat meer as wat ons in Suid-Afrika betaal het. En als kom in die pos, jou belastingaanslag ook. Jy betaal dit alles met jou dertiende tjek, en as jy nie ’n dertiende tjek kry nie, moet jy elke maand spaar sodat jy jou belasting kan betaal.

Almal moet aan ’n mediese fonds behoort. Die eerste dag wat jy jou by jou munisipale kantoor aanmeld, moet jy reeds deel wees van ’n mediese fonds. Dit is verpligtend.

In Switserland het jy ’n staatspensioen waarvoor ’n bedrag elke maand van jou salaris afgetrek word. Dit soos ’n SASSA-toelaag wat eendag uitbetaal, maar dit is baie meer as wat SASSA betaal. Jy kan in ’n goedkoper land daarmee aftree, maar nie in Switserland nie; hier is alles te duur. Dan is daar ook pensioenfondse waartoe die werkgewer of die werknemer self maandeliks kan bydra soos in Suid-Afrika.

Elke dorpie het staproetes. Jy kan regtig van enige dorp af sommer net na die volgende dorp stap of lekker in die berg of met ’n staproete stap. Dalene Berger wat in Zürich woon.

VSA

Florida het die langste kuslyn van die hele VSA.

Florida het omtrent 8 000 mere.

Die wêreld se eerste geskeduleerde passasiersvlug het in Florida plaasgevind. – Nicolene Coetzee

Gesels saam

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?

Foto: Jose Mizrahi/ Unsplash

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels