Uit en tuis met Wêreldwyd: Henry Merrick – Die lewe in Nieu-Seeland

17/10/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Fietsry

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Henry Merrick wat in Nieu-Seeland woon.

Hallo, Henry. Kan jy ons meer vertel oor jou gesin?

Ek en Sonja het vyf kinders. Ashley,(28) ons oudste dogter woon in Polokwane met haar man en twee kinders; Henry (25), Ruan (21), Zandré (16) en Lienke, my prinsessie (7) – die laaste vier kinders woon saam met ons in Nieu-Seeland. Ons woon tans in Maraetai, die plekkie is geleë in die ooste van Auckland. Ons woon nou hier vir amper vier jaar en het verlief geraak op die pragskone plekkie, net so ’n uur se ry na die middestad. Ons twee oudste seuns het meer as ’n jaar terug aangesluit by ons en dit was vinnig toe het hulle werk gekry en dit het ’n daadwerklike verskil begin maak in hul lewens. Inteendeel, my 16-jarige seun doen deeltyds werk en hy het al sy eie motor gekoop. In Nieu-Seeland kan jy jou leerlingbestuurderslisensie kry op 16. Die geleenthede hier is net soveel meer en die uitdagings soveel minder. As jy bereid is om hard te werk en onder te begin, is Nieu-Seeland net die plek vir jou. Om nie eens te praat van die pragskone eiland waarop ons nou woon nie, ons uitsig op die see elke dag is om soos in ’n droom te leef, die beste ooit. Ons is baie gelukkig hier – ons oudste seun Henry se meisie Talisa het ook by ons aangesluit en sy werk ook nou en is besig met haar verblyfproses.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Ek het geland in Auckland en ek het uiteraard al ons duur motors verkoop in Suid-Afrika. Ek het altyd gesê dat ek sommer net ’n ryding wil hê hier in Nieu-Seeland en ek gee nie regtig om nie, maar magtig, was dit ’n skok vir my. Ek het ’n ou Nissan Tiida gekoop vanuit Suid-Afrika en die motor gekry by die lughawe. Ek het eers gedink die motor het iewers van ’n trein af geval – vol krappe, duike en besonders vuil. Op pad na my verblyfplekkie het ek myself die vraag afgevra, “Henry, wat het jy gedoen?!” Ek het vir die eerste maand by twee fantastiese Suid-Afrikaners gebly in Brownsbay, Lindsey en Mike, en terselfdertyd uitgevind dat Brownsbay ’n klein Suid-Afrika is, met so baie Suid-Afrikaners wat daar woon.

Ek het die heeltyd geldeenhede omgeskakel en wou letterlik niks koop nie, want die pryse is belaglik. Hoe is dit moontlik om R80 te betaal vir ’n koppie koffie? Dit was vir my vreemd om gewoond te raak aan die feit dat sisteme en alles net werk hier, die krag bly die heeltyd aan, om aansoek te doen vir ’n bestuurderslisensie is so maklik. Dit was ook vir my moeilik in die begin om aan die kos gewoond te raak, want waar is my Steers, Wimpy en Spur? Ek het veral ook gesukkel met die vleis in die begin, die smaak het vir my soos wild geproe. Nou, ná meer as drie jaar, proe alles lekker en beter as vantevore.

Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir julle kinders? Van watse Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?

Absoluut, Afrikaans sal altyd ons taal bly! Ons sewejarige prinsessie aan die ander kant is nou ’n “Soutie”, sy verstaan Afrikaans maar het dit verleer en ons wou dit nie moeiliker maak vir haar in haar nuwe skool nie. Sy is ’n klein “Kiwi” in murg en been. Ons volg steeds Suid-Afrika se nuus en hou by tradisies soos Nasionale Braaidag, ens. Ons het in die begin ingeskakel om Binnelanders te kyk asook Boer soek ’n vrou, maar het vinnig agtergekom dat ons dit nie werklik meer geniet nie, seker omdat daar nou ’n afstand is tussen ons en Suid-Afrika. Moenie ’n fout maak nie, ons sal altyd Suid-Afrikaners bly en in ons werksplekke word Suid-Afrikaners hoog geag. Almal sien ons as lojaal, hardwerkend en mense met goeie waardes en beginsels. Waar ek werk hou ons soms vergaderings in Afrikaans, so baie van ons is hier.

Hoe het jy die emigrasieproses na Nieu-Seeland ervaar?

Dit was glad nie maklik nie, die moeilikste proses ooit wat ons deurgemaak het – baie trane, baie geld, baie opofferings, baie hartseer, baie geloofstoetse, en die lysie gaan aan. Om al jou familie en vriende agter te laat is moeilik. Die wete dat jy dalk van hulle nooit, ooit weer gaan sien nie, vreet aan ’n mens, in die begin omtrent elke dag. Ons het gewoond geraak hieraan en besef dat almal se lewens aangaan en dat ons lewens hier in Nieu-Seeland ook moet aangaan.

Ek het in Nieu-Seeland aangekom ’n maand voordat Covid ons hard geslaan het. Sonja en die kinders het hier aangekom en drie dae later het Nieu-Seeland hulle grense gesluit. Ons het geen meubels gehad vir ses maande nie, ons houer was op ’n skip en Covid het ook nie gehelp nie. Dit was ’n groot aanpassing om TV te kyk op kampstoele en ons het gou besef dat ’n mens eintlik nie baie besittings nodig het om oor die weg te kom nie. Vandag kyk ons terug en lag ons daaroor, maar dit was glad nie maklik nie.

Hoe verskil die skoolsisteem in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?

  • Dit is baie anders hier. Daar is baie minder druk op kinders om tonne huiswerk te doen ná skool en hulle is baie meer interaktief. Die kinders het al van sewejarige ouderdom af hul eie skootrekenaars en gebruik dit daagliks gedurende klas. Hulle doen baie meer praktiese oefeninge en daar word fokus geplaas op individue en persoonlike aandag.
  • Sport en aktiwiteite is ook anders hier en die fokus op atletiek byvoorbeeld nie so groot nie, alhoewel hulle baie ander sportsoorte hier het. Hulle hou ook baie van uitstappies en aktiwiteite buite in die natuur.
  • Daar is ook nie skoolgeld wat betaal moet word nie, hulle noem dit “donasies”. Die bedrag is ook redelik en ons betaal dit met ’n glimlag.
  • Die programme is ook totaal en al verskillend, maar ons kinders het vinnig aangepas en albei geniet die skole hier terdeë. Moenie ’n fout maak nie, ek dink Suid-Afrika het steeds baie goeie skole met puik waardes en beginsels.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?

Ons kan nie wegbly van Suid-Afrikaanse winkels hier nie en hier waar ons bly is ’n paar naby ons. Om Suid-Afrikaanse produkte te sien op rakke in gewone winkels is glad nie snaaks nie. Aan die begin het ons onsself vergryp daaraan, maar deesdae gebruik ons maar al die produkte wat vir ons beskikbaar is. Suid-Afrika se speserye, souse en sommige produkte soos All Gold Tamatiesous bly maar wenners. Daar is baie Suid-Afrikaanse byeenkomste, kampe en partytjies regoor Nieu-Seeland en baie gebruik die kans om bietjie van Suid-Afrika te herleef. Ons koop ook ons braaivleis en biltong by ons naaste SA Shop in Howick. Braai – dié sal ons nooit ophou doen nie, en ja, ons gebruik kole en nie gas nie.

Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika?

Suid-Afrika is ’n pragtige land met net die beste, sommige leef in weelde en kommerloos, ander sukkel en verduur maar die pyn en smart wat daarmee gepaard gaan. Die verskillende topografieë is iets wat ek mis, van die Krugerwildtuin, droë Kalahari, warm Kimberley, pragskone Drakensberge, KZN, Kaapstad en besonderse pragtige Weskus – dit alles kry ’n mens net in Suid-Afrika, daar is net nie ’n ander plek soos dit nie. Suid-Afrika en die mense was goed vir ons, maar nou het ons ’n blaadjie omgeslaan waar Nieu-Seeland en hul mense ons verwelkom het en ons weer gelukkig is. Ek wil amper sê dat dit soms voel of Nieu-Seeland vasgevang gebly het in die 1980’s – klein winkels op die straathoeke, ou buurte met huise en geboue met karakter, kinders wat speel in die strate tot laat, almal wat rondloop met hul diere en dit net geniet om buite te wees. O ja – die Poskantoor werk hier.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Nieu-Seeland het ook sy foute en uitdagings, moenie ’n fout maak nie – ek dink nie daar sal ooit ’n perfekte land wees nie. Maar die belangrikste aspek vir ons is om as familie gelukkig te wees, om ons drome uit te leef, om veilig te voel en om te voel jy maak ’n daadwerklike verskil in die samelewing. Hier in Nieu-Seeland doen ons presies dit, ons maak ’n verskil en ons voel gewaardeerd daarvoor.

Deel op

Nuutste artikels